Algemeen, Uncategorized @af -

Grondwethof is geen superheld

Met die onlangse oorveeg wat Hoofregter Mogoeng Mogoeng vir Bathabile Dlamini, Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, oor die Sassa-gemors in die konstitusionele hof gegee het, is die grondwetlike hof se lofsangers weer aan die gang.

 

Die grondwethof word gesien as die laaste hoop en bastion vir die publiek. Die een instelling wat darem nog seker maak dat reg en geregtigheid in Suid-Afrika geskied. Sekere mense gaan selfs so ver om te sê dat dié grondwethofuitspraak wys dat al die wigte en teenwigte werk.

 

Hierdie hoop dat die grondwet en grondwethof die Suid-Afrikaanse demokrasie gaan red, is eerder misplaas.

 

Die Suid-Afrikaanse grondwet, en by uitbreiding die grondwethof, is geen superheld nie. ʼn Grondwet is ʼn stuk papier, en benodig ander instellings om hom af te dwing.

 

Die blote feit dat Dlamini weer voor die grondwethof verskyn, dui op dié instelling se mislukking om die grondwet af te dwing. Daar is drie jaar terug bevind die kontrak met Cash Paymaster Services (CPS) is ongrondwetlik. Minister Dlamini het haar net eenvoudig nie aan die hofuitspraak gesteur nie. Sorgeloos het sy aangegaan, en nou het sy eerder die hof gedwing om ʼn ongrondwetlike kontrak met 12 maande te verleng.

 

Ernstige vrae oor die grondwethof se vermoë behoort eerder gevra te word. Anders gaan ons hierdie selfde drama meermale sien afspeel. Die grondwethof wat snydende uitsprake teen die ANC-regering maak. Die uitspraak wat gevier en geprys word op nuusprogramme, sosiale media en in rubrieke. Die ANC-regering wat grotendeels die hofuitspraak ignoreer. Dan drie jaar later begin die storie weer van voor af.

 

Vir Afrikaners is daar ʼn paar ander grondwethofuitsprake wat eerder in die gedagtes moet vassteek. Hierdie is dieselfde grondwethof wat teen alle verwagtinge in téén Renate Barnard bevind het. Wat gesê het dis grondwetlik reg om ʼn pos ongevul te laat vir jare, eerder as om ʼn wit persoon aan te stel. Hierdie is dieselfde grondwethof wat teen Solidariteit en Afriforum bevind het in die Pretoria-straatnaamsaak. Waar die uitspraak breedweg gestel het dat Afrikanerkultuur nie beskerming onder die grondwet geniet nie. Dit na al die laer howe se uitsprake oorweldigend die teendeel beslis het.

 

Die les wat ons uit die Sassa-gemors moet neem, is dat ons self ons toekoms moet bou in Suid-Afrika. Om op die grondwethof as beskermer staat te maak, gaan net tot teleurstelling lei.

  •  
  •  
  •  
  •  
Connie Mulder Deur Connie Mulder


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close