My Werk -

Ek is afgelê – hoe nou gemaak?

Jy kan deesdae nie met sekerheid sê dat jy vir ewig van jou werk verseker is nie, want die ekonomie is onstabiel en talle maatskappye sukkel om hul deure oop te hou. So baie mense word reeds deur afleggingsprosesse geraak, maar hoe gemaak as dit jou die dag tref?

Op die kort termyn gaan afleggings gepaard met baie onsekerheid en bekommernis en op die lange duur kan dit jou emosioneel en geestelik aftakel as jy nie na jouself omsien nie. Studies toon dat wanneer mense afgelê word, die meeste mense dikwels dieselfde emosies ervaar. Dié emosies is soortgelyk aan die tipiese emosies wat 'n persoon by die afsterwe van 'n geliefde ervaar, naamlik ontkenning, gevolg deur woede en frustrasie en aanvaarding wat uiteindelik intree.

Dit is heeltemal normaal as afgelegde werknemers in opstand kom en gevoelens van gegriefdheid teenoor hul werkgewers koester. Hulle worstel met vrae en wonder wat hulle moontlik verkeerd gedoen het. Die eerste stap om die impak van die afleggingsproses te oorkom, is om te besef aflegging is nie jou skuld nie. 'n Aflegging is 'n “geen fout”-ontslag en is gewoonlik weens operasionele of finansiële vereistes van jou werkgewer. Die tweede stap om die onverwagse verandering te oorkom, is om positief te bly. Om afgelê te word beteken nie die einde van jou loopbaan aan nie. Dit skep die geleentheid vir nuwe uitdagings.

Om die aflegging effektief te hanteer is dit belangrik om besig te bly en 'n roetine te behou, hetsy deur ander werk te soek of die beoefening van 'n stokperdjie. Moenie skaam wees oor wat met jou gebeur het nie. Steek jou voelers uit en vertel vir almal wat jy ken dat jy op die uitkyk is vir nuwe werk. Hulle mag dalk net weet van 'n vakante pos of hulle kan jou in gedagte hou vir poste wat in die toekoms mag oopval. Tree in verbinding met ’n betroubare werwingsagentskap en terwyl daar tyd tot jou beskikking is, skerp jou vaardighede op.

Jy sal nie spyt wees as jy by 'n ondersteuningsgroep aansluit nie. Hulle sal jou bystaan en sal kan help om die verandering makliker te hanteer en daarby aan te pas. Lede van so ’n groep, wat self deur aflegging is, kan jou situasie in perspektief plaas en jou moed inpraat wanneer jy dit nodig het.

Jou gesin is jou grootste ondersteuningsbasis. Gesels openlik met hulle. Moenie hulle in die duister hou nie. Verduidelik aan jou gesinslede dat julle as gesin in die stadium lewenskoste moet sny. Jy sal verbaas wees om te sien hoe hulle jou gaan help dink aan maniere om met 'n kleiner inkomste klaar te kom.

 

 

 

 

  •  
  •  
  •  
Wilmarie Brits Deur Wilmarie Brits


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close