Politiek -

Ek is 'n rassis

Hierdie etiket word sommer so, sonder vrae of antwoorde om my nek gehang. Soos 'n seer oog, is ek veronderstel om uit te staan. Sonder teenstribbeling moet ek die woede en haat van elke sogenaamde nierassis aanvaar. Dit is my straf want ek is mós 'n rassis.

 

Mag ek begin deur te noem dat ek myself nie as 'n rassis beskou nie? Mag ek noem dat my konserwatiewe definisie van wat rassisme behels net nie noodwendig inpas by radikale wêreldbewegings of regerings waarvan die hooffokus die bevordering van sekere rasse ten koste van ander is nie?

 

Dis reg, ek word nie as 'n rassis bestempel omdat ek teen 'n ander ras se vooruitgang gekant is of omdat ek met opset 'n ander ras op enige wyse te na kom nie. Ek word as 'n rassis bestempel omdat ek nie my eie regte en vryhede wil opoffer om 'n ander beweging, wat in my oë minder edel is, te bevoordeel nie.

 

Die BLM-beweging is radikaal. Volgens my raak die ANC al hoe meer radikaal. Hulle is behep met ras. Hulle is behep met die verlede – nie om daaruit te leer en dus vooruitgang in die toekoms te bewerkstellig nie, maar eerder om elke moontlike feit te verdraai en uit te buit om die “niks” wat hulle tot dusver bereik het te kan regverdig en om hul kiesers mee te paai.

 

Boonop is hulle magsbehep. Hulle is gierig en gretig om hul hande op elke stukkie “rykdom” te lê en dit dan met drakoniese regulasies en beleide te beheer. Hulle probeer hul bes om alle wetgewing tot so 'n mate te verander dat hulle alleen in beheer staan en die privaat sektor so min as moontlik vryheid het om te kan groei.

 

En al hierdie veranderinge en magsvergrype gaan gepaard met ras – kwotas op die sportveld, verteenwoordiging in die werkplek en nou ook die onderwerping van burgers om voorgeskrewe standpunte op voorgeskrewe wyses uit te voer.

 

Weg is vryheid van spraak. Weg is vryheid van uitdrukking. Weg is vryheid van denke. Waar ons ons nou bevind is in 'n land waar daar vir jou gesê sal word wát jou oortuiging is en hóé jy dit sal uitleef en demonstreer. Doen jy dit nie, is jy jou loopbaan kwyt.

 

Dít kan ek nie aanvaar nie. En my vryheid sal ek nie prysgee nie. Dit is ononderhandelbaar. Ek sal nie toegee aan 'n rassistiese beweging wat sy standpunte op ander afdwing nie. My knieg sal nie buig voor 'n regering wat sy burgers boelie en hul geld steel nie. My vuis sal nie gelig word as gebaar vir voorgeskrewe ideologieë nie.

 

Ek is Johnell van Vollenhoven en ek is vry. Ek sal kies waarvoor ek staan. Ek sal veg vir dít waarin ek glo. Ek is nie 'n rassis nie.

  •  
  •  
  •  
Deur Johnell Van Vollenhoven


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close