My Gesondheid -

Faktore om te oorweeg as jy jou mediesefondsplan wil verander

Om jou voordele-opsie by jou mediese skema te hersien, kan lyk na ’n ingewikkelde en oorweldigende taak. Deur egter ’n paar uur af te staan om jou dekking na te gaan en seker te maak jy verstaan jou voordele, kan jou later heelwat bekommernis en geld spaar.

Sou jy vind dat jy jou mediesefondsplan moet verander, moet jy dit nou doen om te verseker dat jy tydens die feesseisoen kan ontspan in die wete dat jy gedek is vir volgende jaar.

Waar begin ek?

As ’n lid van ’n mediese skema moet jy jou skema se voordele-opsies vir 2017 evalueer op grond van jou persoonlike omstandighede, wat tydens 2016 kon verander het. ’n Hersiening van jou mediese fonds behels dat jy die voordele wat jy nodig het, opweeg teen hoeveel jy kan bekostig om by te dra.

’n Goeie beginplek is om na die rekord van jou mediese uitgawes vir die jaar te kyk en dit te vergelyk met die verskillende voordele-opsies wat jy beskikbaar het. Veranderings in jou persoonlike omstandighede sal ook bepaal hoe jy die verskillende voordelekategorieë prioritiseer en watter opsie dus die beste by jou behoeftes sal pas.

Wat moet ek oorweeg?

Jy moet faktore soos of jy aan ’n chroniese toestand ly en of dag-tot-dag-dekking vir jou belangriker is oorweeg. Indien jy byvoorbeeld oorweeg om met ’n gesin te begin, kan kraamvoordele vir jou belangrik wees.

Indien stygende premies ’n probleem is en jy dit nie meer kan bekostig nie, stel kenners voor dat jy bepaal watter voordele prioriteit moet geniet en dan ’n opsie soek wat daardie voordele bied, maar teen ’n laer prys. Voordele-opsies wat jou keuse van mediese diensverskaffers beperk, bied byvoorbeeld steeds die voordele wat jy benodig, maar teen ’n laer premie. Jy kan ook oorweeg om dag-tot-dag-voordele te verbeur en self daarvoor te betaal.

Dis egter belangrik om te onthou dat wat in die verlede gebeur het, nie altyd kan voorspel wat toekomstig voorlê nie. Jy moet seker wees dat jy beskerm is teen toekomstige gebeure, veral ernstige gesondheidsprobleme wat baie duur kan wees om te behandel.

Bronne: www.fanews.co.za, www.medihelp.co.za

  •  
  •  
  •  
  •  
wilmarie Deur wilmarie


Leave a Reply

Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close