Solidariteit Blog
Algemeen, Nuus -

En daar staan ons toe saam

Deur Reon Janse van Rensburg

 

Suid-Afrikaners staan graag saam om die braai, by Loftus, Nuweland en Ellispark (Emirates Airline Park as jy minder nostalgies is as ek) en moet ook nie Wanderers vergeet nie. AB de Villiers het nogals wondere in pienk verrig! Ons staan op aandag as die volkslied gesing word en sing uit volle bors Nkosi Sikelel’ iAfrika. Ons lag saam wanneer Leon Schuster die gek skeer met Suid-Afrikaners, is trots as ’n Suid-Afrikaner die Comrades wen en skree ewe hard wanneer Siya Kolisi, Brian Habana of Warren Whiteley oor die doellyn duik.

Dit is wonderlike dinge wat Suid-Afrikaners al beleef het. As jy egter na die groter prentjie kyk, is dit nie individuele ondervindings nie, maar ondervindings en gebeurtenisse wat ons almal al bewustelik of onbewustelik gedeel het. Dit is die konneksie wat ons met mekaar het en ons trots maak om Suid-Afrikaners genoem te word.

Tog hoor ons vandag steeds: “Ons kan en sal nooit kan saamstaan nie.”

Dit is iets wat veral Afrikaners aan ander Afrikaners vertel. Dit is tog duidelik uit ons geskiedenis dat daar in baie gevalle dinge was waaroor ons nie kon saamstem nie Kyk veral maar na al die verskillende kerkverbande. Tog wys ons eie geskiedenis ook dat wanneer dit wel nodig was, ons dit inderdaad kon regkry. Slagvelde soos Majuba tydens die Eerste Vryheidsoorlog het hoop in die harte van duisende mans, vrouens en kinders laat opvlam. Gewone mans wat nie deel gevorm het van ’n professionele weermag nie en wat uit verskillende dele van die land afkomstig was, wat moontlik ook verskille gehad het, kon soos een man saamstaan om die sterk Britse weermag op ’n slagveld te verslaan.

1881 – Die Eerste Vryheidsoorlog. Gewone mense wat buitengewone omstandighede aanpak.

2019 – Ons is weer in ’n stryd om vryheid, ’n stryd om idees gewikkel. Ons slagvelde lyk anders – die stryd word dikwels in die korporatiewe wêreld gevoer. Ons is steeds gewone mense met buitengewone omstandighede. Ons word onderdruk – dié keer nie deur ’n ander land of regering nie, maar deur ons eie mense.

Dit is ons eie organisasies wat onder die druk van ons eie regering vou, en dít alles in die naam van transformasie. Dit is alledaagse instellings wat ons ouers, bure, vriende, families en ook jy help bou het. Jy en jou gesin maak gebruik van hierdie instellings en organisasies se dienste en koop ook hulle produkte. Jou alledaagse koopkrag bepaal hulle toekoms; jou koopkrag het hulle gebou tot die reusagtige organisasies wat hulle vandag is.

Vandag word jou geld verwelkom, maar nie jou velkleur nie. Jou waarde as kliënt word dus deur jou velkleur bepaal. Die pigmente in jou vel, waaroor jy geen beheer het nie, bepaal waar jy mag aansoek doen vir werk en watter voordele jy as kliënt mag en nie mag ontvang nie. Dit is diskriminasie wat deur slim bemarkingfoefies mooi verpak en toegedraai word en met linte versier word, en die eindproduk word teen ’n baie duur prys verkoop. Die prys is normalisasie. Diskriminasie teenoor wit mense word genormaliseer deur korporatiewe monsters wat te bang is om teen die regering se geboelie op te staan.

Normalisasie is onbekostigbaar. Wanneer diskriminasie normaal word en dit nie meer verkeerd of vreemd is om teenoor ’n ander persoon te diskrimineer nie, is die stryd verlore.

Wanneer groot organisasies soos Sasol en Discovery toelaat daar teen jou as kliënt of werknemer gediskrimineer word, is dit ’n kanonskoot wat op jou gemik is.

Hierdie stryd om idees is daarop gemik om die diskriminasie wat jy beleef, te normaliseer. Dit word gedoen om diskriminasie teenoor Suid-Afrikaners te normaliseer. Moet dit nie onderskat nie.

Ons staan mos nie saam nie – 2018. Discovery kondig aan dat hulle reg is om ’n nuwe bank te loods en dat hulle 10% van die aandele aan hul swart kliënte gaan gee. Sasol sê dat hul aandeelskema slegs van toepassing is op swart werknemers. Wit kliënte en werknemers word uitgesluit.

Die algemene gevoel onder wit mense is ’n mengsel van woede en moedeloosheid. Ons voel uitgesluit in die land waar ons ook ’n bydrae lewer. Die organisasies wat ons ook help bou het, sluit ons uit. Diskriminasie staan nie net meer by die voordeur nie. Hy het selfs al ’n uitnodoging na die grootbaas se kantoor ontvang.

Ons voel moedeloos, maar dan onthou ons watter bloed deur ons are vloei. Ons onthou dat ons eie mense in onsekere tye ook moedeloos geraak het, maar nie gaan lê het nie. ’n Afrikaner is te hardkoppig om te gaan lê. ‘n Afrikaner het ook ’n stem!

06 September 2018. Secunda.

Solidariteit staak saam met die Sasol-werknemers. Ons doen dinge anders. Daar is vrede in die atmosfeer. Ons dans nie, maar ons boodskap is duidelik. Saam met duisende mense sê ons in een stem dat diskriminasie nie geduld sal word nie. Ons skiet met ons eie kanonne terug. Ons skiet raak en ons skiet seer. Daar word gebraai en die oranje golf maak opslae en die wêreld hoor wat aangaan. Daar word verseker dat diskriminasie nie genormaliseer word nie.

25 Oktober 2018. Sandton.

Sandton is die hart van korporatiewe Suid-Afrika. Dit is die plek waar groot sakemanne belangrike besluite neem oor talle groot Suid-Afrikaanse maatskappye se toekoms. Dit is ook hier waar besluite geneem word om wit Suid-Afrikaners, ook kliënte, uit te sluit van aandele, en daarmee saam grootliks ook van geleenthede.

Weereens vorm Solidariteit ’n oranje golf deur die strate. Die Johannesburgse Effektebeurs neem kennis; ons ontmoet die bestuur van Sasol en verseker weereens dat jou stem gehoor word. Diskriminasie word weer nie toegelaat om genormaliseer te word nie.

Gewone mense kry dit weer reg om as individuele mense bymekaar te kom, hulle eie stem by te voeg en as een man te kan saamstaan teen die normalisasie van diskriminasie.

En daar staan ons toe saam.

 

Solidariteit kort jou hulp. Ons kort jou hulp om as duisende saam te staan teen diskriminasie. Help Solidariteit en #StemNee teen Discovery se rasseplan. Besoek https://solidariteit.co.za/discovery-veldtog/ of SMS ‘nee’ na 34802

  • 78
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


Back to top