Algemeen -

Ek is MOED

Wikiwoordeboek verduidelik die woord “moed” as dapperheid, onverskrokkenheid….

So bevind ek myself onlangs in 'n nuwe werksomgewing en pos – vol moed, want ek weet MOS alles; die lewe het my geleer en ek kan dit met ywer aanpak. Ek het ’n tas vol planne, ervarings, talente en ook kennis.

Vol vertroue beklee ek die nuwe pos, ruk my tas oop en grawe vir die bogenoemde planne, want almal het 'n plan en dit moet uitgevoer word.

En dis dan wanneer die ontnugtering jou tref en jy besef jy weet toe MOS nie alles nie. Ek wil my tas uitpak, maar ewe skielik is hy leeg. Ek verloor moed, want nou moet ek leer.  'n Mens kom op 'n stadium wat leer vir jou soos moeite voel en selfs klink – amper soos 'n werkwoord. Hoe meer ek daaroor dink, hoe meer besef ek daar is 'n woord daarvoor: gemaksone. Nuwe mense, nuwe name, nuwe gewoontes, nuwe afkortings (klink soos kodetaal vir my) en dan splinternuwe werk! Leer, en leer vinnig, want agter raak is nie 'n opsie nie.

Dis nou tyd om te fokus, stil te sit en te luister, luister, observeer, nog te luister en dan te leer. As jy dit nie doen nie, sal die werk jou opeis tot jou battery rooi flikker, en dis dan wanneer jy vir niemand iets beteken nie.

Ek kies om 'n ingesteldheid te hê van: wees leergierig, moenie sit en wag nie. Die gedagte van skuif jou grense kom onmiddellik by my op, en ek besef wanneer jou grense geskuif word, word daar met nuwe kennis geploeg en is alles nie net toevallig, doelloos, relatief en blote konstrukte nie. Want ons is hier om te leer en dit saam te bemeester. Ek het nuwe moed. Ek ís MOED.

Skuiwende grense is besig om my tas te vul en self-verantwoordelikheid van leer raak die hooffokus.

JK Rowling skryf: Ek glo wel dat daar iets magies gebeur as jy 'n goeie boek lees.” Ek wil dit toepas op die gevoel dat wanneer 'n mens iets nuuts leer, móét daar iets magies binne jou gebeur. Volgens die webblad nap.edu word daar gesê dat leer fisies die struktuur van die brein verander.  Hierdie strukturele veranderinge verander die funksionele organisasie van die brein, met ander woorde, leer organiseer en herorganiseer die brein. Hoe kan dit nie 'n magiese gebeurtenis wees nie?!

Soos jy 'n nuwe vaardigheid ontwikkel, sal jy moed en selfvertroue bou. Dit help jou om vrees en angs te ignoreer en gee jou 'n gevoel van bemagtiging.

Die skrywer en filosoof G.K. Chesterton skryf: “Net diegene wat die moed het om teen drake te veg, besef hulle is eintlik net klein akkedissies.”

Hou vol, hou aan en hou moed. Leer. Want jy ís MOED en jy is onverskrokke!

  •  
  •  
  •  
Deur Izelle Palmer Du Preez


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close