Algemeen, Gemeenskappe -

Ek is 'n wit werker, maar ek is nie alleen nie

Wat die meerderheid nie besef nie, en wat wit werkers moet begin besef, is dat hulle nie op hul eie is nie.

Tydens die SAKP se kongres in 2014 het Blade Nzimande gesê: “… white worker, you are on your own.”

Van so vroeg as 1998 was ek met my wit vel gekonfronteer. My skool was toe al te wit en te Afrikaans vir die destydse LUR vir onderwys. Ná skool het ek toe nog veilig gevoel op die universiteit van my keuse, maar is vroeg al gekonfronteer met my wit vel toe ek ’n spesifieke pos wou beklee. Ek moes met die uitstuur van honderde CV’s telkens hoor ek is te wit – ek, wat op 12-jarige ouderdom in 1994 met die reënboognasie-idee, die nuwe Suid-Afrika en die bekende rugbywêreldbeker deur die nuwe regering vertel is dat almal gelyk is. Dit is vanjaar al 24 jaar later en ek bly nog steeds te wit vir enige pos.

Dit het al die algemene diskoers geword dat wit Suid-Afrikaners, ongelukkig genoeg, 'n morele ongerief vir die meerderheid geword het. Dit word glad nie as rassisme gesien nie; dit is moreel gerieflik vir die swart meerderheid. Ons hoor dit by monde van politieke leiers soos Julius Malema en sommige makkers in mediakringe: Die wit man moet betaal. Die wit man moet in die see ingejaag word. Die wit man is bevoordeel. Die wit man kolonialiseer en die wit man moet doodgemaak word.

Wit werkers mag dalk voel hulle is op hul eie. Hulle word deur slinkse, onderduimse maniere in die staatsdiens uitgewerk. Wit werkers word nie beloon in aandeleskemas nie. Wit werknemers word op universiteit geviktimiseer en verloor openbare verhore. Wit werkgewers moet voldoen aan verskeie rasseregulasies om hul voortbestaan en dié van hul honderde werkers te verseker. Wit werkers sit as’t ware met hul hande in hul hare.

Maar wat die meerderheid nie besef nie, en wat wit werkers moet begin besef, is dat hulle nie op hul eie is nie.

Ek het by Solidariteit begin werk, nie net omdat ek nêrens anders kon regkom nie, maar omdat ek glo aan wat Solidariteit doen om 'n plek aan minderhede te gee, om op te staan vir die minderhede in die land en om te doen wat reg is, al voel dit soms onmoontlik.

Solidariteit se fokus is werk, en dit is daar waar ek 'n netwerk van werk ontdek het en agtergekom het dat die krag in die gemeenskap lê en dat ons mekaar moet help. Ons kan nie wag vir 'n beter regering of 'n ander president nie. Ons moet self vir mekaar begin opstaan; ons moet mekaar help en ondersteun.

Die nuwe fase van Solidariteit is die groter idee van die netwerk van werk, waar elkeen 'n ander een kan help deur middel van beroepsverenigings of gildes. Binne hierdie netwerk kan ons mekaar ondersteun, ontwikkel, om raad vra, ons beroep of professie beskerm, vir ons regte veg en jongmense oplei en in diens neem.

Ek voel tuis by my kerk omdat ek daar tyd met my medegelowiges spandeer. Ek voel tuis by my kinders se skool omdat ons as ouers 'n taal en kultuur daar deel en almal 'n gemeenskaplike belang by die skool het. Ek voel ook tuis by Solidariteit, want hier is ek deel van die gemeenskap van werkendes. En hier kry ek weer daardie helpmekaargevoel en die gevoel van omgee.

Vertrou my, en kom word deel van die netwerk!

 

  • 43
  •  
  •  
  •  
Juran van den Heever Deur Juran van den Heever


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close