Uncategorized @af -

Eksklusief: ‘n Binneblik op SA’ners uit Wuhan se eerste naweek terug in SA

Deur Mia Slabbert

Dit is een ding om 'n brawe daad vir iemand op die ingewing van die oomblik te doen, maar wat die personeel van The Ranch Hotel in Limpopo vir 184 Suid-Afrikaners, insluitend weermag- en ander personeel, doen wat pas vanuit Wuhan, China, teruggekeer het en nou vir sowat 20 dae in kwarantyn gaan bly, is 'n groot en “dankbare opoffering”. Dit is werknemers met families en verantwoordelikhede wat vir weke lank in kwarantyn saam met vreemdelinge gaan moet bly om na hulle om te sien en hulle welkom te laat voel.

#OpReisSaamMetMia verneem van 'n betroubare bron by The Ranch-hotel dat die verligting, moegheid en dankbaarheid duidelik op die gesigte van die groep gesien kon word toe hulle Saterdagmiddag met verskeie busse by die hotel aangekom het. Die pad na die hotel was vir ander verkeer gesluit. Die groep het in Polokwane aangekom ná 'n reis van ongeveer 16 ure en hulle sal nou vir die volgende paar weke onder kwarantyn in die hotel gemonitor word voordat hulle na hul onderskeie families in Suid-Afrika sal kan terugkeer.

“Ek kan nie vir jou die vlak van adrenalien beskryf wat ons almal gister by die hotel ervaar het nie. Ek het nog nooit in my lewe so iets gesien of beleef nie. Voor die groep by die hotel aangekom het, het die hotelpersoneel angstig in klein groepies gestaan, onseker oor wat die volgende paar dae gaan inhou. Dit was vir ons ongelooflik belangrik om die groep op tuisbodem welkom te laat voel en ons het seker gemaak dat ons dit op eg en trotse Suid-Afrika-manier doen. Ons het dit met sang en dans gedoen en dit was regtig spesiaal,” vertel Rina Louw*, een van die werknemers by die hotel.

Die hotel se personeel moes almal 'n dag voor die groep se aankoms vir volledige mediese ondersoeke gaan waar hulle ook vir die virus getoets is. Hulle word van nou af egter elke dag medies gemonitor.  “Ons moes almal getoets word en gaan elke dag vir die volgende paar dae getoets word. Oor veertien dae sal ons weet of ons ‘n ruk daarna na ons gesinne kan terugkeer. Intussen in dit net ons en die gaste hier in mekaar se geselskap,” het Louw skertsend gesê. “Dit is regtig ‘n voorreg,” het sy bygevoeg.

Die toneel op die hotel se gronde was iets waarop niemand voorbereid kon wees nie. “By hul aankoms het die gaste van binne die busse video’s van hul verwelkoming geneem. Aanvanklik het die oord se personeel baie gespanne in klein groepies gestaan en 'n mens kon duidelik sien dat hulle gespanne, selfs bang was vir die onbekende avontuur wat op ons wag, maar met die groep se aankoms het die atmosfeer baie vinnig heelwat meer ontspanne geraak. Soos wat ons personeel vir hulle gesing het om hulle welkom te laat voel, het van die gaste op 'n stuk papier geskryf dat hulle dringend by die badkamer moet uitkom. Hulle het hierdie papier teen die bus se venster opgehou en ons het gelag. Ons was dalk net so verlig soos hulle dat die oomblik van hulle tuiskoms hier is,” het Louw vertel.

“Die groep is daarna in groepies na vyf restaurante by die oord geneem waar hulle in dieselfde groepies gesit en eet het. “Daar het 'n ongelooflike atmosfeer van rustigheid en dankbaarheid in die lug gehang. Iets wat my opgeval het, is hoe verskeie paartjies, na ete natuurlik, spontaan op die swaaie buite ons eetplekke gaan swaai het. Hulle het hul maskers aangehad, maar hulle het soos kinders in die buitelug geswaai. Dit is iets wat 'n mens hoendervleis gee.”

Die groep het spreekwoordelike trooskos soos spaghetti en maalvleis met lekker nagereg gekry. “Toe ek twee van die gaste wat vir sowat drie jaar in Wuhan gewoon het na hulle kamer toe neem, kon hulle nie uitgepraat raak oor hoe lekker die kos was wat ons vir hulle bedien het nie. Hulle was ook absoluut sprakeloos oor hul kamers. Dit is moeilik om 'n mens te probeer indink waardeur hulle die afgelope paar weke moes gaan,” het Louw gesê.

Volgens die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het die regering na 84 ander persele gaan kyk, maar het juis op The Ranch Hotel besluit omdat dit geïsoleerd én groot genoeg is om die hele groep, hotel-, mediese- en weermagpersoneel vir etlike weke te huisves.

Louw meen baie mense in die groep ervaar emosies van vrees omdat hulle juis weet dat daar baie mense in die land is wat sou verkies dat hulle nie uit Wuhan teruggebring moes word nie. “Dit moet 'n baie moeilike wete wees om mee saam te leef, maar ons hier by die hotel maak dit ons missie om die groep so welkom as moontlik te laat voel en dit is vir ons 'n groot eer om dit vir hulle te kan doen,” het Louw gesê.

Nie een van die 184 mense het nog positief vir die koronavirus getoets nie. Die rede vir hul tydperk van kwarantyn is slegs om enige moontlike verspreiding van die virus in Suid-Afrika te voorkom. Teen Sondagmiddag was daar 51 bevestigde gevalle van die virus in Suid-Afrika.

Rina Louw* is ‘n skuilnaam.

Hier is foto’s van die groep se aankoms by die oord:

(Foto’s: Verskaf)

 

  •  
  •  
  •  
Mia Slabbert Deur Mia Slabbert


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close