Gestel die Ramaforiste is reg, dan is daar steeds moeilikheid

Dit is duidelik dat sommige individue in die kommentariaat en die media ten spyte van enige feite of redelike besinning nooit die idee van Ramaforie sal laat gaan nie. Trouens, daar word nou vir ons verduidelik dat ons net hoef te wag tot na volgende jaar se verkiesing, dan sal dit ten volle inskop en Suid-Afrika sal in Cyril se utopie omskep word. Ek wil in hierdie skrywe aanvoer dat al was hierdie skrywers almal reg met betrekking tot hierdie opvatting, daar steeds groot moeilikheid in Suid-Afrika se toekoms voorlê – 'n Ramaforie wat verwesenlik word, kan selfs meer gevaarlik wees as 'n mislukking daarvan.

Voormalige president Jacob Zuma het nooit die politieke kapitaal gehad om die helfte van die beleid (waaroor hy en die huidige president natuurlik 100% saamstem) deur te druk wat Cyril tot dusver  kon doen nie. Onder Ramaphosa kry ons onteiening sonder vergoeding, die Nasionale Gesondheidsversekering, haatspraakwetgewing, nuwe rookwette, meer belasting, duurder brandstof, BTW wat opgestoot is en talle ander. Ramaphosa kry uit die aard van die saak hierdie beleid ingestel omdat die burgery hom vertrou. Gestel hierdie vertroue word regverdig deur die werklikheid na volgende jaar se verkiesings (wat beslis nie die geval gaan wees nie). Hoe kan dit sleg wees? Wel, die antwoord is doodeenvoudig dat Cyril Ramaphosa nie vir ewig president gaan wees nie.

Al ons vryhede word weggeneem, die staat wil vir ons voorskryf hoe ons mag praat, waar ons gesondheidsdienste mag ontvang, wie watter grond mag besit en wie nie, hulle onttrek addisionele miljarde uit die ekonomie om hulself te befonds en ons laat dit en veel meer toe, want ons hou van die idee wat ons rondom die huidige leier van die ANC koester.

Maar wat van die volgende leier? David Mabuza is tans die adjunk-president, Ace Magashule die sekretaris-generaal, ander soos Jesse Duarte en selfs Nkosazana Dlamini-Zuma beklee ook top poste binne die ANC. Vra jouself, voel jy gemaklik daarmee dat enige van hierdie individue sulke tipe mag oor jou lewe behoort te hê? Nog erger, vra vir jouself of jy vir Julius Malema in so rol sal wil sien?

Dit is maar altyd die probleem met mense se geneigdheid om mag te gee aan diegene van wie hulle hou, om dwang toe te pas op dié wie se gedrag hulle nie goedkeur nie. So 'n ruk gelede het daar in die New York Times 'n artikel verskyn wat aangevoer het dat konserwatiewes in die VSA hul vryheid van spraak as 'n wapen gebruik. Natuurlik was die inkonsekwentheid pynlik duidelik. Die liberales was immers op 'n tyd die grootste aanhangers van vryheid van spraak – toe dit hulle gepas het. Mense hou van vryheid wanneer dit hulle toelaat om te doen wat hulle wil, en hulle hou van dwang wanneer dit in hul guns tel. Almal vergeet egter dat die magte wat jy aan die staat gee, nie verdwyn wanneer daardie betrokke leier van wie jy hou nie langer aan bewind is nie.

Die punt is dat staatsmag altyd beperk moet word. As ons vir 'n termyn net engele in die parlement gehad het, sou ons daarvoor geneë wees om aan hulle totalitêre mag te gee? Indien wel, dan sidder ek om te dink wat die duiwels daarna gaan maak.

Die staat gaan nie jou probleme oplos nie en om vryheid prys te gee sodat 'n spesifieke bedeling sommige van jou probleme kan aanpak, is nooit die prys daarvoor werd nie. Benjamin Franklin se immergroen stelling is net so waar vandag as wat dit in die 18de eeu was: “Those who would give up essential liberty, to purchase a little temporary safety, deserve neither liberty nor safety.” Ten slotte voeg ek sal hierby die woorde wat aan Thomas Jefferson toegeskryf word: “A government big enough to give you everything you want, is a government big enough to take away everything you have.”

  • 58
  •  
  •  
  •  
Morne Malan Deur Morne Malan


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close