Algemeen -

Gelykheid van gevolge? Nie sommer nie

Wanneer ons oor gelykheid dink, gaan dit gewoonlik gepaard met regverdigheid, of ten minste ons persepsie van regverdigheid. As twee mense dieselfde ding doen, moet daar tog vir albei dieselfde gevolge wees? Nee.

Kom ons dink maar aan mense wat in die verlede skeidsregters gekritiseer het. Hulle is so te sê altyd as swak verloorders en sommer as swak karakters uitgekryt. Gewoonlik ook met reg. Maar as Rassie 'n uur lange video oor swak beslissings teen die Bokke maak? Dan stem ons saam! Hy sê wat ons almal dink, en hy is nie bang nie. Dit is ook nie onregverdig nie, want Rassie het sy loopbaan daaraan gewy om te bewys dat hy die slimste rugbyman in die wêreld is. En ek glo dit. As Rassie dus dink die video is 'n goeie idee, dan is dit – dis so eenvoudig soos dit.

Daar word vertel dat 'n tannie destyds vir Pablo Picasso in 'n koffiewinkel sien sit het. Sy groet hom, gaan voort om haar eie koffie en koek te geniet en kyk hoe hy op 'n servet teken. Toe hy klaar is, vra sy of hy die servet aan haar sal verkoop. “5 000 frank!” seg hy. Baie geld in daardie tyd. Sy voel hoe die wind uit haar seile geneem word en protesteer dat dit hom nie eers 10 minute geneem het om dit te teken nie. Vererg sê hy: “Nee! Dit het my hele lewe gevat!”

Om die prentjie, of noem dit maar 'n kunswerk, te lewer het nie lank geneem nie, maar die begeerlikheid daarvan is gesetel in die persoon, nie die prent nie. En 'n reputasie word oor 'n leeftyd opgebou.

Oor 'n paar dinge daaromtrent het ons beheer, oor baie nie. Selfs die grootste kampvegters vir gelykheid sal heeltemal anders daaroor dink as 'n man sy werknemers as “skattebol” en “poplap” aanspreek as wanneer 'n vrou dit doen. In albei gevalle is die werkgewer nogal dwaas, maar die vrou sal waarskynlik nie daaroor voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie gedaag word nie. Dis dalk onregverdig, maar nie een van ons gaan daaroor betoog asof dit 'n onreg is nie. As die tannie oulik is, kan sy jou mos maar noem wat sy wil, of hoe?

Daar is talle ander voorbeelde waar sekere gevolge vir dieselfde oortreding of omstredenheid verskil, afhangend van wie die oortreder is. En daar is niks fout mee nie. Ons is meer genadig met die mense wat ons ken en wat hulself aan ons bewys het.

Foto bron: Getty Images

  •  
  •  
  •  
Theuns Du Buisson Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close