Geen staat behoort gesondheidsorg te nasionaliseer nie

Bykans almal vind die idee ontstellend dat die ANC, deurspek met korrupsie, wanbestuur en onbevoegdheid, beheer neem oor Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel. Dit is egter vir my opvallend dat sommige mense klaarblyklik meen dat indien 'n goeie regering aan bewind was die idee van so 'n stelsel wel wenslik sou wees. Dit is nie so nie. Geen sentrale liggaam, ongeag hoe eerbaar, kundig of georganiseerd die individue in so 'n bestel ook al mag wees, kan so 'n stelsel so goed bestuur as wat die alternatief, dit wil sê 'n markverwante stelsel, dit kan doen nie.

Dit is omdat 'n markverwante stelsel uit niks anders nie as 'n groot verskeidenheid spelers bestaan wat elkeen probeer om die ander se dienste te troef. Uiteindelik sal die dienste van die beste een uit hierdie versameling van individue as wenner uit die mededinging tree.

Die probleem met sentrale liggame is nie net dat hulle geen kompetisie het nie, maar ook dat 'n handjievol mense besluite moet neem oor wat vir 'n hele land moet geld. Hoe reageer 'n mens dan op die nood van die mense? Hoe bepaal 'n mens in watter rigting kapitaal bestee moet word en hoe bepaal 'n mens wat die doeltreffendste sal wees wanneer daar geensins gekyk word na verbruikers se voorkeure en behoeftes nie? Die antwoord is dat 'n mens dit nie kan doen nie.

Talle mense sal natuurlik hier verwys na ander lande waar soortgelyke nasionale gesondheidsorgstelsels wel “werk.” Kanada word as gewilde voorbeeld in hierdie verband aangehaal. Tog weet ons dat die gemiddelde wagtydperk vir medies-noodsaaklike behandeling selfs daar vanaf 9,3 weke in 1993 tot 35,7 weke in 2015 verlangsaam het. So wyk talle Kanadese geneeshere ook uit na die vryer stelsel in die VSA. Sowat 13% van dokters wat hul opleiding in Kanada ontvang het, praktiseer tans in die VSA. Vergelyk dit met die ver minder as 1% van dokters wat die teenoorgestelde weg inslaan. Ook in die geval van gesentraliseerde dienste in die Verenigde Koninkryk moet die NHS deesdae sy dienste rantsoeneer omdat daar nie geld is om meer vir alles te betaal nie. Dit is wat in die afwesigheid van markseine gebeur.

Dit is beslis 'n slegte idee dat die ANC alle gesondheidsorg wil sentraliseer. Dit is egter ook 'n slegte idee vir enige ander regering om dit te doen. Dit is doodeenvoudig nie 'n plig wat enige staat so doeltreffend kan nakom as wat die mark dit kan doen nie. Ons moet dus nie net die ANC se poging verwerp nie. Ons moet die totale beginsel teenstaan.

  • 114
  •  
  •  
  •  
Morne Malan Deur Morne Malan


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close