Algemeen -

Geagte mnr. Ramaphosa

Deur PB Roos

Geagte mnr. Ramaphosa

Vra nie wat die wêreld vir jou kan doen nie, maar wat jy vir jou land kan doen.

Identiteitspolitiek: die rookskerm vir die ANC se onbevoegdheid gedurende ’n krisis. Gevaarliker as enige pandemie is ’n onbekwame ver-linkse beroepspolitikus. Deur die geskiedenis heen én deur ons eie presidensie word dít baie duidelik bewys.

Sentraal aan die identiteit van die ANC is die idee dat voorafgaande ongelykhede, tot watter mate toe ook al, hul kwansuis die reg gee om skaamteloos te plunder en te verwoes vir eie gewin terwyl hulle voorgee dat dit tot voordeel van die meerderheid is.

Die kern van ’n individu se identiteit wat aan hulleself toegeëien word, is kardinaal tot die vorming van groepsidentiteit en by wyse, optrede van die groep in geheel, veral wanneer die individu ’n platform soos ’n presidensiële amp tot sy beskikking het. Hierdie hipotese kan of groot positiewe effekte meebring of soos in ons geval, katastrofiese wanorde.

’n Baie goeie voorbeeld van ’n geëiende slagoffer-mentaliteit is dié van ons regering. Hierdie mentaliteit vorm ’n groot deel van hulle identiteit wat op sy beurt hul gedrag absoluut regeer. Onse ANC het vir hulleself ’n slagoffer-mentaliteit toegeëien en dít gee hulle (blykbaar) die vryheid om sonder skaamte hulpeloos te wees.

By die Wêreld Ekonomiese Forum, virtueel te Davos, kla mnr. Ramaphosa oor die sogenaamde “nasionalisering van entstowwe” en vereis hy dat lande wat beter af is, die ANC, wat alweer bakhand staan, tog net tegemoet moet kom met ’n eenheid of twee van die entstof. Ons regering vereis – nadat hulle alle moontlike hulpbronne tot hul beskikking (waarvan daar miljarde was) verkwis het –  dat wêreldbank asseblief weer moet instaan sodat hulle verder kan verkwis. Die identiteit wat gevorm is deur ’n slagoffer van sy eie make te wees, word hier ten toon gestel.

Aan die ander kant is daar opregte burgers van die land wat getrou hul belasting betaal en niks behalwe marginalisering daarvoor kry nie. Die minderheid word blatant uitgesluit van die regering se hulpskemas en as ons belange as bykomende prioriteit beklemtoon word, gebruik u en u makkers die verlede as verweer.

Ek vra, wie is nou suinig mnr. die President? Die “welaf” lande wat nie hul staatsinkomste plunder nie en na hul eie nasie omsien? Of u party wat in SA hulpbronne weier aan sommiges gebaseer op velkleur. Mnr. Ramaphosa, ons vra nie redding van die pandemie nie. Ons vra vir verlossing van die onbevoegdes wat ons in armoede dwing.

Die verskil is egter, ons gaan nie bakhand staan en wag vir u om ’n verskil te maak nie. Ons sal self die verskil maak, want dít mnr. die President, is ons identiteit!

 

  •  
  •  
  •  
Algemene Skrywer Deur Algemene Skrywer


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close