Deur Paul Joubert

 

Vroeër vandeesweek het Statistieke Suid-Afrika aangekondig dat die bruto binnelandse produk van Suid-Afrika in die tweede kwartaal van 2015 met 1,3% gekrimp het op 'n seisoenaangepaste basis teen 'n jaarkoers. Dit beteken dat daar in die tweede kwartaal van die jaar in Suid-Afrika minder goedere en dienste verhandel is as in die eerste kwartaal, soveel so dat indien die tempo van vermindering vir 'n hele jaar volgehou sou word, dit oor die hele jaar 1,3% minder as die vorige jaar sou wees.

 

Hierdie syfer volg op 'n groeikoers van slegs 1,3% in die eerste kwartaal van 2015. Dit beteken dus dat die Suid-Afrikaanse ekonomie sedert die vierde kwartaal van 2014 geen groei getoon het nie. Die tweede kwartaal loop van die begin van April tot die einde van Junie – dit is nog voordat die onlangse groot omwentelinge in wêreldmarkte plaasgevind het. Die rede vir die inkrimping, en die afgelope drie of vier jaar se kreeftegang, lê binne Suid-Afrika.

 

Die binnelandse ekonomiese beleide is eenvoudig nie bevorderlik vir vryheid en entrepreneurskap nie. In plaas daarvan om inmengende wetgewing stop te sit, wat 'n groot las op besighede en gewone mense plaas ter wille van 'n bitter klein marginale voordeel (soos byvoorbeeld Rica en Fica), stel die regering net teen 'n al sneller pas verdere inmengende wetgewing in, wat groter administratiewe rompslomp veroorsaak, soos die nuwe wetgewing rondom Suid-Afrikaanse visums. Nie een van hierdie stukke wetgewing het op sigself 'n groot negatiewe impak op vryheid, innovering en entrepreneurskap nie, maar elke keer wat nog 'n bietjie ruimte prysgegee word deur so 'n wet te aanvaar, word die vooruitsigte vir die plaaslike ekonomie donkerder.

 

Vir solank as wat hierdie toedrag van sake voortduur, sal die Suid-Afrikaanse ekonomie aanhou stagneer. Dit is nie rykdom aan grondstowwe wat voorspoed vir mense in 'n land voortbring nie, maar 'n rykdom aan vryheid om te innoveer, handel te dryf, kontrakte te sluit op eie verantwoordelikheid en om entrepreneuries te wees.

  •  
  •  
  •  
Deur cilleste


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close