Algemeen -

Emmerskop-lysie

Die “Bucket list” oftewel emmerskop-lysie (‘n oulike vertaling waarvan ek onlangs gehoor het), is ‘n lysie vol van dinge wat jy nog graag wil doen voordat jy doodgaan.

Ek dink dit is ‘n goeie idee om só ‘n lysie op te stel. Jou lysie kan lank of kort wees, vol van lawwe alledaagse goed wat jy nog wil doen, of dit kan groot drome wees wat jy graag wil verwesenlik. Avonture wat jy nog wil beleef. Plekke wat jy nog wil sien. Dinge wat jy nog wil ervaar.

Ek het nog nooit voorheen so ‘n lysie gehad nie. Dit het nogal kopkrap gevat om een saam te stel.

Wat wil ek nog graag doen of sien?

Ons moet besef: die tyd wag vir niemand nie, dit stap aan. Nog ‘n jaar se tyd is besig om uit te loop…

Magtig is hy wat die grens van die tyd ken. Ek het nie ál die tyd tot my beskikking nie; ook aan die tyd kom ‘n einde. Daarom meet ek die tyd wat aan my gegun word; elke sekonde is kosbaar, want wat vandag ongebruik verbygaan, sal ek nooit weer terug kan kry nie – Johan Heyns.

Hier is my lysie van doen-dinge wat ek graag saam met my gunsteling-persoon wil aanpak:

•    Besoek ‘n vulkaan
•    Vlieg eersteklas
•    Loop rond in ‘n kasteel
•    Hou vakansie op ‘n eiland
•    Lees meer
•    Spandeer kwaliteit-tyd saam met geliefdes
•    4×4 deur Afrika
•    Leef gesonder
•    Gaan op ‘n lugballon rit oor 'n mooi landskap
•    Skilder
•    Stap meer in die natuur
•    Toer deur die hele Suid-Afrika
•    Stop by al die klein plekkies langs die pad
•    Hou meer kaas en wyn aande
•    Kyk na die Bosveld sterreprag (so veel kere moontlik!)
•    Skryf meer
•    Gaan op ‘n bootreis
•    Reis om die wêreld
•    Oornag in ‘n vyfster hotel
•    Leer duik

Ons beter begin spaar!

Die belangrikste is dat mens tyd maak vir jou familie en vriende. Moenie eendag terugkyk en spyt wees oor alles wat jy nie gedoen of gesê het nie.

Die lewe is te kort om te mors – Anoniem.

Wat is op jou lysie?

  •  
  •  
  •  
Deur Carina Bester


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close