Algemeen, Nuus -

Grondonteiening en Jongmense

Dit is maklik om oor 'n probleem te skryf of te praat as jy dit nie aan die lyf voel nie.– dit is ten minste hoe ek dit ervaar. Dit is maklik om te kerm en te kla oor iets wat daar ver is; iets wat nog op pad is.

Ek onthou hoe ons eendag, toe ek nog op laerskool was, rugby teen 'n Kaapse skooltjie gespeel het en dié span het 'n stut gehad wat so groot soos 'n bussie was. Die eerste helfte het verbygegaan sonder dat dié meneer op my afgestorm gekom het, en halftyd was ek vol advies en brawe woorde oor hoe om hierdie makker neer te vel. Pas ná die tweede helfte se afskop besluit die jong reus dit is nou my beurt. Die kontakmoment was, soos wat verwag kon word, majestueus en oordonderend. Soos wat jy verslae op die grond sit en besef dat jy nou net letterlik uit die veld geslaan is, daal daar dan 'n stilte oor jou. Die korttermynverlies is iets van die verlede. Die langtermyngevolge kom nog. Jy het net daardie een oomblik waar jy sit en besef jy het nou net onseremonieel en onvoorwaardelik verloor.

Daardie oomblik was meer as dertien jaar gelede, maar ek onthou dit nog, en sedert die parlementêre debat oor grondonteiening wat verlede week plaasgevind het, dink ek baie meer daaroor – juis omdat ek nou weer so verpletter voel. Verlede week het die parlement met 'n oorweldigende meerderheid besluit om 'n ad hoc-komitee aan te stel om na 'n wysiging van artikel 25 van die Grondwet te kyk. Dié artikel het die spesifieke fokus om Suid-Afrikaanse burgers daarteen te beskerm dat die regering eiendom sonder vergoeding mag onteien. Die idee agter hierdie skuif is Julius Malema se wens dat alle grond aan die staat moet behoort en dat landsburgers dit dan vir 'n sekere tydperk mag huur. Hoe lank daardie tydperk sou wees, is ook een van die kwessies onder bespreking.

My eie regering, daardie mense vir wie ek elke maand 'n deel van my salaris sonder redekawel oorhandig, daardie mense wat hoog en laag belowe het om die Grondwet van hierdie land, en des te meer, die mense van hierdie land te beskerm, het sommer in 'n kwessie van 'n middag besluit dat dit 'n briljante idee is om eiendom net te kan neem, en het met 'n oorweldigende meerderheid besluit dat hierdie idee verder ondersoek moet word.

Hoe meer ek in hierdie gedagte ronddelf, hoe seerder maak dit my. Ek dink aan hoe ek en my boetie in die erf krieket gespeel het tot die son ondergaan, en ek besef dat as ek ooit eendag geseënd genoeg is om seuntjies te hê wat krieket in die agterplaas speel, daardie agterplaas enige oomblik, heeltemal wettig, onder hul vuil voetjies uitgeruk kan word as hierdie verandering aan die Grondwet sou plaasvind. Dit is hoe rou en kru hierdie besluit is. Die gedagte dat ek eendag saam met my vroutjie 'n huisie gaan hê waar ons hard gaan werk aan 'n toekoms vir onsself het ewe skielik 'n donker rand – omdat daardie huisie, ongeag watter bedrag van my salaris ek maandeliks daar instoot, nooit heeltemal myne gaan wees nie. Hoe hartseer, hoe ontnugterend.

Die Cyril-liefies wat die afgelope weke oral kop uitgesteek het, vermaan jongmense wat oor hierdie saak dink soos wat ek daaroor dink só: “Moenie bekommer nie,” paai hulle, “dit is maar net 'n politieke skuif. Hulle gaan tog nie die grond vat nie. Wat van voedselsekuriteit? Wat van honger mense?” Ek wil diesulkes dikwels so liggies wakker skud en 'n geskiedenisles gee. Benoude katte maak benoude spronge en hoe meer stemme die ANC verloor, hoe benouder gaan hulle word. Hoe lank gaan dit neem voordat die hoofbrandweerman en sy trawante vir pres. Ramaphosa gaan vra wanneer hy nou uiteindelik hierdie reg om grond te onteien, gaan toepas? Eers gaan hy sê: “Nee, net onbenutte grond, volgens die regte prosedure,” of so iets. Dan gaan die prosedure verslap, uitsonderings gaan gemaak word, en wel, ja. Die punt is nie die praktiese of implementeerbare skuif na grondonteiening sonder vergoeding nie – die punt is die idee daaragter. Dít wat myne is, dít waarvoor ek myself morsdood werk, dit sal nie meer ten volle myne wees as artikel 25 verander word nie. Privaat besit is 'n steunpilaar van enige funksionele samelewing – daarom het hierdie een my tussen die oë getref. Daarom kort ek net gou 'n oomblik, daarom kort baie mense net gou 'n oomblik om tot verhaal te kom. Ek is bewus daarvan dat dit nie so maklik gaan wees om hierdie artikel van die Grondwet te verander nie. Die Zoeloe-koning, Goodwill Zwelithini, en ander tradisionele leiers se sterk teenkanting teen 'n verandering van artikel 25 van die Grondwet wys vir my dat daar nog baie water in die see moet loop – maar dit gaan weereens nie oor die praktyk nie; dit gaan vir my oor die idee waarvoor ja gesê is.

Daardie dag op daardie rugbyveld het ek seergekry. Ek was geskok en het alles heroorweeg wat ek geglo en van die wêreld gedink het. Maar, ek het opgestaan, verder gespeel en aangehou om my lyn te verdedig. Daar is nooit tyd vir opgee nie, veral nie as ons in ag neem hoe hard hulle wat voor ons gekom het vir ons vryheid gewerk het nie. Daarom is hierdie parlementsbesluit nie 'n stopstraat nie maar 'n rigtingwyser. Staan op; haal asem, som die situasie op en bepaal presies wat dit beteken. Begin weer bou. Skop betyds vas en maak die grootste geraas wat jy nog ooit gemaak het. Ek onthou die woorde van Totius in die gedig “Die Besembos” – “Ek leef en sal lewe, my doodkry is min.”

Mag ons in hierdie tyd besembosse wees!

  • 203
  •  
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close