Algemeen -

Geagte Mnr. Lesufi

Op 4 April het ek eers een, en daarna verskeie ander berigte gelees waarin u aangehaal is. Die aanhalings spruit vanuit ’n opname tydens ’n sogenaamde geheime vergadering waarin u luidkeels verkondig dat onderwysfondse binne die Gautengse Departement van Onderwys op so ’n mate aangewend moet word dat tenders aan “u mense” toegeken kan word sodat hulle daaruit munt kan slaan.

Sonder aarsel was daar onmiddellike reaksie vanuit die geledere van Solidariteit asook verskeie politieke en burgerregtelike organisasies wat nie net ’n ondersoek nie, maar ook u kop as LUR van onderwys geëis het. In ’n land waar korrupsie, veral deur middel van tenderbedrog, elke dag die voorblaaie haal, kan so ’n openlike plundering van staatshulpbronne nie oorgesien word nie.

Ek het u reaksies hierop gelees en dit is veral die laaste daarvan waarop ek wil reageer. Ek sien op sosiale media u is seergemaak. En, dat u dié wat teen u oortree het, sonder dat hulle dit verdien, vergeef. Ek lees ook dat al waaraan hulle skuldig is, was om verkeerdelik te berig dat u ’n “geheime” vergadering bygewoon het. Ek lees egter nie dat dit wat u tydens daardie vergadering kwytgeraak het, onwaar is, of dat u dit enigsins ontken nie.

Ek wil egter ook van die geleentheid gebruik maak om te verwys na u verdere plasing op sosiale media waar u Solidariteit klaarblyklik daarvan vrystel om om verskoning te vra. Dit is natuurlik omdat ons aantygings nie geskoei is op die aard van die vergadering nie, maar eerder op die inhoud daarvan: die, nou openlike, sameswering waar u die fondse wat deur die Departement van Onderwys aangewend moet word tot so ’n mate wil kanaliseer dat “ons mense” hulleself uit daardie fondse kan verryk. Dit is natuurlik ook waarom Solidariteit eis dat u die pos ontruim; nouliks iets waarvoor verskoning, van ons as eiser, gevra kan word.

En so wonder ek, Mnr. Lesufi, het ú al om vergifnis gesmeek? By die talle kinders en onderwysers wie u graag eenkant toe skuif sodat u blinde ideologieë en vendettas oor ras en taal kan nastreef? Het u al om verskoning kom vra vir die feit dat die groeiende leerlinggetalle elke jaar met minder skole tevrede moet wees – dat u 180 skole minder het om te bied, maar steeds volhou dat daar plek gemaak moet word vir elke kind ongeag die werklike kapasiteit tot beskikking? Vir u aanmoediging van die plunder van onderwyshulpbronne?

Hierdie saak waaroor u onlangs in die nuus was, het die donker wolk van tenderbedrog oor u kop laat hang. Weer. Soos vroeër vanjaar toe die Gautengse Departement van Onderwys meer as R400 miljoen aan die ontsmetting van skole spandeer het. En, net soos die vorige keer, ontken u nie die aantygings van onderduimsheid nie, maar gooi u eerder hande in die lug oor klein tegniese punte wat die aandag van die werklike kwessie moet aflei.

Ek weet eintlik nie wat die ergste is nie. Hoe u Departement meer as R400 miljoen kon spandeer op die ontsmetting van skole waarvan u kwansuis geen benul gehad het dat die diensverskaffers korrup is of nie, of hoe u openlik “ons mense” aanmoedig om betrokke te raak by die plunder van broodnodige onderwyshulpbronne.

Dit voel vir my of daar verwarring is oor wat werklik van ’n LUR verwag word. Volgens my moet die LUR van onderwys bou. Letterlik. Skole. Hy moet ook ontwikkel, sisteme in plek kry om die skole optimaal te laat funksioneer en onderwysers deurentyd oplei en toerus met dit wat hulle nodig het om kwaliteit onderrig te kan bied. U plaas egter uself, in stede daarvan, in ’n bedenklike posisie waar u mense openlik aanmoedig om hul hande op staatsgeld te lê. Nêrens dink u aan die implikasies nie. Nêrens dink u aan die bevoegdheid van hierdie mense en hulle sogenaamde produkte of dienste nie. Kwaliteit speel geen rol nie. Solank “ons mense” hulle hande op die geld kry.

En so kan ek nie help om te wonder nie … Sê my, mnr. Lesufi, wie is hierdie “ons mense”  waarna u verwys? Is dit swart mense? Is dit ANC-kaders? Is dit staatsamptenare se familielede of vriende wat saam skep wanneer dit tenderpap reën? Moet ons nog enigsins verbaas wees dat u uself hieraan skuldig maak?

Dalk is die ergste nie die “wat” wat u sê nie, maar die dat. En dit is dat u hierdie wandade pleeg teen die weerloses; dié wat nog gevorm moet word en wie se toekoms nog gebou moet word. Teen die kinders van ons land; die leiers van môre. Vir hulle is u geen voorbeeld nie en u bewys aan hulle geen guns nie.

Intussen ly die skole en die onderwysers ook daaronder. Leerlinge het reeds nie almal plek nie. Hulle word al vir jare in oorvol klasse geprop in geboue wat nie naastenby die kapasiteit het nie. Hulle word geforseer om in ’n vreemde taal te leer omdat daar nie nuwe skole in voertale volgens demografie gebou word nie. En die langtermyn gevolg daarvan is lae matriekslaagsyfers en hoë skoolverlaatsyfers; kinders sonder ’n genoegsame opvoeding wat verdere leer sou kon verseker.

Dus, mnr. Lesufi, roof ú korstige ideologie en korrupte neigings ons kinders van hul toekoms. U stroop hulle van waardigheid en ontneem hulle van die kans om te kan leer. Maar u verontskuldig uself en weier om reg te doen aan hulle wat afhanklik is vir dit wat u Departement veronderstel is om te bied.

Die regte ding is nie om mense te vergeef omdat hulle gesê het die vergadering was in die geheim nie. Die regte ding is om terug te tree. Om ’n onafhanklike en behoorlike ondersoek van stapel te stuur en om korrupsie wortel en al uit te ruk. Dit regte ding is om kinders aan te moedig om hul onderrig in hul moedertaal te ontvang waar hul kultuur- en waardeoordrag behoue kan bly. Die regte ding is om op te hou met heksejagte en sentralisering sodat gemeenskappe beheer oor hul skole kan neem. Én, die regte ding is om deurentyd die vraag na gehalte onderwys te beantwoord met meer funksionele skole wat volgens die werklike behoefte gebou word sodat die honger na kennis en vaardighede deurentyd gevoed kan word en welstand uiteindelik die norm vir elkeen in Suid-Afrika kan word.

Die uwe
Johnell van Vollenhoven

  •  
  •  
  •  
Johnell Van Vollenhoven Deur Johnell Van Vollenhoven


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close