Algemeen -

Grondhervorming – Die uitklophou aan vooruitgang

Volgens die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (2007) beteken die woord “Hervorm” die volgende:

  1. Anders vorm; 'n nuwe vorm gee aan.
  2. Wysig, verbeter.

Suid-Afrika sit tans met 'n enorme werkloosheidsyfer. Gemeet aan die eng definisie van werkloosheid is meer as 'n kwart van die land se arbeidsmag werkloos. Gedurende die eerste kwartaal van 2018 was die werkloosheidspersentasie 26,7%. Vanaf 2015 was dié getal nog nie laer as 24,5% nie. Ons kan dus sê dat daar in 'n tydperk van slegs drie jaar geen verbetering was nie en dat omstandighede selfs verder verswak het in hierdie tydperk. Ons kan verder gaan en sê dat daar geen verbetering in die laaste tien jaar was nie. In 2008 was die werkloosheidsyfer 22,7%. Dit is 4% laer as vandag, in 2018. Agteruitgang is dus aan die orde van die dag.

Probleme wat op 'n plaaslikevlak onstaan het, verhoed ons om enigsins op dieselfde vlak as ander lande te kompeteer. Die aansien wat Suid-Afrika eens op die wêreldverhoog geniet het, het verander in iets wat nie mooi is om te aanskou nie. Dit is selfs minder so vir die werklose Suid-Afrikaner wat wel werk soek.

Die gemiddelde Suid-Afrikaner wat min tot geen tersiêre onderrig ontvang het nie en wat werkloos is, raak desperaat vir geleenthede wat hulle in die toekoms kan benut. Geleenthede vir die persoon sonder 'n kwalifikasie is min en om indiensopleiding te ontvang by 'n maatskappy wat werklik op opleiding gefokus is, is nie meer so algemeen soos wat 'n mens sal hoop nie.

En, selfs al sou 'n mens so 'n geleentheid bekom bly dit 'n reuse uitdaging om te werk en nuwe vaardighede of kennis tussendeur aan te leer. Dit is wat die landbou-industrie so aanloklik maak, want dit is 'n geskikte industrie waar talle mense die geleentheid kan kry om opleiding te ontvang terwyl hulle werk.

Die ANC se beleid op grondhervorming en herverdeling poog om die volgende drie dinge aan te spreek, naamlik:

  1. Die oordrag van eienaarskap deur herverdeling, restitusie en die hervorming van verblyfreg.
  2. Die skep van geleenthede in die landbou-industrie vir die arm en historiesbenadeelde bevolkingsgroepe.
  3. Die skep van geleenthede vir direkte beleggingsgeleenthede wat werkloosheid moet verlig deur verbeterde grondgebruiksbeplanning, billike toegang tot grond en goeie praktyk.

Kortliks opgesom verwag die ANC dat grondhervorming ekonomiesegroei moet skep sodat dit werkloosheid kan verminder en sodoende op dié manier armoede moet verlig. Dit sou haalbaar wees as mens in ag neem dat daar verwag word dat potensiële werknemers die nodige opleiding sal ontvang om hul take te verrig en dat die nodige finansiële ondersteuning reeds beskikbaar is. Verder ook, dat die regering met die hulp van handelsooreenkomste met die buiteland nie net 'n voet in die deur vir plaaslike grondhervormingsprojekte sal sit nie, maar dat hulle sal toesien dat alle rolspelers die volle geleentheid benut en daarvan 'n sukses sal maak.

Die aantal suksesvolle grondhervormingprojekte tel egter teen die regering en dit los mens met die vraag of die regering se doel werklik is om werklose mense wat voorheen benadeel is uit armoede te verlig en of dit bloot 'n poging is om stemme te werf vir hulle politieke spel?

Suksesvolle besigheidspersone oor die wêreld heen is nie noodwendig afhanklik van die staat om hulle onderskeie ondernemings suksesvol te maak nie. Hulle skep vir hulself geleenthede wat hulle suksesvol maak.

Entrepeneurskap word nie genoeg in Suid-Afrika aangemoedig nie en inwoners glo steeds dat hulle slegs van die staat afhanklik is om 'n suksesvolle onderneming op die been te bring. Suid-Afrikaners moet die idee om bakhand te staan laat vaar, en met innoverende idees vorendag kom wat vir hulle 'n toekoms kan skep waar hulle sélf in beheer is van hulle welvaart. Die staat gaan dit nie vir jou doen nie. Jou sukses lê in jou eie hande.

Sukses is wel 'n relatiewe term. Elke persoon se definisie van sukses verskil en daarom kan dit moeilik wees om te bepaal hoe elke persoon die term sal omskryf. Selfs sogenaamde suksesvolle hervormingsake kan bevraagteken word. Die plaas mag op die oog af suksesvol lyk en die boeke mag toon dat dit wel as winsgewende maatskappy bestuur word, maar 'n mens kan nie help om te wonder of die plaas miskien meer produktief, of selfs meer winsgewend sou wees indien dit nie die teiken van grondhervorming was nie.

Ek wil egter krediet gee aan die boere wat plase het waar grondhervormingsprojekte suksesvol is. Hierdie klein getal van plase toon dat daar wel boere is wat die geleentheid aangegryp het, maar dit is selfs meer noemenswaardig waar boere van alle rasse en agtergronde 'n suksesvolle onderneming in die landbou-industrie kon stig sonder die hulp van die regering.

Grond kan ook egter 'n groot las wees, veral as mens kyk na die kostes van onderhoud, belasting, skuld wat aangegaan word om die grond te koop en dit bied straks niks sonder die nodige kennis, kapitaal, arbeid en vernuf om iets daaruit te produseer nie. Sukses in die landbou-industrie kom verseker nie verniet vir die meeste mense nie. Die prys om 'n suksesvolle boerdery op die been te bring is nie goedkoop nie en dit verg baie toewyding en passie.

Alhoewel daar 'n klein getal plase is waar grondhervormingsprojekte wel suksesvol was, is daar steeds toenemend meer voorbeelde van mislukte grondhervormingsprojekte. Daar is onlangs onthul dat die regering homself weereens skuldig maak aan die uitwissing van nuwe geleenthede asook die uitwissing van bestaande geleenthede nadat nog 'n voorheen florerende plaas gevou het as gevolg van grondhervorming.

Solidariteit het onlangs die plaas, Sunningdale besoek. Dié plaas wat tussen Mokopane en Polokwane (Potgietersrus en Pietersburg) in Limpopo geleë is, was agt jaar gelede nog 'n baie winsgewende boerdery. Die plaas het meestal sitrus en druiwe produseer. Sunningdale is deur die staat aangekoop en aan 'n trust gegee as deel van die grondhervormingsbeleid. Die plaas is amptelik op 5 Maart 2010 aan die Sunningdale Farmers Trust oorgedra en was op daardie stadium steeds winsgewend, maar weens swak bestuursbesluite en ander faktore was die sukses van korte duur.

Die trust was nie in staat om sy werknemers te betaal nie en het selfs by die voormalige plaasbestuurder geld geleen om die plaas werksaam te hou. Selfs na die finansiële inspuiting van die plaasbestuurder kon die trust steeds nie die mas opkom om die maatskappy te laat groei tot die oorspronklike winsgewende maatskappy wat dit eens op 'n tyd was nie. Inteendeel, toestande het vererger.

Kort daarna is die plaasbestuurder onregmatig afgedank. Die plaas het tot niet gegaan en vandag is alles geplunder en net die bourommel van 'n eens suksesvolle plaas en al sy geboue het oorgebly. Vae herinneringe van die plaas klou aan elk van die 58 vorige permanente werknemers se gedagtes, en nou is hulle ook deel van die werkloosheid statistiek in Suid-Afrika. Dié 58 mense wat gesamentlik verantwoordelik was om daagliks ongeveer 290 monde te voer asook verantwoordelik was vir al die ander daaglikse behoeftes, moes 'n geleentheid vir sukses onwillig opgee vir die onbekende toestande van werkloosheid as gevolg van swak bestuur en dit alles in die naam van grondhervorming.

Daar was ook gebruik gemaak van ongeveer 100 seisoenale werknemers wat 'n tydelike tog broodnodige inkomste kon verdien. Dit is verseker 'n plaas en onderneming wat 'n direkte verskil in honderde mense se lewens gemaak het, en dit is veral kommerwekkend omdat Limpopo reeds 'n provinsie is wat bekend is vir sy werkloosheid. Dit is moeilik om vas te stel wat die indirekte geleenthede is, wat die plaas en onderneming aan ander verskaf het, deur derde partye soos vrugte en groentewinkels van produkte te voorsien, maar selfs dít is van onskatbare waarde in 'n land waar werksgeleenthede nie maklik bekombaar is nie.

Die bewyse van nog 'n mislukte grondhervormingsprojek is oral te sien op die plaas. Pragtige lemoen-, suurlemoen- en ander soort sitrusbome asook die druiweboorde is morsdood en tot by die grond afgesaag. Die bome wat oor is, word deur die plaaslike inwoners afgesaag en vir vuurmaakhout gebruik – dié einste bome wat eens vrugte gedra het, wat aan die plaaslike en uitvoermark verkoop kon word, vir die plaaslike inwoners werk kon verskaf en vir hulle die kans sou gun om toegang tot byvoorbeeld elektrisiteit te hê, sodat hulle nie nodig sou gehad het om vragte hout te moes gebruik om net te kan kook en hul huise warm te maak nie.

Behalwe dat grondhervorming inbraak maak op privaateienaarskap is grondhervorming ook 'n mislukte poging van die regering om die menswaardigheid te verseker van voorheen benadeelde mense. Landsburgers is honger vir geleenthede, maar dit kan nie ten koste van ander se welvaart wees nie.

Die verskil tussen die Suid-Afrikaanse regering en meeste ander regerings oor die wêreld heen, is dat die regerings van dié lande hulleself uit die sakesektor hou en mense toelaat om vryehandel toe te pas sodat almal uiteindelik beter af is. Gelykheid kan nie afgedwing word nie, maar dit behoort die verantwoordelikheid van die gemeenskap te wees om te verseker dat almal gelyke geleenthede en 'n regverdige kans kry om 'n rol te speel om sodoende tot die land se ekonomie asook hulle eie welvaart by te dra.

Ons kan almal slegs gelyk wees as ons te gelyke tyd in die wedloop kan wegspring. Die wenner en die res van die deelnemers het dan 'n gelyke kans om die wedloop te kan wen. Ons kan egter nie almal gelyk by die wenpaal kom nie – dus is gelyke uitkomste nie haalbaar nie.

Dit laat mens wonder of die regerende party soms groot planne uitdink en teoreties hul kiesers wil beïndruk, maar in praktyk besef dat die einste planne wat hulle wil implementeer nie haalbaar is nie omdat dit in beginsel nie kan werk indien die nodige vaardighede, finansiëlebestuur, werksaamheid en betroubaarheid van alle rolspelers nie teenwoordig is nie. Die rolspeler sluit verskeie staatsdepartemente wat na die sukses en haalbaarheid moet omsien dat 'n projek nie net van die grond af kom nie, maar dat dit ook deurgesien word, in. Kiesers behoort nie totaal afhanklik van die regering vir toelae, behuising, werk ensovoorts te wees nie. Dit verseker dat kiesers vir ewig hulle stem sal kry.

Grondhervorming is besig om gemeenskappe in die steek te laat. Dit ontneem mense van veel meer as net 'n werksgeleentheid. Dit ontneem hulle ook van hul menswaardigheid. Menswaardigheid kan nie deur 'n eiendom te besit verkry word nie en ook nie in kwalifikasies wat verniet uitgedeel word nie. As jy 'n werk het en gelukkig is daarin, kry jou menswaardigheid 'n hupstoot. Jou menswaardigheid is gekoppel aan die vermoë om jou omgewing, wat jou werk en besittings insluit, te waardeer omdat jy opofferings daarvoor moes maak – hetsy tyd of geld. Jou menswaardigheid is gekoppel aan hoe jy jouself respekteer en die waarde wat jy aan jouself heg. Grondhervorming soos dit nou deur die regering aangewend word gee dus ‘n nuwe vorm aan plase, maar verseker sonder enige verbetering.

Die antwoord vir die groot probleem van armoede lê nie in grondhervorming nie. Ons moet mense se menswaardiheid begin raaksien as gelykes in die samelewing sodat ons almal regmatig op ons eie voete kan staan.

Menswaardigheid is belangrik vir elke persoon. Elke persoon het die reg om menswaardig behandel te word. Ons almal moet saam vir 'n oplossing kan soek om Suid-Afrikaners die geleentheid te kan gun om toegang te hê tot gehalte onderwys en verdere opleiding sodat hulle hulself kan bevorder en waarde kan heg aan kennis. Ons as Suid-Afrikaners moet mekaar aanmoedig om verantwoordelikheid te neem en aanspreeklikheid te aanvaar vir ons eie lewens en ons kan nie langer wag dat die regering namens ons besluite maak nie. Die toekoms lê in ons hande en nie in die hande van die regering wat graag onmin tussen gewone Suid-Afrikaners wil saai nie.

Indien jy die geleentheid het om ander te help, doen dit en moenie huiwer om 'n hand uit te steek na ander nie. Saam maak ons 'n verskil.

Foto’s deur Reon Janse van Rensburg

 

 

  • 86
  •  
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close