Algemeen -

Eskom: Ekonomiese sabotasie en 'n daad van terreur

Die boewe by Eskom is saboteurs, maak hulle skuldig aan terreur en die wetstoepassers doen niks daaromtrent nie.

Die sogenaamde nywerheidsaksie by Eskom is geen staking nie, maar ekonomiese sabotasie en 'n daad van terreur. Kragstasies is nasionale sleutelpunte en hierdie sleutelpunte word aangeval. Eskom is ook 'n noodsaaklike diens. 'n Terreurdaad word gedefinieer as die ontwrigting van 'n noodsaaklike diens, fasiliteit of stelsel. Doelbewuste optrede om die ekonomie te destabiliseer en om ekonomiese verliese te veroorsaak, is alles dade van terreur. Tronkstraf en swaar boetes word vir sowel terreurdade as die ontwrigting van sleutelpunte opgelê.

Hierdie situasie kan nie soos 'n normale onderhandelingsituasie hanteer word nie. Dit is ook veel ernstiger as net 'n onwettige staking. Terwyl ons land aangeval word, is die regering afwesig. Boewe is besig om ons, ekonomies gesproke, gyselaar te hou en daar is geen teken van die wetstoepassers nie. Eskom het 'n interdik teen die saboteurs bekom, maar die polisie doen niks daaromtrent nie. As die polisie dit nie kan doen nie, moet die weermag ons kragstasies beveilig. Die wet wat sleutelpunte reguleer, bepaal dat daar 'n plig is om sleutelpunte te beskerm.

Talle Eskom-eenhede is gereed om weer in bedryf gestel te word, maar daar is nie mense wat dit kan doen nie. Van die werknemers bly net weg en ander word van die werk weggehou. Dít op sigself is ekonomiese sabotasie en 'n oortreding van wetgewing wat sleutelpunte beskerm.

Intussen is fase 6-beurtkrag aangekondig en die moontlikheid van fase 8 kan nie uitgesluit word nie. Dít is die gevolge van hierdie sabotasie. Suid-Afrika se ekonomie word gesaboteer en die land word lamgelê.

Die boewe moet gearresteer, vervolg en opgesluit word. Hulle oortree die wet. Solidariteit-lede en ander lojale Eskom-werknemers hou die stelsel nog aan die gang. Terwyl hulle dit doen, word hulle ernstig geïntimideer. Boewe met knuppels en stokke het hulle uit hul kantore verjaag. Hulle is by hul huise geïntimideer en daar is selfs gedreig dat hul huise afgebrand sal word as hulle werk toe gaan. Van die operateurs se huise is met petrolbomme aangeval. Toegang tot kragstasies word geblokkeer en bande word gebrand. Selfs 'n voertuig is al aan die brand gesteek.

Diegene wat by die werk is, werk dubbelskofte en langer. In die yskoue weer word askaste leeggemaak, in die nag, oggend en middag. Kole word afgelaai en voorrade word aangevul. Hierdie mense doen ander se werk, heeldag in die stof. Kos kan nie bestel word nie en blikkieskos is die enigste beskikbare kos by die aanlegte. Ma’s reël dat laerskoolkinders opgepas word sodat hulle by die aanlegte kan gaan uithelp. Dié mense is ons hedendaagse helde. Terwyl hulle ure lank oortyd werk, werk waarvoor hulle nie vergoed gaan word nie want by Eskom word oortydbetaling beperk, is daar saboteurs wat hulle wil keer. Die boewery het handuit geruk en die regering se passiwiteit terwyl ons ekonomie aangeval word, skep die klimaat waarin ons almal gyselaar gehou word. Dit is niks anders as ekonomiese oorlogvoering nie, en dit moet so hanteer word.

Ons beroep op die veiligheidsmagte is om ferm op te tree. Solidariteit het ook sy lede gevra om inligting te verskaf met die oog daarop om 'n dossier op te stel om self strafklagte op te stel. Die orde moet eers herstel word voordat normale onderhandelinge kan hervat. Saboteurs durf nie toegelaat word om 'n onderhandelingsproses te dikteer nie. Hul gedrag moet ook nie gevoed word nie, maar gestraf word.

 

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Dirk Hermann


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close