Ek het hierdie week weereens iets wonderliks besef: Ons het 'n wonderlike God.
Ek gaan elke weeksdag gewoonlik direk na werk gimnasium toe. Ek het egter besluit om Dinsdagmiddag nie gimnasium toe te gaan nie, aangesien ek moeg was na 'n lang dag se werk.


'n Blok van die huis af, merk ek 'n middeljarige man en vrou langs die pad op wie se motor sonder brandstof gaan staan het. Hulle albei het langs die motor gaan staan, met 'n leë kannetjie, al waggende vir iemand om tot hul redding te kom. 'n Mens kan nie hul armsalige klere en die plooie van swaarkry om hul oë miskyk nie.
Ek gee as 'n reël nie eintlik vir bedelaars geld nie aangesien die kans goed is dat hulle die geld vir drank of dwelms gaan gebruik. Ek skenk eerder geld aan 'n liefdadigheidsorganisasie; sodoende weet ek die kans is skraler dat die geld vermors gaan word. Deesdae kan 'n mens ook nie meer stilhou om iemand te help wat langs die pad 'n probleem het nie aangesien dit net sowel 'n lokval kan wees en mens van jou motor, of nog erger – jou lewe geroof kan word.
Die paartjie is beslis 'n hartseer prentjie. Hulle staan daar, hulpeloos langs die pad met 'n kannetjie terwyl die blink, luukse karre ongeërgd verby hulle jaag. Die man, wat veronderstel is om die trotse voorsiener te wees, is gedwing om sy trots in sy sak te steek ten einde homself en sy gesin uit hul verknorsing te bevry.
Soos al die ander mense, ry ek eers verby en maak asof ek dit nie raakgesien het nie. 'n Paar honderd meter verder sien ek egter in my geestesoog die moedelose, wanhopige paartjie wat sonder 'n sent in hul sakke, hulpeloos langs die pad staan.
Iets binne my sê vir my dat ek moet omdraai en hierdie mense moet help. Wat as die Here my gestuur het om hierdie mense te help en ek ignoreer dit eenvoudig? Wat as ek sowaar hulle enigste redding is?
Ek ry stadig oor die klipperige sand en hou so paar meter van die paartjie af stil. Die man sien my raak, en kom nader gestap. “Goeie middag meneer, ek sien julle het brandstof nodig. Kan ek julle help?” vra ek. “Ja, asseblief maar ons het nie enige geld nie. Ons kom nou juis van 'n werksonderhoud af. Ek moet my vrou en kleintjie by die huis kry,” sê die man terwyl hy skamerig sy kop sak.
Ek bied aan om die kannetjie vol brandstof te gaan maak by die naaste vulstasie, wat toevallig net om die draai is. Die man bedank my met groot waardering in sy sagte, blou oë. Aan sy linkerhand sien ek sy trouring blink in die laatmiddag-son. Ek besef weereens dat hierdie man, soos baie ander daarbuite, vir sy vrou en kind se welstand verantwoordelik is maar nie finansieel in staat is nie.
Na 'n paar minute neem ek die vol kannetjie brandstof vir die gestrande paartjie. Hulle staan nogsteeds langs die motor, alleen. Niemand het intussen stilgehou en gevra of hulle hulp nodig het nie. “Baie dankie, nou kan ons darem huis toe gaan,” sê die man toe hy die kannetjie by my neem. Ek knik en groet die man.

Op pad huis toe voel ek skielik 'n gevoel van dankbaarheid oor my spoel. 'n Gevoel van dankbaarheid omdat ek instaat was om die man en vrou te help, maar ook 'n gevoel van dankbaarheid omdat die Here my gekies het om tot iemand anders se redding te kom.
Die hele ervaring het my 'n waardevolle lewensles geleer: Die Here bring mense en gebeurtenisse oor ons pad met 'n spesifieke doel in oog. Elke klein gebeurtenis in ons lewens is 'n legkaartsukkie wat uiteindelik deel uitmaak van 'n groter prentjie. Legkaartstukke maak nie op hul eie sin nie en is nie noodwendig mooi prente op hul eie nie, maar wanneer 'n mens dit saamvoeg vorm dit die pragtigste prente. Eers wanneer dit klaar is, verstaan ons waarom elke legkaartsuk so kosbaar is.
Mag die Here elkeen van julle as legkaartstuk in sy pragtige prent gebruik en mag elke gebeurtenis of persoon wat oor jou pad kom, bydra tot 'n pragtige prent van jou lewe.

 

  •  
  •  
  •  
Deur Inge Strydom


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close