Algemeen -

Gaan die EU vou voor Brexit voltrek word?

Toe die Britte op 23 Junie vanjaar gestem het om die Europese Unie (EU) te verlaat, was die markte op hol, die pond het skielik geval en skokgolwe het deur die wêreld getrek. Brittanje het die sondebok van die wêreld in Europa maar ook elders in die buiteland geword. Sedertdien het die Britse ekonomie al van sy beste maande in ’n lang ruk vanuit ’n kleinhandel- en vervaardigingsperspektief beleef en die wêreld het nie eens naastenby tot ’n einde gekom nie.

 

brexitNou hoekom dan die paniek en dermuitrygery toe die “verlaat”-kamp gewen het? Dis omdat die EU sóveel permanensie en geloofwaardigheid verwerf het in Europa maar ook in die wyer wêreld dat daar nie ’n alternatiewe werklikheid sonder dit bedink kon word nie. Kortom, die EU het sekulêre Europa se nuwe god geword en is dus skynbaar bo enige kritiek verhewe. Enige land en sy bevolking wat dit durf vaarwel roep, was per definisie en by uitstek as ’n klomp fasciste uitgekryt. Die EU-skeptici in die onderskeie Europese lande is nie as ernstige aanspraakmakers op mag geag nie en daar is gedink hulle sal nooit verkiesings wen nie. Hulle is, myns insiens in elk geval, grootliks verkeerdelik met elke denkbare beskuldiging geteer en veer terwyl hulle, nes leiers in feitlik elke land op aarde, besorg is oor hul lande en die impak wat negatiewe kragte daarop het. Om teen die EU se voorskrifte oor immigrasie, soewereiniteit, kultuur en handel te wees, beteken nie (outomaties in elk geval) jy is teen immigrasie en handel in die algemeen nie of dat jy ’n onbekeerlike rassis is nie. Al die EU-skeptiese bewegings en partye is nie eenders geskape nie: Sommige spreek tot nare xenofobiese neigings terwyl ander vryheid en gesonde nasionalisme koester.

 

Ewenwel, die laaste paar maande het gewys hoe gou kan dinge verander. In die tweede helfte van 2016 het die EU se krake duidelik begin wys en om die Brexit-stemmery daarvoor te blameer, is soos om die eerste passasier wat van ‘n sinkende skip afspring te blameer dat sy dit gedoen het. Die skip het van meet af probleme gehad. Sedertdien het Geert Wilders se Partij voor die Vrijheid begin voorloop in die peilings voor volgende jaar se Nederlandse verkiesing. Die Alternatief vir Duitsland sal dalk nie gou ’n verkiesing wen nie, maar hulle maak opgang. In Frankryk staan die Front Nasionaal sterk (nadat hy homself nuut geposisioneer het) en konserwatiewe partye maak ook opgang in Denemarke, Finland, Oostenryk en Switserland. In Italië het een van die EU se grootste kampvegters, premier Matteo Renzi, pas bedank toe hy ’n referendum oor grondwetlike wysigings verloor het. In Oos-Europa regeer konserwatiewe partye in Slowenië, Pole en Hongarye. Daar is byna nie ’n land in Europa vandag wat nie argwaan jeens die establishment koester of naby daaraan is om hulle uit te stem nie. Dit geld ook ander Westerse state, soos Donald Trump se sege in die Amerikaanse presidentsverkiesing nou ook bewys.

 

Die groot rede hiervoor is dat die EU as oorkoepelende struktuur sy magte oorskry het, veral op die gebied van immigrasie. Met die skerp toename van vlugtelinge (humanitêr, maar ook ekonomies) uit die Derdewêreld oor die afgelope anderhalf jaar was die EU se voorskriftelikheid oor die aantal immigrante wat gehuisves moet word die laaste strooi. Dit was egter nie al faktor nie en daar is deur die onverkose EU-burokrate op feitlik elke terrein pligte en perke opgedwing. Terwyl die unieke kulture van die onderskeie lidlande en die Westerse kultuur in geheel deur die EU doelbewus maar ook op onopsetlike maniere ondermyn en uitgerangeer is, is mense met andersoortige en selfs vyandige kulture aan die lidlande opgedwing asof kultuur relatief is en nie werklik bestaan nie. Die opgang van regse partye en die inheemse bevolkings se eie afkeur van hierdie soort akkulturasie het ’n byna vanselfsprekende en onvermydelike teenslag opgelewer, al het dit ’n ruk geneem.

 

Dit als laat die vraag ontstaan oor of die EU enigsins nog gaan bestaan teen die tyd dat Brittanje se aktivering van Art. 50 van die Lissabon-verdrag in werking tree en die Verenigde Koninkryk dus sy lidmaatskap van die EU verloor. Dit gaan waarskynlik eers ten vroegste in 2019 wees en as die laaste ses maande enige aanduiding is, gaan daar nog báie in 2017 gebeur wat die politieke landskap van Europa drasties kan verander. As nog regse partye aan bewind kom en die onvergenoegdheid in die onderskeie lande verder toeneem, is dit nie vergesog nie dat die EU in die afsienbare toekoms heeltemal ontbind en afgeskaf kan word. Angela Merkel as die prominentste gesig van die EU se politieke posisie is prekêr om die minste te sê en sy is buitendien met ander politieke gevegte besig. En met Renzi weg en ’n stryd tussen ’n sentrum-regse en verregse kandidaat in Frankryk, lyk die toekoms van die EU algaande uiters duister en onseker.

 

Daar is myns insiens ‘n moontlikheid dat Brexit nie eens voltrek sal hoef te word nie want die EU as sulks kan straks skipbreuk ly. Ek vermoed die EU kan dieselfde roete as die eertydse Tsjeggo-Slowakye loop en homself vrywillig ontbind deur middel van ’n soort fluweelrewolusie gevolg deur ’n fluweelskeiding, oftewel fluweelontbinding. Nes met Trump se sege, kan iets wat die norm is in ’n kort tydjie heeltemal omvergewerp word en die EU is bloot die somtotaal van sy dele. Dit lyk tans asof Brexit meer vir die spontane eenheid van Europa doen as wat die EU ooit het. En die EU se gewildheid is laag: Navorsing deur die Pew Research Centre vanjaar in 10 EU-lidlande het getoon dat slegs 51% van die respondente die EU in ‘n gunstige lig beskou. Dis steeds baie gewild in Pole, maar in Frankryk is 61% van die respondente ontevrede met die EU en in Spanje is hierdie syfer 49%. In Duitsland is dit 48%.

 

Die EU kan miskien nog vir ’n wyle met ons wees, maar sy geloofwaardigheid is erg geknou en hy sal homself moet vernuwe as hy wil bly voortbestaan. Sy huidige toedrag van sake is nie genoeg om die middelpuntvlietende kragte teen te werk nie. Die vraag is net waarmee die gedagte agter die EU, asook sy strukture, vervang sal word indien dit wel tot niet sou gaan – en of dit wenslik, geskik en doeltreffend sal wees vir hedendaagse Europa.

 

 

 

 

 

 

 

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close