Algemeen -

Eskom 2.0

Pres. Cyril Ramaphosa se snertstorie oor 'n “nuwe Eskom” om met die oorspronklike Eskom mee te ding is gewoon net dit – 'n snertstorie. Dit is heel gepas dat hy dit op die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) se konferensie kwytgeraak het.

Die enigste twee maniere waarop Suid-Afrika van elektrisiteit voorsien kan word, is deur nuwe toetreders tot die mark en deur die bestaande Eskom reg te ruk. Net een manier op sy eie sal nie werk nie, en as die nuwe toetreder boonop in staatsbesit is, sal dit bepaald nie werk nie. Eskom is tot niet as gevolg van die ANC se beleid van swart bemagtiging en kaderontplooiing. As die staat, soos Cyril voorstel, 'n nuwe kragverskaffer skep sal dit ook aan hierdie beleid onderhewig wees.

Hierdie beleid het die deur vir staatskaping oop gemaak, vra regter Zondo maar. Dit het ook veroorsaak dat ons baie meer vir elektrisiteit betaal as wat ons behoort te betaal want Eskom mag slegs steenkool aankoop by steenkoolprodusente wat in swart besit is. As daar min van hulle is, kan hulle vir hul steenkool vra net wat hulle wil. Die uiteinde daarvan is dat ons ten minste 27% té veel betaal om krag op te wek. Dan kom allerhande koste, wat ook deur swart ekonomiese bemagtiging opgejaag word, by. Op die ou end betaal almal hopeloos te veel vir elektrisiteit terwyl Eskom in 'n sinkende skip ontaard.

'n Nuwe kragverskaffer in staatsbesit sal geen ander koers kan inslaan nie. Ná 'n jaar of wat, en miljarde rande uit die belastingbetaler se sak later, sal die nuwe kragprodusent ook soos Eskom lyk. Maar vir die ANC sal dit fantasties wees – meer kaders kan ontplooi word. Die lede van twee direksies kan buitensporige vergoeding ontvang. Twee instansies kan besteel word. En terwyl die nuwe een gestig word, kan dit van die begin af so opgestel word dat die ANC en sy vriende daaruit munt slaan. Dit sal niks ongewoon vir die ANC wees om 'n bedryf só op te stel dat hy daardeur bevoordeel word nie.

Die ANC self het reeds in steenkoolmyne belê. Die rede vir hierdie belegging is dat die steenkoolbedryf dringend SEB-vennote benodig het. Die ANC het beleid daargestel wat mynmaatskappye gedwing het om aandele aan die ANC te verkoop, want sonder swart aandeelhouding sou dié maatskappye van 2011 af nie meer sake met Eskom kon doen nie. Dit het toe gebeur en nou weier die ANC om van steenkool af te sien want dit sal sy inkomstestroom laat opdroog. Dit verduidelik ook die huiwering om nuwe toetreders tot kragverskaffing toe te laat.

Om volhoubaar te wees sal Eskom 2.0 volkome privaat moet wees sonder dat enige regulasies oor aandeelhouding of eienaarskap geld. 'n Nóg beter opsie sal wees om nie net een nuwe produsent toe te laat nie, maar duisende van hulle. Suid-Afrika het reeds die infrastruktuur om elektrisiteit te versprei. Ons kort net die opwekking. En daarvoor het Solidariteit reeds planne aangekondig waardeur ons mense sal help om aansoek te doen om lisensies en permitte te bekom om krag op te wek.

Ons moenie verwag dat die staat die probleem sal kan oplos nie. Die staat, maar veral ons staat, kan net probleme veroorsaak. Die oplossing sal uit die burgery kom.

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close