My Werk -

Faktore wat werkstevredenheid bepaal

Jy spandeer die meeste van jou tyd by die werk en daarom is dit belangrik dat daardie tyd vreugde en vervulling vir 'n mens bring. Werkstevredenheid kan omskryf word as 'n genotvolle of positiewe emosionele toestand wat uit waardering vir jou werk of werkservaring spruit. Dit word beïnvloed deur persoonlike en organisatoriese faktore, maar wat is die belangrikste faktore wat sal verseker dat jy gelukkig is in die beroep wat jy beklee?

Navorsing toon dat werksekerheid deur verskeie generasies as een van die belangrikste faktore vir werkstevredenheid aangewys is. Kort op werksekerheid se hakke is vergoeding en die geleentheid om vaardighede te gebruik. Derdens is 'n goeie verhouding met jou direkte lynhoof ook 'n bepalende faktor vir werkstevredenheid. Ander faktore wat uitstaan, sluit in: kommunikasie tussen senior bestuur en werknemers, erkenning van werkgewers vir werknemers se prestasie, veiligheid in die werkplek, sekuriteit en outonomie, en onafhanklikheid.

Aan die anderkant speel jou persoonlike ingesteldheid en persoonlikheid, kulturele faktore asook die werk self 'n groot rol wanneer dit by werkstevredenheid kom. Indien jy nie gelukkig is in jou werk nie, kan dit jou lewenskwaliteit beïnvloed, nie net by die werk nie, maar ook in jou persoonlike lewe.

Jy gaan aan elke verskoning in die boek dink om nie werk toe te gaan nie, jou produktiwiteit, deelname en toewyding gaan ook afneem, en voor jy jou oё uitvee kan dit lei tot ontslag.

Dit is uiters belangrik dat elke persoon in die werkplek op hierdie faktore ag moet slaan en indien jy agterkom dat jy nie tevrede is in of by jou werk nie, moet jy dadelik stappe doen om tevredenheid te verbeter. Jy kan met jou lynhoof gaan gesels en vir hom of haar vertel waar jou belangstellings lê. As jy voel jy word nie vergoed vir die werk wat jy doen nie, moet jy praat voor dit te laat is.

Jou werk is een van die faktore wat jou as mens vorm, daarom is dit belangrik dat jy seker maak jy is gelukkig.

  •  
  •  
  •  
Wilmarie Brits Deur Wilmarie Brits


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close