Gee my krag

Gebruik jy krag so spaarsamig moontlik? Of probeer jy om jou huishouding of besigheid aan die gang te hou met sonkrag wanneer jy per skedule in donkerte gehul word?

Indien jou antwoord op enige van die vrae “ja” is, sal jy voortaan soos 'n sondebok boete doen deur addisionele heffings of verhoogte tariewe te betaal vir jou poging om te oorleef of om die druk op die netwerk te verlig.

Verder sal diegene wat spandabelrig met hul kragverbruik raak, vergoed word met laer tariewe.

Maak nie sin nie? Kom ek verduidelik.

 

Eskom se besigheidsmodel is eenvoudig: hy bestaan. En vir daardie bestaansreg moet jy, die (nie-)verbruiker betaal. Álmal wat op een of ander manier van sy elektrisiteit gebruik maak, word geïmpliseer en die hoeveelheid eie krag wat jy genereer, speel geensins 'n rol nie. Eskom het dringend geld nodig, en uit jou sak sal hy dit wel verhaal.

 

Dit is dinge soos dié wat my boosmeter tot diep in die rooi stoot. Waar in hierdie lewe het jy nou al ooit gehoor dat 'n verbruiker moet opdok, en dan aanhou opdok, vir 'n diens of 'n produk wat hy/sy nie ontvang nie?

 

Wag, ons ken hierdie storielyn! Dit is presies dieselfde model wat die regering volg! Jy, die belastingbetaler, betaal 'n stewige fooi sodat die regering kan bestaan terwyl hy in ruil geen diens lewer nie en boonop nog jou geld ook steel. Verder ag hy homself onaantasbaar en gebruik hy sy mag om die leemtes wat hy laat en jy uit desperaatheid probeer vul, te reguleer en jou te ontmoedig of verbied om enigsins met eie inisiatief vorendag te kom.

 

En so volg elke departement of instelling waaraan die regering raak daardie selfde model: ek bestaan, ek beheer, ek mag vat en ek sal afdwing wat en hoe ek wil. En jy, landsburger en verbruiker, jy sal betaal en aanhou betaal sodat ek hierdie vernietigende ideologie van my kan aanhou afdwing.

 

Tog vermoed ek die regering het nie lekker rekenskap gehou van wie hy so graag onderdruk nie. Nêrens het hy in ag geneem dat mense keelvol sal raak en hom sal teenstaan nie. Hy het nie tred gehou met die vaardighede, innovasie en veerkragtigheid van Jan Alleman nie. En nimmer as te nooit het hy voorsien dat verset teen sy ongegronde mag dieselfde hoogte as sy eie geskiedkundige protesaksies sal bereik nie.

 

Verskeie organisasies en partye het reeds hul misnoeë uitgespreek. Daadwerklike optredes word beplan en 'n koors van bereidwilligheid om Suid-Afrika vanuit die donker te red, het posgevat onder elkeen wat nie op grond van 'n politieke aanstelling in 'n staatsdepartement sit nie.

 

Een vir een staan hulle op en vat hande. As 'n gemeenskap.

 

Dit is hoe hoop lyk. Dit is hoe vooruitgang bewerkstellig word en dit is hoe 'n land en sy ekonomie groei – ongeag of dit krag of infrastruktuur of opvoeding is. Dit is slegs wanneer gemeenskappe verantwoordelikheid aanvaar, onreg teenstaan en so onafhanklik as moontlik van die staat is, wat sukses werklik aan die deur kan klop.

 

Ja, Eskom en elektrisiteit is tans, soos baie ander dinge, 'n groot krisis, maar dit is nie een waarvoor daar nie werkbare en volhoubare oplossings is nie. Met genoeg druk van die publiek en drukgroepe, en met genoeg insette en verset kan ook hierdie krisis bestuur en omgedraai word.

 

Die lig aan die einde van hierdie donker tonnel is nie dié van 'n stoomlokomotief met sy steenkool nie. Dit is 'n gloeilamp wat gloei sonder 'n heffing, aangedryf deur 'n sonpaneel op iemand se dak. Dit brand helder, dit jaag die donker en dit gee my krag.

  •  
  •  
  •  
Deur Johnell Van Vollenhoven


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close