Ek verstaan

Geskryf deur: Mia Slabbert


Mamma – die betekenis van die woord het ek eers onlangs geleer.
Mamma, my mamma, jy is nou al baie lank weg…
Maar ek moet vir die eerste keer vir jou sê: “Ek verstaan…”
Ek verstaan…
Ek verstaan vandag, so op die vooraand van nog ʼn Moedersdag, jou opwinding toe jy jare gelede gehoor het dat jy met my, jou dogtertjie, swanger was…
Ek verstaan die uitsien en die plannetjies-maak…
Ek verstaan die onverklaarbare liefde en diep verhouding wat mens die oomblik vorm nadat jy daai positiewe strepie op die toets sien…
Ek verstaan die irrasionele vrees van gaan ek genoeg vir hierdie klein lyfie wees en gaan ons twee mekaar oorleef…
Ek verstaan die pyn van geboorte gee, die ure se opwagting, die asem-in, asem-uit, die skree van pyn, die ontbloting van jou privaatste jy aan vreemdelinge, die laaste tien sekonde se druk, die uitpaas van pyn, die sekondes van angstige stilte nadat die babatjie uit is…
En dan, binne sekondes, die ontmoeting met die reinste liefde van jou lewe, die skoonste verlief-wees en die oorweldigendste oomblik van jou menswees…
Ek verstaan hoe mamma-word jou hart van alle seer en onsekerheid gesond maak…
Ek verstaan nou hoe ek in een oomblik die mooiste-mooiste ding op hierdie aarde vir jou geword het…
Ek verstaan die ongemak van seer, lekkende borste en versigtig sit…
Ek verstaan die middernagtelike wakker wees en trane en van moeg wees…

Maar mamma, ek verstaan ook nou vir die eerste keer hoe daardie oomblik moes gewees het toe jy ná my geboorte moes uitvind dat kanker jou lyf oorgeneem het…
Stomgeslaan, kwaad, verpletterd…
Ek verstaan nou hoe moeilik dit moes wees om van die dokter terug huis toe te ry en my en my drie boeties in die oë te kyk terwyl jy weet jy gaan ons moet verlaat…
Ek verstaan hoe emosioneel daardie laaste drukkies en soentjies moes wees…
Ek verstaan hoe groot jou hartseer moes wees…
Ek verstaan hoe intens jou laaste gebede moes wees…
Ek verstaan jou woede wat jy teenoor God moes gehad het…
Ek verstaan hoe moeilik die weke weg van ons moes gewees het, nie net oor die chemo en sy gif nie, maar om vir weke aaneen steeds lewend te wees, maar weg van jou kinders af…
Ek verstaan nou jou intense verlange na ons daardie laaste ruk…
Ek verstaan jou hunkering na net nog één storie lees, net nog één bal skop, net nog één keer se saam bad, net nog één keer se blokkies bou..
Wat ek wel nog nie kan verstaan nie, is jou vrede en jou oorgee…
Ek weet eenvoudig nie hóé ʼn mamma dit doen nie…
Ek weet wel dat jou liefde vir God in daardie laaste ruk iets ongeloofliks moes oorwin – jy moes óns oorgee aan Hom, totaal en een honderd persent.
Nie net vir ʼn ruk nie, maar vir altyd en ewig…
Jy moes oorgee en aanvaar dat jy nie langer deel van ons drome gaan wees nie…
Vir my as mamma is dit ʼn ondenkbare gebaar, maar ek het die wêreld se bewondering vir jou, Elna Willemse…

Hierdie Moedersdag dra ek op aan jou, jou krag en jou vrouwees…
En ek doen dit as ʼn mamma, ʼn mal verliefde, uit-my-sokkies-uit-versot-op-my-kinders-mamma.
Mag my kinders, my WP en die kleine liewe Leo, my hart eendag verstaan soos ek joune vandag verstaan.
Mag my impak en liefde in hul lewens so ʼn realiteit wees dat hulle wéét hulle het my hart heelgemaak soos wat ek joune geraak het.
Mag hulle weet dat om hul mamma te wees, my menswees voltooi het…

Ek voel jou in my en ek weet jou gebede is die einste gebede wat ek vir my eie kinders bid…
Ek sal nooit ʼn enkele dag omwens nie…
Ek sal nooit ʼn mamma-nightshift verby smeek nie…
Ek sal altyd tyd maak…
Ek sal altyd opdaag…
Ek sal jou altyd deel van my mamma-wees maak…

Ek sal altyd onthou…

 

Aan alle Solidariteit-moeders, liefde oneindig julle toegewens. Mamma-wees bly die grootste voorreg<3

 

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Deel hierdie:

Leave a Reply

Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close