Gesoek: ’n Nuwe Bok-breier en afrigtingspan

Geskryf deur: Eugene Brink


Toe die nuus vroeër vanjaar van Allister Coetzee se definitiewe aanstelling as afrigter van die Springbokke rugbaar geword het, was almal nog te kwaad oor transformasieteikens en ons neerlaag teen Japan by die Wêreldbekertoernooi om te veel kritiek teen sy aanstelling te lewer. Heyneke Meyer was openbare vyand nr. 1 onder ’n groot deel van die publiek en rugbybase omdat hy te min swart spelers gekies het en vir die eerste keer in rugbygeskiedenis teen Argentinië en Japan verloor het. Baie van hierdie kritiek was stellig geregverdig.

 

springbokMaar ek het in hierdie ruimte teen Coetzee se aanstelling gewaarsku. So ook het ’n groot deel van die rugbypubliek op die sosiale media en webtuistes en ‘n paar “afvallige” kommentators soos Mark Keohane. Ons is egter deur beterweterige oudspelers en joernaliste, wat die “rassisme”-etiket so kwistig rondgegooi het, vermaan om Coetzee te aanvaar omdat hy kwansuis die beste is wat die land het. Ook deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) en basies alle rugbybase in die suide van die land – wat natuurlik sy aanstelling bewerkstellig het. Die Nieu-Seelandse en Engelse media het van meet af aangevoer Coetzee is die verkeerde aanstelling (tesame met die res van sy afrigtingspan) en was veel meer uitgesproke oor ras in sport as ons eie media.

 

Coetzee en sy afrigtingspan is uiteraard effens vir die wolwe gegooi toe hy eers in April aangestel is en toe eers vir die Junie-toetsreeks teen Ierland moes voorberei. Ons het die eerste toets op Nuweland verloor (ons eerste ooit op SA bodem teen Ierland), maar indiwiduele vertonings het darem die reeks gered. Hy en sy span moes tyd kry om hulself te vestig, het ons gehoor. Vir enige redelike persoon is dit nie ’n onbillike versoek nie, en dus het ons gewag en kyk. Toe breek die Rugbykampioenskapreeks aan en die wiele kom behoorlik af. Ons wen die eerste toets teen Argentinië in Nelspruit, maar moes eintlik verloor. ’n Week later het ons wel teen hulle in Argentinië die knie gebuig (die eerste keer ooit in Argentinië). Daarna het ons in Australasië albei wedstryde verloor. Tuis het ons die ewe-sukkelende Australië geklop met nog ploeterrugby en natuurlik het die optimiste onder ons teruggeslaan met die “ons is aan’t verbeter!”-refrein. ‘n Week later het hulle verslae toegekyk hoe die All Blacks in Durban nege drieë teen nul inryg en die grootste sege nog oor ons behaal. Twee seges in ses wedstryde.

 

Verlede week se gelykopstryd teen die saamgeflanste Barbarians is ook weer deur indiwiduele vertonings gered en om eerlik te wees was Engeland nie Saterdag naastenby so goed soos in Junie teen Australië of vroeër vanjaar in die Sesnasiestoernooi nie. Steeds het hulle die Bokke takties maklik uitoorlê en gemaklik 37-21 gewen. Ons behoort Italië nog vanjaar te klop, maar nie Wallis nie. Coetzee se Bokspan gaan dus hoogstens vyf uit 12 toetse vanjaar wen – ’n wenpersentasie van slegs 41%.

 

Die punt is Coetzee is nou meer ’n nuwe afrigter nie; hy is al sewe maande in die saal. Daar is inderdaad talle redes vir die Bokke se kreeftegang: ’n Swak rand en transformasieteikens wat spelers oorsee dryf, politieke inmenging, beserings aan sleutelspelers, ’n vaardigheidstekort op die laer vlakke, ensovoorts. Maar die olifant in die vertrek is dat sy onlangse voorgangers almal met hierdie probleme te kampe gehad het. En hulle het terselfdertyd steeds goed presteer. Die Bokke was immers twee punte daarvan weg om teen Australië in laas jaar se Wêreldbekereindstryd te speel.

 

Ons het steeds fantastiese spelers in die land en ook oorsee en baie van hulle het uitgemunt onder Meyer en hul provinsiale- en klubafrigters. Nou lyk hulle verward en amateuragtig in ’n Bok-trui. Coetzee is vinnig om sekere spelers uit te wys as die rede hoekom die Bokke verloor, maar telkens het sekere spelers ondanks swak spanvertonings en taktiese probleme met die spelpatroon die span gered. As sekere spelers nie “afgewyk” het in sleutelstryde vanjaar nie, sou Coetzee se wenpersentasie ongetwyfeld nog slegter gelyk het. Ek kan nie aan een wedstryd vanjaar dink wat ’n ware spanpoging was nie. Als was een onsamehangende gesukkel. Ons beleef ’n drieëdroogte soos lanklaas gesien en terselfdertyd lek ons drieë soos nog nooit tevore.

 

Coetzee moet besef hy rig die Springbokke af. Dis nie een of ander tweede- of derderangse span nie. Hy het (steeds) fantastiese spelers tot sy beskikking, maar hy wend hulle nie reg aan nie. Hy het in elke liewe wedstryd ’n nuwe senterpaar en hou vol met spelers wat nie goed genoeg is nie of wie se vorm duidelik haper. Hy blameer indiwiduele foute, maar aanvaar nie verantwoordelikheid vir sy spelpatroon wat die spelers daardie foute laat maak nie. En as jy so baie oor eksterne faktore en hindernisse kla, hoekom is jy dan nog die afrigter? Dan het jy mos nie volle beheer oor die span of jou rol nie.

 

Al hoe meer prominente stemme klink tans op dat Coetzee moet begin pa staan vir die Bokke se agteruitgang. Joel Stransky het onlangs opgemerk dat die Bokke nie ’n goed afgerigte span is nie. Volgens hom het ons drie jaar terug steeds ’n uitstekende span gehad, maar nie nou meer nie. Sy 1995-binnesenter, Hennie le Roux, het dit prontuit gestel dat die spelers klaarblyklik nie respek het vir die afrigters en veral vir Coetzee nie. Dit dra by tot hul lusteloosheid en foute op die veld. Selfs mense wat transformasie in sport steun, is besig om hul bedenkinge en misnoeë oor hom en sy afrigtingspan uit te spreek.

 

Kom ons wees eerlik: As Coetzee nie die Stormers en Westelike Provinsie in agt jaar tot vreeslik hoë hoogtes kon aanvoer nie, hoe kan ons verwag dat hy dit met die Bokke sal kan doen? Die Wes-Kaap het by verre die meeste spelerstalent in die land en die Stormers was ten tyde van sy termyn as hoofbreier geldelik die sterkste Superrugby-span, maar steeds het hulle min gehad om daarvoor te wys terwyl Coetzee die afrigter was. Eddie Jones het ‘n Engelse span oorgeneem wat vir die eerste keer ooit in die poelfases van ‘n Wêreldbekertoernooi uitgeskakel is – en dit boonop op tuisbodem. Hy het hulle vir ‘n maand gebrei en toe die Sesnasiesreeks gewen, die Wallabies ‘n 3-0 reeksbloedneus Doer Onder gegee, die Springbokke kafgedraf en is nou onoorwonne met tien uit tien vanjaar. Afrigting maak saak. Punt.

 

Elke afrigter gaan met die politiek en ander beperkinge in SA rugby moet werk, maar om dit vir al jou mislukkings te blameer getuig van iemand wat buitendien nie daar behoort te wees nie. Dis tyd vir ’n nuwe afrigter en afrigtingspan na die annus horribilis wat ons rugby vanjaar beleef het. Coetzee is ‘n innemende man met goeie bedoelings, maar sy rekord spreek boekdele.

  •  
  •  
  •  
  •  
Deel hierdie:

One response to “Gesoek: ’n Nuwe Bok-breier en afrigtingspan”

  1. Kort na 1/1/2016 het die Burger se rugbyskrywer Coetzee die pos gegee omdat die STORMERS vir soveel keer bo-aan die SA-konferensie ge-eindig het. Dièredenasie is natuurlik belaglik, nes al die rekords van spelers. Wat die Wes-Kapenaars nie gesien het, was dat die STORMERS èn die WP onder Coetzee agteruitgegaan het. Hulle het teen Rassie se rekords vasgekyk.
    ń Ander aspek wat ń rol kan speel is Heineke se “erflating” aan wie hom ook sou opvolg. Bittermin van Heineke se krenspan is nog daar. Die jongeres het nooit werklik toetsspeler onywikkeling kans gehad nie. Kommentators soos Naas Botha het dikwels gewonder wat dit help om die laaste 5 minute op te draf, nooit die bal hanteer of iemand duik nie. MAAR JY HET 1 TOETS SE ERVARING MEER OPGEDOEN. Hoe belaglik!

Leave a Reply

Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close