Algemeen -

Geinspireer om te inspireer op die strate van Pretoria

Hy slaap al vir meer as 4 000 aande op straat onder die sterre. Oor die afgelope 19 jaar het die 57-jarige Steve Loock in meer as 120 dorpe regoor Suid-Afrika gewoon; haweloos, met 'n kop vol stories en bonatuurlike hoop vir 'n beter môre. Vir die afgelope vyf jaar staan hy met groot, kleurvolle borde langs die paaie in Pretoria-woonbuurte, maar hy bedel nie. Hy sê hy bedien motoriste eerder deur hulle aan te moedig om net te glimlag. Die einde van sy joernalistieke loopbaan het in 1995 begin toe hy die woord ‘cellular’ met net een ‘l’ geskryf het en dit verkeerdelik só gepubliseer is. Van daar af het sy lewe 'n intense afwaartse spiraal geneem, maar nog nooit het hy ophou glimlag nie.

Steve ontmoet my by 'n bekende restaurant in die Jakarandastad. Hy bestel 'n 300 g T-been. “Jy weet, mense sien my langs die pad. Hulle maak vinnig in hulle kop 'n opsomming van wie ek is, waarom ek in my situasie is en wat ek sommer vinnig kan doen om uit my situasie te kom,” sê hy met 'n mate van erns op sy bebaarde gesig. Hy lag effens. “Ek wens tog mense kan ophou om alles so te vereenvoudig. Die lewe is nie eenvoudig nie en daar is beslis nie altyd kitsoplossings vir alle situasies nie. Ek is haweloos, ek is alleen, maar my storie is skatryk,” sê Steve met sy Kersvaderglimlag en kyk my reguit in die oë. “My tyd is nog nie verby nie.”

“Ek het nou vir 19 jaar gerus,” skerts hy. “Nou is ek reg om weer my deel in die samelewing op te neem. Dit is ‘n voorreg om te kan werk en ek kan nie wag vir my geleentheid om te kom nie.”

Foto’s: Mia Slabbert

Hy het wel geen heenkome nie, maar skryf gaan hy skryf. “Die lewe het 'n baie snaakse pad met my geloop, maar ek gaan 'n boek skryf, ek het al die eerste 15 bladsye geskryf, en die fondse van die boek gaan ek gebruik om 'n amptelike bad-huis vir hawelose mense in Pretoria te bou.” Volgens Steve besef mense nie die intense voorreg wat hulle het om elke dag te kan bad of stort nie. Hy is vasoortuig dat as hawelose mense hulleself daagliks kan bad, dan sal daar minder misdaad wees. “'n Mens wat trots voel, wil beter wees en beter doen,” sê hy half skaam.

Die onskuld en beskerming van sy kinderjare is skielik, op die ouderdom van drie, van Steve en sy sewe sibbe weggeruk toe sy ma tydens die geboorte van sy jongste boetie oorlede is. Kinderhuise was hulle voorland. Steve en sy sibbe is geskei en in verskillende weeshuise geplaas. “Ek het dit intens, intens gehaat. Ek kan nie beklemtoon hoe sleg dit was nie. Ek het gereeld weggehardloop en toe stuur hulle my na 'n nywerheidskool in Potchefstroom en uiteindelik Potgietersrus toe. Dit was 'n skool vir probleemkinders. Ek was seker maar 'n probleemkind gewees, maar dit was nie my skuld nie. Ek het nie vir my situasie gevra nie.”

Steve se grootwordjare het die joernalis in hom wakker gemaak. “Ek wou altyd net geskryf het. Ek dink as mens die lewe ervaar soos wat ek dit ervaar het, wakker dit iets binne ’n mens op om te skryf, om te vertel.” Na 'n jaar in die weermag en 'n kort loopbaan in REP-werk, het hy in 1985 as onervare joernalis in Brakpan begin. Sport en algemene nuus het sy liefde geword. “Saktyd, nagkantoor, nuuskantoor… daar is eenvoudig niks soos dit nie,” vertel Steve met 'n mate van nostalgie.

Steve se loopbaan het gegroei. “Ek het so lekker gewerk. Ek was regtig goed daarin.” In 1995 het Steve by 'n ander koerant begin en dit was die begin van die einde. Hy onthou die dag soos gister wat hy 'n berig moes skryf en die woord ‘cellular’ met een ‘l’ gespel het. Hierdie fout het hom in die moeilikheid laat beland. “Ja, dit was my skuld, maar die nagkantoor moes dit tog opgetel het?” Steve se loopbaan het 'n knak gekry, maar was steeds lewendig.

“Soos ek hier sit kan ek nie vir jou bewys gee nie, maar by 'n ander geleentheid het iemand by dieselfde koerant hulle mes vir my ingehad. Hy beweer iemand het op 'n dag met sy teks gepeuter, wat hom toe uiteindelik in groot moeilikheid laat beland het. “Na hierdie insident was my moed gebreek. Ek kon dit eenvoudig nie binne myself kry om dit met volwassenheid te hanteer nie. Ek het al my besittings verkoop, alles, en so het my swerwerslewe begin. Ek wou net wegkom van die teleurstelling af.”

Hoewel hy al vir sowat 19 jaar feitlik op straat is, het hy nog nooit gebedel nie. “Vir die eerste paar jaar, in al die verskillende dorpe waar ek gebly het, het ek van huis tot huis gegaan en loswerk gesoek. So het ek basies die pot aan die kook gehou,” vertel hy met 'n diepe trots. “Ek was nooit getroud nie en hoewel ek 'n kind by 'n vrou het, is hy nie regtig deel van my lewe nie. Ek meen, wat kan ek hom bied? Ek woon op die straat.”

Hy slaap gewoonlik by spesifieke vulstasies waar almal hom as Madala ken. “Van elke een van die sowat 4 000 aande wat ek al onder die sterre slaap, het nog nie een persoon my probeer leed aandoen nie. Inteendeel, ek is vriende met almal. As ek kos ontvang of sien ek het genoeg skenkings vir die brood en melk ontvang, dan gaan deel ek dit uit vir mense wat in dieselfde situasie as ek is. Ek is nie geldgierig nie, die nood om my is soms oorweldigend, so ek moet gee as ek genoeg het.”

Vyf jaar gelede het hy 'n droom gehad waarin hy met 'n groot bord met die woord Smile op staan. “Ek is nie 'n kerkmens nie, maar ek het my eie unieke verhouding met die Here. Ek het in daardie oomblik geweet dat dit my volgende avontuur moet wees. Ek moet mense laat glimlag,” sê hy en sit diep terug in sy stoel. “Dit is eenvoudig, ek weet, maar weet jy? Ek laat meer as 400 mense per dag glimlag. Dit is ongelooflik bevredigend. Kan jy dit sê?” daag hy my uit. “Ek bedel nie vir geld nie. Ek sal dit nooit doen nie. Ek sien my rol as 'n bediening en as mense voel hulle moet vir my 'n donasie gee – wonderlik!”

Na matriek het Steve doelbewus sy identiteit verander. “Kyk, my geboortenaam is eintlik Marius, maar Marius se lewe was rof. Dit was aaklig. Op hoërskool was daar hierdie een onderwyser, meneer Steve Bird. Sjoe, hy was 'n goeie mens. Hy het so mooi met gebroke kinders gewerk, hy was sag en laf en so positief. In Januarie 1980 het ek besluit dat ek my naam na Steve toe verander en tot vandag toe, 38 jaar later, dink ek voor elke besluit wat ek maak: “Maar, wat sou Steve gedoen het en hoe sou hy in dié situasie opgetree het?” Dit is juis waarom Steve vandag elke dag met 'n bord staan en motoriste aanmoedig om net te glimlag.

“Ek het nooit werklik 'n pa gehad nie, maar ek dink dit wat ek doen sou meneer Steve Bird baie trots gemaak het.”

Luister na Steve Loock se onderhoud op Jacaranda FM:

 

  • 185
  •  
  •  
  •  
Mia Slabbert Deur Mia Slabbert


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close