Algemeen -

Februarie die kenmerkende “Maand van die liefde”

Bloedrooi rose se pryse is amper duurder as petrol pryse en die winkels se rakke kreun van sjokolades en hartversierings, koffie bekers met romantiese boodskappe op en allerlei plante en blomme om kopers te motiveer om tog weer 'n keer dié jaar op 14 Februarie hulle Valentyn te bederf!

Die wêreld is gaande oor Valentynsdag en oraloor word geliefdes herinner aan dié spesiale dag van die liefde.

Tog kan ek nie help om hartseer te wonder waarom daar so op liefde gefokus word slegs een maal 'n jaar nie. Moenie my verkeerd verstaan nie – ek is versot op sjokolade, hartjies, rose en die romantiese gedagte van liefde, maar my groot bekommernis is dat daar nie soveel moeite met die liefde gedoen word die res van die jaar nie, veral in huwelike.

'n Huwelik is konstante werk en moeite doen, en my droom is dat daar nie net één dag van die jaar liefde, hartjies, blomme en bederfies aangedra moet word nie, maar dat dit elke dag van die jaar aangedra sal word.

Nou ja, ons weet almal dat dit onmoontlik is om 365 dae van die jaar sjokolade te eet, maar daar is ander liefdesdade en liefdestale wat ons kan gebruik om ons maats elke dag te verseker van ons liefde en toewyding.

Sommige mense hou van mooi en opbouende woorde of diensbaarheid, terwyl ander weer hou van aanraking en nog ander weer van kwaliteit tyd saam hou.

Liefde is tog 'n huwelik se fondament. Dit is hoe God ons in liefde bymekaar gesit het tot die dood ons skei en selfs daarna.

Maar, dis tog so maklik om deesdae te skei of om in 'n “geriefshuwelik” saam te leef wanneer liefde selfsugtig geraak het, en dit te veel moeite geword het en ons verval het in ons eie slegte gewoontes en patrone terwyl ons op die ander party se swakhede fokus.

'n Baie bekende prediker se nou die dag: “Jy diens tog nie 'n kar wanneer hy eers gebreek het nie, maar jy diens hom sodat hy nie breek nie – so waarom belê ons nie in ons huwelike voor daar moeilikheid is nie. 'n Mens is so geneig om eers hulp te kry as die moeilikheid daar is en soms is dit alreeds te laat.”

Die Bybel gee ons duidelike riglyne vir die huweliksdiensplan in 1 Korintiërs 13:4-7: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”

Soms vergeet ons as getroudes hierdie spesifieke woorde oor vriendelikheid, jaloesie, opgeblasenheid, verbitterdheid, verdraagsaamheid en soveel meer en dalk is tyd om dit net weer in ons gedagtes vas te maak en na te dink oor hoe ons dit kan toepas teenoor ons huweliksmaats.

Uit eie ondervinding het ek weer die afgelope tyd 'n paar lesse geleer:

  1. Dit is belangrik om eers selfondersoek in te stel en te kyk waar jy kan verander om 'n beter huweliksmaat te wees, alvorens jy vinger wys na jou maat se foute en tekortkominge.
  2. Die lewe gebeur: familie krisisse soos dood, gesteelde karre, geld wat opraak, werksdruk, kinders ensovoorts plaas altyd druk op 'n huwelik. Moet egter nooit jou maat laat voel asof jy hulle wegstoot of uitsluit in tye van frustrasie en hartseer nie.
  3. Kommunikasie! Praat, gesels en deel: Dit is so belangrik om vir ons huweliksmaats presies te sê hoe ons oor iets voel, want net soms is daar 'n klein insident wat ons ontstel en dan begin ons broei op die verkeerde afgeleide gedagtes. Later word die spreekwoordelike “molshoop” 'n massiewe berg wat kan ontplof as dit te lank gelos word en die regte atmosfeer geskep word vir 'n perfekte uitbarsting. Dus, praat onmiddellik met jou maat as iets jou pla – kry die feite oor hoe hy of sy die insident bedoel het en sorteer dit dadelik uit.
  4. As jy “ja” sê vir iets, dan sê jy “nee” vir iets anders. Met ander woorde, as jou vriende jou vra om 'n bier na werk te gaan drink en jy weet dit gaan nie net by een bier bly nie, se jy “ja” vir jou vriende en “nee” vir jou wederhelf en kinders wat dalk opgewonde by die huis sit en wag om 'n beloofde fliek te gaan kyk.
  5. Julle is één: liggaam, siel en gees. Dus, droom saam, spandeer alleentyd saam en wees weer één.
  6. Die huwelik is 'n konstante reis met uitdagings en harde werk en nie net 'n eindbestemming nie.

Kom ons “diens” ons huwelike hierdie jaar gereeld en maak dit 'n Valentynsjaar!

Geniet die res van hierdie ongelooflike reis.

 

 

 

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Algemene Skrywer Deur Algemene Skrywer


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close