Algemeen, Nuus, Politiek -

Ek praat mos die “onderdrukkerstaal”

Francois Redelinghuys

My gebed is Afrikaans. My liefde is Afrikaans. My omgee is Afrikaans. My hart is Afrikaans. Ek is Afrikaans .Maar ek mag dit nie wees nie.

Die sikofante onder ons vertel my dat my taal en kultuur soos die samoerai se harakiri eerder op sy eie swaard moet val. Want Afrikaans hoort nie hier nie. Dit wat ek leef, voel en bid en dit wat ek is, hoort nie hier nie.

My taal is die teiken. Ongeag verskansing in die Grondwet word my taal gebruik as 'n politieke speelbal, iets wat vir eie gewin rondgeslinger word. My taal word op die brandstapel gewerp sodat meer haat jeens haar gekweek word. My taal is mos die “onderdrukkerstaal” en basta, en terwyl my taal gehoon word, word die politici geprys.

Die afgelope week het Afrikaans en haar sprekers weer opnuut die mokerhoue van alle kante moes trotseer kort nadat die konstitusionele hof Afrikaans 'n kishou toegedien het in sy uitspraak oor die taalbeleid by die Universiteit van die Vrystaat.

Verdere mokerhoue het gekom in die vorm van  betogings by die Hoërskool Overvaal nadat die hooggeregshof, in ooreenstemming met die Grondwet, die skool se Afrikaanse taalbeleid bekragtig het. Die betogings kom ten spyte van die feite, ten spyte daarvan dat die LUR vir onderwys in Gauteng hoofde by naburige Engelse skole gedreig het dat hul poste op die spel is as hulle nie gehoor gee aan sy opdragte en medepligtiges in sy magspel word nie. Dit volg ten spyte van die feit dat Afrikaanse skole slegs 5% van alle skole landwyd uitmaak en ten spyte van die feit dat moedertaalonderrig beoefen mag word waar dit prakties moontlik is.

So moes my “onderdrukkerstaal” toekyk hoe die betogers, die wetgebaseerde uitspraak ten spyt, haar as rassisties en eksklusief bestempel. My taal, een van die land se inheemse tale, is nou onder beleg – dit terwyl sy eintlik die opheffing en hoëvlakfunksionering van ander inheemse tale voorstaan en as baken vir alle taalgroeperinge kan dien. Die verguising kom terwyl sy wil insluit en onderling die uitruil van kennis dien.

Ironies genoeg sal hierdie week se gebeure as haar redding dien. Haar toekoms lê gelukkig nie in die hande van politici en regerings nie maar in die hande van ons, haar sprekers reg oor die spektrum heen. Dit bly die universele waarheid, of dit nou 1902 of 2018 is.

Aanslag ten spyt – dit is nie Afrikaans se elegie nie.

  • 553
  •  
  •  
  •  
Francois Redelinghuys Deur Francois Redelinghuys


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close