My Werk -

Gebruik jou salarisverhoging tot jou voordeel

Wanneer dit by 'n salarisverhoging of 'n bonus kom, is ons almal daaraan skuldig om die ekstra geldjie al in ons kop te spandeer nog voordat dit in ons rekening verskyn. Alhoewel dit heeltemal normaal is, is dit baie belangrik om verantwoordelikheid aan die dag te lê wanneer dit by ekstra inkomste kom. Maak seker jy wend jou verhoging konstruktief aan. As jy skuld het, maak seker jy betaal dit af voordat jy jouself met iets bederf. Dit is ook beter om jou geld te bestee aan iets wat vir jou finansiële gemoedsrus sal gee om só teleurstelling op die lang termyn te voorkom.

Jy het baie hard gewerk vir die verhoging en daarom verdien jy dit om jouself 'n bietjie te beloon. Die geheim lê daarin om balans te handhaaf deur 'n deel van die geld te gebruik om iets te koop wat jy graag wil hê of nodig het, of selfs om lekker te gaan uiteet. Om finansiële vooruitgang te verseker, moet jy egter ook 'n gedeelte van die geld spaar.

'n Verhoging gee jou die gulde geleentheid om groot lenings soos 'n huislening te takel om só finansiële stabiliteit op jou oudag te verseker.

Indien jy meen jy het finansiële stabiliteit en dat jou skuld onder beheer is, stel ek voor dat die ekstra inkomste in 'n noodfonds belê word. Die toekoms is onseker en 'n mens weet nooit wanneer jou kar onverwags onklaar raak, of wanneer jy dalk afgelê word en jy vir ’n ruk lank sonder werk sit nie. Daarom is dit 'n baie goeie plan om jou verhoging in 'n noodspaarplan te belê. Die geld kan maklik onttrek word sou jy jouself in 'n ongunstige situasie bevind. Die ideaal is om voorsiening te maak vir tussen drie en ses maande se inkomste in so ’n fonds.

Die belangrikste wenk wat ek vir jou kan gee is om, sodra jy jou salarisverhoging ontvang, 'n behoeftebepaling te doen om te verseker jy weet waaraan jy jou verhoging moet bestee om finansiële stabiliteit te verseker.

 

 

 

 

  •  
  •  
  •  
Wilmarie Brits Deur Wilmarie Brits


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close