Algemeen -

Elke moord tel, so waar’s al die optogte?

In Suid-Afrika is dit ongelukkig so dat enigiets prominent of omstrede noodwendig 'n rasse(oftewel rassisme)sous moet bykry. Suid-Afrikaners is meesters daarmee om mekaar verdag te maak en van rassisme en sinistere motiewe te beskuldig.

 

Menigte mense van alle rasse het byvoorbeeld Swart Maandag op die sosiale media as 'n publisiteitsfoefie met verskuilde agendas afgemaak en gesê swart sterftes weens moord is veel groter as wit sterftes, veral boere op plase. Huffpost SA skryf die volgende: “Despite ostensibly rising figures of attacks and murders on farms, the Black Monday protest hoping to draw attention to these crimes has also been met with stern criticism, with some alleging it places much greater emphasis on white victims of attacks and murders in rural areas.”

 

Ene David van Wyk het byvoorbeeld op Twitter aangevoer dat hy nie daaraan gaan deelneem nie omdat dit 'n “rasgebaseerde” veldtog is wat op 'n leuen gegrond is. Ja, vriende, julle het reg gelees. Hy borduur dan voort oor hoe swart mense proporsioneel in baie groter getalle sterf en ook oor strukturele geweld soos swart armoede en werkloosheid en die staat wat nie aan swart armes dienste lewer nie. Volgens hom kan Afriforum nie steun van die res van die bevolking verwag as hulle net sommige mense se menseregte beskerm nie. Hy het halwe waarhede, blatante valshede, oppervlakkige beredenering en ook waarhede soomloos in ‘n enkele tirade vervleg.

 

Daar was tewens beweringe dat dit rassisties is om swart aan te trek om wit pyn uit te beeld – die gedeelte oor rou het sulke mense uiteraard ontgaan, of dalk nie. Black First Land First (BLF) het selfs vir 'n boikot van Swart Maandag gevra. Dink net wat sal gebeur indien Solidariteit, TLU SA of Afriforum vra vir 'n optog oor swart mense se moorde (of selfs armoede) om geboikot te word? Daar is 'n hemelsbreë verskil tussen om te kies met welke sake en optogte jy jou enersyds gaan en kan besig hou, en om andersyds te vra dat wettige en vreedsame optrede oor iets soos moord geboikot moet word. Of om mense te kap oor hulle die kleur van rou aantrek om kapsie teen moorde te maak. Of om net mooi niks te doen oor enige moord nie en die ware skuldiges skotvry te laat wegkom.

 

Maar eerstens moet daar gekyk word na hoe Swart Maandag ontstaan het. Afriforum was nie die aanvanklike vonk wat dit laat vlam vat het nie, en hulle was ook nie die algehele organiseerders soos Van Wyk dit nou wil hê nie. Dit het begin begin met 'n emosionele video deur 'n Wes-Kaapse plaasbestuurder, Chris Loubser, nadat Joubert Conradie vermoor is en daarna het dit spontaan gegroei. So wydverspreid is die woede en moord-moegheid dat niemand nodig gehad het om dit sentraal te probeer beplan nie. Dit het met 'n eenvoudige versoek begin en daarna het mense ag daarop geslaan. Afriforum as 'n burgerregte-organisasie het wesenlike belange in die landbou, die platteland en die Afrikaner-gemeenskap en het bloot deelgeneem aan die dag, soos baie ander organisasies en mense. Boikotters boikot dus nie net vir Afriforum as hulle Swart Maandag boikot en minag nie.

 

Die misdaadstatistiek wat verlede week bekendgemaak is, dui daarop dat nagenoeg 20 000 in die 2016-’17-boekjaar vermoor is – 'n styging van 1.8% oor die vorige jaar. Ons moordkoers is 34 per 100 000 mense en dit het effens gestyg sedert 2012 nadat dit tussen 1996 en 2012 beduidend gedaal het. Plaasmoorde (wat onder meer boere en werkers insluit) het egter met 27.5% gestyg. Hoewel moored op boere (beide swart en wit) en plaaswerkers wel slegs 'n kleinerige deel van alle moorde uitmaak, is dit 'n snelgroeiende probleem en een wat die land as geheel in terme van voedselverskaffing letterlik duur te staan kan kom. Plaasmoorde is ook disproporsioneel tot die res van die moorde op die platteland en oortref die land se gemiddelde by verre. Dr. Johan Burger van die Instituut van Sekerheidstudies het boonop laas week op Talk Radio 702 gesê heelwat meer plaaswerkers word vermoor as boere (wat sin maak omdat boere en hul gesinne saam met baie plaaswerkers op plase bly en werk).

 

Daar is natuurlik wydverspreide skok oor die nuutste misdaadsyfers en veral dat geweldsmisdaad so hoog is en styg. Die probleem is dat mens nie hierdie woede op die strate sien nie. As swart mense dan tot so 'n verbluffende mate vermoor word, hoekom loop hierdie woede nie uit op groot optogte nie? En hoekom dan die organisasies en mense afkraak, verdag maak en kritiseer wat iewers iets probeer doen en dan vir Swart Maandag swartsmeer? Moet enige moord dan net gelate aanvaar word? Maak plaasmoorde dan nie saak nie? Hoekom is daar nie skares in die strate wat die minister van polisie en die president se koppe eis nie? Hoekom reik BLF, die EFF en die ANC nie ook verklarings uit om swart rassisme te veroordeel, soos Solidariteit en Afriforum met wit rassisme maak nie? Hoe is dit Solidariteit, Afriforum en die boere se skuld dat die staat in hul plig faal om werk te skep?

 

Dit is vrae wat die kritici van Swart Maandag totaal miskyk of ignoreer. Die mense wat Swart Maandag gedenk, praat nie moorde in die stede goed of ignoreer ander misdaad nie. Trouens, hulle is ook teikens daarvan. Hulle staan bloot op teen iets wat die land groot skade berokken en hulle skok en na aan die hart lê. Hulle betaal hul belasting sodat die polisie alle misdade hok kan slaan en hulle dwing ook niemand om deel van Swart Maandag te wees nie. So ook het die meeste dooie en lewende boere en hul werkers nog nooit iemand leed aangedoen nie en hulle lewer juis 'n onmisbare bydrae tot werkskepping en voedselverskaffing in die land. Hulle verdien beter as 'n ongevoeligheid, nonchalance en leedvermaak. So ook die sowat 20 000 ander mense wat elke jaar vermoor word in die land.

 

Foto: Reint Dykema

 

 

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close