Algemeen -

Gee die geskenk van geskenkpapier

Die Amerikaners bestee jaarliks 3,2 miljard dollar aan geskenkpapier. Nie aan geskenke nie, net aan die papier. Nou, dit is baie geld. Volgens die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram kan twee keer soveel genoeg wees om al die hongeres in die wêreld tot in alle ewigheid te voed.

Hulle het dit nou nie heeltemal so gestel nie. Hulle het eintlik gesê Elon Musk as rykste mens in die wêreld moet vir hulle soveel gee om honger vir eens en vir altyd uit te wis. Mense het toe blitsvinnig die somme gaan maak en onomwonde gesê dat die Wêreldvoedselprogram jok. Hulle het in sommige jare al meer as 8 miljard dollar gekry, maar die hongeres is steeds met ons.

Eintlik is die VN maar een groot regeringsprogram wat, soos regerings en hul amptenare dikwels maar is, nie te mal is oor die idee dat hul monopolie op groot kapitaal deur miljardêrs bedreig word nie. Dus is die maklikste ding, al is dit ook hoe onsinnig, om die miljardêrs aan te val, hoewel hulle dalk veel meer sukses kan hê met 'n veldtog in die lyn van: “Jy het so pas R20 bestee aan papier wat jou kinders gaan verskeur. Bestee eerder soveel aan die armes.”

Dan sit ons egter steeds met die probleem dat mense, binne hul begrotings, hul geskenke moet toedraai. 'n Paar jaar gelede het ek besluit om my geskenke in koerantpapier toe te draai. Ek het geweet my meisie van destyds sou dit baie snaaks vind dat ek die Son-voorblad vir haar geskenk gekies het. “Drug bust! Kongolees stash tik in sy gat!” het vir 'n  groot gelag gesorg. Net jammer haar ouma het nie gedink dis snaaks nie. En toe dink almal anders ook nie meer so nie.

Hierdie blog is my laaste blog vir die jaar. Ek wens al my lesers, selfs dié wat net lees as ek hulle kwaad maak, 'n geseënde Kersfees en 'n voorspoedige nuwe jaar toe. Gesels gou weer.

Foto bron: Joshua Lam | Unsplash

  •  
  •  
  •  
Deur Lize-Mari Verster


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close