Algemeen, Nuus -

Estina Melkery: Kom ons praat 'n bietjie oor korrupsie

Sekerlik een van die bekendste filosowe van alle tye, die Atener Plato, het reeds in ongeveer 380 v.C. hierdie woorde in sy boek Die Republiek geskryf: “Dissipels van filosofie … het geweet dat daar nie een is wat ooit eerlik optree in die administrasie van die state nie, ook nie een helper wat hom sal red wat die saak van die regverdige voorhou nie”.

Vir so lank as wat die mens al oor sake van die staat dink, is daar hierdie probleem: korrupsie.

Die ontleding van die probleem is in hierdie geval 'n vinnige en eenvoudige proses: Waar daar 'n gemeenskap is, vorm leierskapstrukture organies, soos wat probleme aangepak moet word.  Waar leierskapstrukture vorm, is daar mag en invloed.  Mag en invloed kan gekanaliseer word om sekere doelwitte te dien.  Die idee van mag en invloed is om die mense, wat hierdie leier met hierdie mag en invloed verkies het, se situasie te verbeter.  Die werklikheid van mag is dat die leier soms sy of haar eie belange bo die belange van die kiesers stel, en dan besluite neem wat hom of haarself bevoordeel.  Wanneer belasting daarby bygevoeg word, is dit nie meer net die mag van die gemeenskap as 'n groep individue wat in die leier verenig en vergestalt word nie, maar ook geld van die gemeenskap af.  Hierdie leier, of leierskorps, het dan nou mag, invloed, en geld.  Die gevolge hiervan was dikwels, soos wat die geskiedenis ons leer, skatryk leiers en brandarm bevolkings.  'n Praktiese metafoor hiervoor is die Dooie See in Israel – die Jordaanrivier vloei in en voorsien hierdie massiewe watermassa van vars, lewende water, maar dié water vloei nie in klein stroompies verder nie, dit stop net daar, met die gevolg dat die gebied suid van die Dooie See droog en dor is.

Waar leiers korrup is, vloei geld organies vanaf die belastingbetaler en staatsprojekte by die staatskas in.  Die leier hou dan 'n groot deel van daardie geld vir hom- of haarself, deur dit op slinkse wyses uit die groter sisteem uit te kry.  'n Goeie verhouding met besigheidslui wat hulle nie deur hoë morele waardes aan bande laat lê nie, help dikwels in hierdie lekkasieproses.

Met hierdie uitgerekte inleiding is dit miskien tyd om na 2018 terug te keer, en na die land Suid-Afrika.

In Suid-Afrika is die korrupsie op 'n vlak waar dit as endemies beskryf word.  So normaal is dit om onder die tafel handel te dryf, dat daar maatskappye is wat hiervoor begroot.  In 2011 het die hoof van die spesiale ondersoekeenheid, Willie Hofmeyr, aangevoer dat tot 20% van die Bruto Binnelandse Produk op een of ander manier deur korrupsie van die eintlike doel af weg gekanaliseer word.

Nog een van die grootste probleme van Suid-Afrika, volgens die ANC, is 'n tekort aan grond en landbouhulpbronne vir swart mense.  Hoe swart mense grond en landbouhulp kan ontvang, is een van die primêre onderwerpe tydens verkiesings, parlementêre debatte en staatsredes.  Dan hoor jy van die Estina-melkery – R220 miljoen wat vir swart suiwelboere opsygeskuif is, waarvan na bewering slegs R2 miljoen inderdaad vir daardie doel gebruik is.  Lees ons dan reg?  Verstaan ons dan nie hierdie syfers verkeerd nie?  Is dit moontlik dat 'n leierskorps wat hulself daarop roem dat hulle die bevryder van die mense is, meer as 99% van die geld wat vir opheffing bedoel was, so sal kanaliseer dat dit nooit by die mense uitkom wat dit die nodigste het nie?  Ons moet sekerlik verkeerd lees, dit kan sekerlik nie wees nie – kan dit?

Vir armes en magteloses om hul armoede of magteloosheid as verskoning te gebruik om te roof en te plunder is misdadig en veragtelik – maar vir rykes en maghebbendes om hulself verby die grense van menseverbeelding te verryk ten koste van die armste van arm mense, daarvoor het ons nie woorde in Afrikaans nie, ten minste nie wat ons kan publiseer nie.

'n Mens het hierdie beeld van die ryk persoon wat 'n kind se spaarvarkie gaan leegmaak om sy vriende se partytjies, of dan nou troues, te betaal.  Dit strek ver verby korrupsie; dit is wreed, dit is gemeen, en dit is harteloos.

Die Amerikaanse skrywer Simon Sinek het in 2016 gesê 'n bevolking kry die leiers wat dit verdien.  Hy sou dalk argumenteer dat hierdie einste mense, wat landbouhulp moes kry maar nie het nie, vir hierdie leiers gestem het, en daarom het hierdie dinge met hulle gebeur – maar sekerlik was hierdie mense nie wreed, gemeen, of harteloos nie?  Ons as bevolking verdien beter.  Ons verdien leiers wat nie steel nie, veral as ons in ag neem dat hulle massiewe salarisse ook deur ons befonds word.  Ons verdien leiers wat hul sukses nie meet aan hul kinders se salarisse of poste nie, maar aan die afname in werkloosheid, die toename in welvaart, en ons kort leiers wat om hemelsnaam net 'n bietjie omgee vir die mense wat hulle veronderstel is om te lei.

Plato was, volgens die meeste navorsers, een van die slimmer mense wat al op hierdie aarde rondgestap het. As hy dus sê daar is geen leier wat eerlik is nie, moet ek dalk maar begin luister – maar ek wil so graag hoop, ek wil so graag glo dat hy verkeerd was.

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close