Algemeen -

“Ek vóél die bloed van 'n lewendige Beweging”

Hierdie stuk het begin as 'n gewone opstel na induksie by Solidariteit. Maar ek sukkel om dit eenvoudig te hou, want wat ek as pas aangestelde werknemer van die Solidariteit Beweging ervaar het, is iets heeltemal buitengewoons.

 

Om net bietjie agtergrond te gee: ek is 'n joernalis wat geleer is om objektief na alles te kyk. Dit is so in my ingebrand dat ek tot vandag toe, na bykans twee jaar uit die media, steeds sukkel om hardop 'n mening oor iets uit te spreek. Ek sal begin praat, nadink … en dan liewer swyg. Ek wil nie 'n ‘stem van die volk’ wees nie en ek kies eerder my woorde voordat dit onnodig seer maak of aanstoot gee.

 

Ek is nou so 'n maand lank deel van die kommunikasiespan by Solidariteit en ek besef elke dag al hoe meer dat ons ons eie grootste vyande is. In die afgelope tien jaar het ek al talle stories oor Solidariteit gedoen en soms gewonder: Wie en wat is Solidariteit? Waar pas Solidariteit werklik by die samelewing in? Wat is die Beweging as niemand kyk nie?

 

En genade, my prentjie van dié Beweging was baie ver verkeerd. Ek voel nou persoonlik aan my lyf die bloed wat deur die Beweging se are pomp en ek raak opgewonde oor die hoopvolle toekoms wat deur hierdie gewone landsburgers geskep word. Nie regses of konserwatiewes nie, gewone, passievolle mense. Ek is nie naïef nie en ek weet dat ons land se probleme nie deur een of twee of selfs tien organisasies verander en verbeter word nie, maar daar is iets ongeloofliks om deel van 'n liggaam te wees wat daagliks veg vir die belange van ander mense. Mense van Suid-Afrika. Die persepsie is ook dat dit nét witmense is, maar dit is dalk die grootste misverstand.

 

As vakbond is Solidariteit inklusief. Dit beteken ons verwelkom alle tale en rasse, maar óns werk in Afrikaans, óns droom in Afrikaans, óns dink aan en bied oplossings in Afrikaans. Hiermee word daar glad nie geïmpliseer dat enigiets anders as Afrikaans verkeerd of sleg is nie. Ons almal behoort die voorreg te hê om in ons hartetaal te droom, te werk en oplossings daarin te soek. Ons gaan te werk soos wat KykNET en VIA vermaak in Afrikaans lewer, soos wat eNuus nuus in Afrikaans lewer, soos wat Netwerk24 vir die Afrikaanse-mark van nuusgebeure vertel. Ons is 'n Afrikaanse vakbond. Punt.

 

Iets wat my spesifiek opval, is die rol van die Beweging as algemene alternatiewe ‘regmaker’. Ons maak reg: ongerymdhede in die werksplek, onbillikhede in die sakewêreld en ongeregtighede in die samelewing. Ons verleen hulp aan enigeen wat saamstem met ons Christelike visie, ons liefde vir Afrikaans en ons kultuur, ongeag ras of velkleur. Wanneer 'n Solidariteit Beweging-instelling 'n dorp se paaie en slaggate herstel omdat die munisipaliteit hom daarteen blindstaar, baat dit elke inwoner van daardie dorp. Eweneens, as die Beweging veg om 'n dorp se watertoevoer, elektrisiteitsvoorsiening of veiligheidstrukture, dan baat dit elke lid van die plaaslike gemeenskap en uiteindelik elke burger van breër Suid-Afrika. Insgelyks is die gelukkige, regverdige kantoor of fabriek te danke aan mense wat gedurf waag het om te sê “Genoeg is genoeg!”

 

Ek as 30-jarige veroordeel enige misdaad – met diepe verontwaardiging – hetsy die misdadiger wit, swart of bruin is. Dit is hartseer om te sien hoe mense mekaar bedrieg en seermaak en uitwis, ongeag ras. Van graad 1 tot op graadvlak by UP het ek swart maats gehad, en dis vandag nog vir my baie sleg wanneer ek my liefde en bewondering vir ons land se verskillende rasse moet verdedig.

 

Solidariteit gee my die moed om nie noodwendig heeltyd jammer te sê omdat my drome in Afrikaans afspeel en omdat my drome vir my kinders in Afrikaans gebid word nie.

 

Die laaste ruk het ek veral bewus geword van hoe die Solidariteit Beweging, uit beide linkse en regse oord, veroordeel word as rassiste en verraaiers. Dit maak my hartseer. Mense plaas 'n stempel op 'n organisasie en verkondig dit dan wêreldwyd. Die regses veroordeel ons omdat ons nie ‘eksklusief’ vir die wit Afrikanervolk veg nie en die linkses veroordeel ons omdat ons nét ‘eksklusief’ vir die wit Afrikaner-volk veg. Dit is eintlik baie snaaks as mens daaraan dink.

 

Eenvoudig is dit soos volg; Solidariteit is 'n vakbond wat in Afrikaans vir mense se regte veg. Ons is lief vir die mooi van Afrikaner-wees. Ons is trots daarop. Ons veg in Afrikaans teen ongeregtighede en ons voertaal is Afrikaans. Dit is ons model, net soos wat Cosatu en Popcru en die SAOU hul eie model het. Ons model werk, ons model is suksesvol, maar ons model se sukses maak nie ander modelle minder suksesvol nie.

 

Ek vra myself gedurig wat presies die linkse én regse oord se probleem met die Beweging is? Dit kan nie die Afrikaans wees nie, want dan behoort KykNET, VIA, eNuus, Netwerk24, SAUK2-nuus en ander Afrikaanse-instellings (wat net in Afrikaans werk) ook gekruisig te word. Dit kan ook nie wees dat ons lidmaatskapfooie van ons lede vra nie, want Netwerk24 se betaalmuur is ook net op die Afrikaanse-mark gerig, hoewel mens presies dieselfde (of ten minste baie van die berigte) op News24 gratis kan lees. Dit kan ook nie wees dat ons model suksesvol is nie, want daar is talle Afrikaanse-instellings wat floreer en selfs finansieel baie goed doen.

 

Nee-wat, ek dink dié wat kritiseer (aan beide kante) moet saam die Solidariteit-bestuur om 'n tafel sit en duidelik uitspel wat hulle kwaad maak van die Beweging. Kom drink koffie, sit julle swaarde neer en kom gesels, kom kyk, word ingelig. Die prentjie wat jy dink jy sien en die wérklikheid is baie verskillend – glo my.

 

Ons help enige mens wat ons nader én ons doen dit in Afrikaans. Dus help ons die mense wat in Afrikaans gehelp wil word. Die vakbond kan nie aanspreeklik gehou word vir mense wat verkies om in ander tale gehelp te word nie.

 

Die Solidariteit Beweging skep vir my geleentheid om suksesvol te wees in 'n ruimte wat my sukses waardeer, in 'n ruimte waar ek nie jammer hoef te sê of skuldig hoef te voel omdat ek goeie onderwys- en tersiêre opleiding ontvang het (waarvoor ek hard met 'n lening studeer het); in 'n ruimte waar my vermoë gesoek en gekoester word; in 'n ruimte waar ek nie alewig hoef te verduidelik dat my velkleur my nie 'n rassis maak nie; in 'n ruimte waar ek saam baie ander mense en namens baie ander mense ook aan 'n voorspoedige toekoms vir my twee seuntjies kan bou.

 

Ek weet nou as ek eendag moet sê wat ek gedoen het om die wêreld 'n beter plek te maak, ek met sekerheid sal kan sê dat dit nie was toe ek vir 'n paar jaar 'n joernalis was nie, maar dit was terwyl ek vir 'n instansie gewerk het wat vreesloos geveg het teen die twee grootste euwels van ons tyd – onmenslikheid en ongeregtigheid teen die mense van Suid-Afrika – alle mense, my mense.

 

Kom drink saam ons koffie. Kom wees verras. Kom bou saam.

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Mia Slabbert Deur Mia Slabbert


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close