Deur Paul Joubert

 

Met die eerste oogopslag lyk dit asof die syfers oor indiensname in die formele sektor van die ekonomie wat Dinsdag deur Statistieke Suid-Afrika vrygestel is 'n vreeslike daling van 161 000 poste oor die afgelope jaar toon. Die koerantopskrif in Woensdag se Business Day lui dan ook: “Job losses mount as economy stumbles”. Is dit 'n ware beeld van wat in die arbeidsmark aangaan?

 

In werklikheid word hier 'n fout begaan. Daar word slegs na die syfers vanaf die tweede kwartaal van 2014 tot die tweede kwartaal van 2015 gekyk. Wanneer dit só in isolasie beskou word, kom die feit dat daar 'n spesifieke uitskieter vir indiensname in die formele sektor in die tweede kwartaal van 2014 was, nie na vore nie. Die verkiesing wat in 2014 plaasgevind het, het meegebring dat tienduisende meer mense (in hierdie opname op sowat 141 000 geskat) tydelik in diens van die regering, spesifiek die Onafhanklike Verkiesingskommissie, was. Dit is 'n gebeurtenis wat almal tog weet slegs op 'n spesifieke tyd plaasvind. Om dan paniekerig te raak omdat daar 'n daling in indiensname oor 'n jaartydperk is, is onsinnig.

 

Vergeleke met twee jaar gelede is die syfer vir formele indiensname vir die tweede kwartaal van 2015 slegs 21 000 laer – dit is slegs 0,2% minder binne twee jaar. Dit dui eintlik op stabiele syfers binne die formele arbeidsmark. Tog, binne die wyer konteks van 'n groeiende bevolking en uiters hoë werkloosheid, is slegs stabiele syfers in die formele arbeidsmark glad nie toereikend nie. Daar is sterk groei in indiensneming nodig – iets wat met die staat se huidige en beplande ekonomiese beleid nie sal realiseer nie. Die koerant fokus op die verkeerde syfer – daar is moeilikheid in die arbeidsmark, maar nie dít wat deur die berig geïdentifiseer word nie.

  •  
  •  
  •  
Deur cilleste


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close