Algemeen, Gemeenskappe -

Familie spandeer Kersfees agter tralies

Deur Reon Janse van Rensburg

 

Die son trek water (kan Kaapstad dit bekostig?) en die jaar ook! Dit is September en almal se wekkers kry nog 'n kwartier se dagslapie by. Die verkeer eis sy emosionele tol en verander selfs die bestes onder ons in swaargewigboksers wat eerste die uitklophou wil plant op 'n (on)verdiende bestuurder wat net so moeg soos jy is!

As die Gautrein maar net oral kon loop, dink jy hardop terwyl jy vir die derde keer die week op die N1 vassit …

Op 'n warm Donderdagmiddag, in 'n warm motor, gebruik jy die VVO-lugreëling (vier vensters oop), want gisteraand het jy weer op eNuus gehoor dat die brandstofprys vir die soveelste maal die jaar weer gaan styg. Die regte lugreëling is 'n historiese ornament wat deel is van jou motor, maar nes die ou vlag gebêre word en net onder die strengste omstandighede gebruik of uitgehaal mag word.

In die hitte van die dag dwaal jou gedagtes en die dagdromer in jou ontwaak. Dit is immers selfs veiliger om te dagdroom in die verkeer as om in die nag in jou huis te droom.

Skielik bevind jy jou in jou gedagtes op 'n vars geskraapte grondpad, een van daai paaie waaroor die tydskrif Weg graag skryf as alternatiewe roetes na die Kaap, of jy ry met 'n ompad langs na die besige strande van Natal en al droom jy daaroor (soos nou), is dit die paaie waarvoor jy nooit regtig die tyd het om aan te pak nie. Jy weet mos … Mamma wil eers koekies koop by die padstal waar sy jaarliks stop, die kinders grom omdat die selfoonontvangs in die middel van nêrens verdwyn en 'n mens RSG skaars kan opvang. Natuurlik waarsku jou buurman jou dat jy versigtig moet wees, want om 'n pap band langs die pad te ruil is niks, maar om twee pap bande te moet ruil, dis nou vir jou 'n storie!

Nogtans besluit jy dat hierdie jou dagdroom is en daarom sal jy droom. Jy sien blomme en vlaktes en vlaktes wat oop lê. Daar is nie 'n motor in sig nie, nie 'n mens nie … en jy gebruik selfs die regte egte lugreëling. Alles loop net reg, nie omdat jy noodwendig die regte bakkie ry nie, maar omdat jy vir die eerste keer in 'n jaar kan ontspan! “Ons gaan see toe!”

Na 'n rustige rit, nes die tydskrif dit beskryf het, en 'n heerlike nagrus in 'n klein dorpie met grondpaaie waar ongepasteuriseerde plaasmelk en vars gebakte broodjies nog verkoop word, bereik jy jou bestemming. Die telbord lees so:

Bande wat vervang moes word: 0 ('n Man mag droom.)

Vroue wat kwaad is: 'n Halwe een. Sy was kwaad tot sy lekkerder koekies in die pragtige dorp ontdek het!

Kinders wat grom: 0 – Jou dataverbruik by die huis is aansienlik opgestoot voor die vakansie en jou kinders het vooraf besluit om die nuutste reekse en flieks af te laai, asook al die nuutste musiek. Januarie gaan 'n stywe maand wees, maar gelukkig spaar jy 'n paar rand omdat jy jou DStv gekanselleer het.

Die vis byt, die kinders word nie gesien of gehoor nie, mamma eet haar koekies en die vakansie is te heerlik.

Kersdag breek uiteindelik aan en heerlike lekkernye sorg daarvoor dat daar jolig fees gevier word op die strand. Jy het al vroeg jou plekkie op die strand met 'n sambreel en twee kampstoele gaan reserveer. Kersdag raak dit mos besig! Almal kom nuwe foto’s neem vir hulle Instagram- en Facebook-vriende.

Sussie tel skulpies op en kom spog met 'n hele inkopiesak vol. Sy gaan dit blykbaar aan al haar maats by die skool uitdeel.

Mamma durf die golwe aan en word gerol dat sy die bostuk van haar bikini verloor! Jy wil jou natuurlik nog doodlag soos sy tevergeefs probeer toehou toe die stoel onder jou boude ingee. Ek het by Marelize se ma aangesluit en kon net die f-woord laat opklink en en die buurvrou, wat teenaan jou kom nesskop het, jou vies aankyk.

Terwyl jy nog eers met jou boep onderhandel om plek te maak sodat jy kan opstaan, verskyn Boetie met 'n reusekreef! Jy wil hom nog gelukwens toe daar 'n figuur agter jou verskyn.

“Meneer, is dit jou seun, daai?”

Die stem is dié van 'n reusepolisieman wat in sy blou uniform daar staan.

“Ja,” sê jy terwyl jy nog die sand van jou lyf probeer afskud.

“Meneer, het julle 'n lisensie om kreef te vang?”

Intussen daag Mamma op sonder haar top en sy probeer haar bolyf toehou.

“En die mevrou? Is u bewus daarvan dat dit onwettig is om kaal op 'n openbare strand rond te loop?”

Jy probeer jou bes om te verduidelik, maar dinge raak nie beter nie.

Intussen kla die buurvrou by die polisiebeampte oor jou kru taal. Dit is nie net meer vulgêr nie, maar ook teen die wet!

Sussie wil die situasie red en bied 'n paar van haar skulpies aan die polisiebeampte aan, maar in plaas daarvan dat hy dink sy is oulik, is sy toe ook in die sop omdat sy meer as 'n kilogram se skulpies opgetel het en dus daarmee handel dryf of daarmee smokkel. Dit is ook blykbaar teen die wet!

Skielik lyk twee pap bande, 'n norse vrou en twee knorrige kinders na die minste van jou probleme. Jy verlang selfs na die Johannesburgse verkeer en al die liewe taxibestuurders. Selfs 'n besoek van jou skoonma of 'n vergadering met jou baas op 'n Maandagoggend klink na 'n eksotiese vakansie!

Jy word geboei en alhoewel die situasie daarvoor smeek, is jy te bang om nog 'n vloekwoord te uiter. Mamma se bolyf word met 'n handdoek toegemaak en al silwer wat sy vandag om haar gewrigte gaan voel is die silwer boeie van die SAPD. Boetie en Sussie word deur maatskaplike werkers vergesel en jy sien nou al die opskrif in Sondag se Rapport – “Familie spandeer Kersfees agter tralies”.

'n Getoet ruk jou terug na die realiteit en nes jy die verkeer weer wil aanpak, ry 'n taxi reg voor jou in. Onmiddellik is jy die swaargewigbokser, reg om te veg, boepens en al – gelukkig mag jy nog in Suid-Afrika in die verkeer vloek!

 

  • 6
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close