Algemeen -

Genadetyd: Die nuwe normaal

Midde die vierde week van inperking lyk ons lewens heel anders as wat dit ’n maand gelede gelyk het. Ons praat graag van die nuwe normaal, tog is hierdie “normaal” net ’n tydelike milieu waarbinne ons onsself bevind en sal ons binnekort ’n nuwe fase in hierdie “normaal” betree.

’n Rukkie gelede het ek mense gevra om my van hulle “nuwe normaal” te vertel. Die terugvoer en stories was verblydend. Hier, in die middel van onsekerheid en inperking kon ek duidelik die positiewe raak lees.

Meeste van ons se dae lyk maar dieselfde. Ons werk van die huis af en die kinders leer deur Die Wolkskool en ander platforms waar onderwysers direk met hulle kommunikeer. Drama, musiek en ander aktiwiteite word deur middel van programme soos Zoom en Teams aangebied – dis nou wanneer ons as ouers nie self voor die skerm moet inskuif vir ’n vergadering nie.

Dié van ons wat minder besig is, geniet nuwe stokperdjies (of dalk is dit ou stokperdjies waarvoor daar nooit tyd was nie) soos bak en tuinmaak en ’n hele paar huise en motorhuise word met ywer van voor tot agter reggepak.

Natuurlik gaan die lewe voort en verjaarsdagpartytjies word ook nou aanlyn gehou terwyl gesinne skielik almal inspring om te help bak en brou vir die spesiale geleentheid.

Almal het ’n nuutgevonde waardering vir hulle gesinsmense. Dit is amper vreemd dat ons, te midde die “onnatuurlike” omstandighede van dag in en dag uit saamwees, sonder uitlating of sonder wegbreek, meer verdraagsaam en meer geduldig met mekaar raak. Ouers is meer betrokke by hulle kinders se akademie, kinders help met skoonmaaktake wat nie voor die staat van inperking deel van hulle verantwoordelikhede was nie en grootouers benut die tyd om nuwe interessanthede aan die kleingoed te leer. Ons bande is beslis hegter. Om so in mekaar se spasie te wees, het ons gedwing om elke mens met wie ons ons huis deel beter te leer ken selfs al bly ons al vir jare onder dieselfde dak. Hierdeur kweek ons groter deernis vir mekaar.

Wat my veral bygeval het, is die hoop en die geloof wat meer deel geraak het van ons narratief. Mense wat gedurende hierdie tyd positief is, is nie noodwendig mense wat minder bang of meer finansiële sekuriteit ervaar nie. Wat hulle wel almal in gemeen het, is die onwrikbare geloof dat daar wél ’n uitkoms sal wees selfs in die moeilikste omstandighede.

Dit bly vir almal, oud en jonk, ’n aanpassing. Dit is moeilik om ver van geliefdes af te wees. ’n Telefoonoproep is gerieflik, maar ons mis die aanraking en die naby wees. Ons, as mense, smag daarna om deel van ’n groter gemeenskap te wees en vir die eerste keer kry ons dit reg om in isolasie en op ’n ander manier meer op die menslikheid van menswees te fokus.

Dit is nie net die huise en motorhuise wat omgekeer en uitgestof word nie; daar is opnuut die inkeer en uitvee van die hart se binnekamers ook. Daar is deurlopend meer meegevoel en empatie. Daar is hulp. Daar is saamstaan.

Ons nuwe normaal is nie net ’n tyd gevul met angs en onsekerheid nie. Dit is ’n tyd waar ons moed skep. Dit is ’n tyd van gee. Dit is… genadetyd.

  • 2
  •  
  •  
Dr. Dirk Hermann Deur Dr. Dirk Hermann


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close