Algemeen, Politiek -

EFF se Labour desk: Pasop om dié jakkals te voer

Deur PB Roos

Die Economic Freedom Fighters (EFF) steek tans sy kommunistiese neus in waar dit nie hoort nie. Sowat ’n jaar gelede het die EFF ’n inisiatief tot stand gebring wat tans groot steun en aksie by sy lede ontvang, naamlik die EFF Labour Desk, en hulle gebruik hul takke landswyd om dit te organiseer.

Ek glo ons kan almal saamstem dat ’n noodsaaklike instrument tot die sukses van enige onderneming gesonde arbeidsverhoudinge is. Daar word vir goeie redes na werknemers as “mensehulpbronne” verwys en dit is omdat hulle die groei van besighede drasties kan beïnvloed. Dié sienswyse word egter nou bedreig.

Benewens die talle dreigemente waarvoor werkgewers die laaste jaar moes pa staan soos die pandemie, oorregulering, radikale transformasie wetgewing en vele meer is daar egter nou nóg ’n rolspeler wat tot die veld toegetree het en hulle draf in gemak rond met hulle rooi barette – die EFF.

Ons almal is al bekend met die agenda van hierdie politieke party naamlik, kommunisme, nasionalisering, radikale ekonomiese verandering sowel as die oordrag van eienaarskap vanaf die minderheid na die sogenaamde voorheen benadeeldes. Dieselfde verregaande en skadelike beginsels waarop hulle party gestig is word nou egter net so gebruik om hul arbeidsliggaam te bestuur.

Sedert 2020 is dié been van die EFF besig om, soos hul dit sou noem, “troepe” in werkomgewings te mobiliseer en namens werknemers op te tree alhoewel hulle geen seggenskap, of reg binne die werkplek het nie. Soos voorspel is hulle aksies geensins vreedsaam nie en word boelietaktieke gereeld gebruik om werkgewers te dwing om aan hulle vereistes gehoor te gee. Dié “troepe” intimideer, dreig en oorrompel werkgewers. Die nuutste voorval hiervan is ’n kwaadwillige protes by ’n Spar in Bergbron. In hierdie aksie het werknemers en EFF-verteenwoordigers ondermeer saak beskadiging, en onwettige stakingsaksies ontplooi wat veroorsaak het dat die hele sentrum hulle deure moes toemaak.

Ek is van mening dat ons meer en meer van hierdie soort aksies in die komende maande gaan sien en die langtermyn impak hiervan sal werksverliese weens kwaadwillige protesaksies en verlies van inkomste vir besighede inhou. Ons kan nie toelaat dat die radikalisering van werksmagte plaasvind nie. Dit sal skadelik wees vir ondernemings en werknemers, en slegs ’n sosialistiese agenda bevorder.

Ons sit reeds in Suid-Afrika met talle skadelike beleide wat buite- en binnelandse beleggers afskrik, en dít alles in ’n tyd waar ons beleggings die meeste nodig het. Ek wil graag ’n waarskuwing uitreik aan werkgewers om nie met verteenwoordigers van die EFF te onderhandel nie. Ons kan hulle nie toelaat om ’n voet in die deur te kry nie en hulle is buitendien in terme van arbeidswetgewing nie by regte om te onderhandel of aksies binne werkomgewings te loots nie. Die doelwitte van die Labour desk is vir seker om kapitalistiese strukture te verbrokkel en BBBEE op grondvlak, op andersins vreedsame werksomgewings, af te dwing. Ek staaf hierdie opinie met plasings wat hulle op sosiale media maak en dit is nie slegs my eie mening nie.

Ek wil benadruk: Die EFF het nie seggenskap om ’n werkplek namens werknemers te betree nie en daar moenie met hulle onderhandel word nie. Dit kan ’n skadelike president skep. Kontak die polisie indien daar enige oortredings of intimidasie plaasvind.

Die minderheid in Suid-Afrika word van hoek tot kant bedreig. Ons moet egter ons plig nakom en nie mismoedig raak nie. Daar is ’n uitweg en ons sal lig aan die einde van die tonnel gouer as later sien.

  •  
  •  
  •  
Algemene Skrywer Deur Algemene Skrywer


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close