My geld -

Hanteer foute in die werksplek so

In talle werksplekke word foute in 'n baie ernstige lig gesien en afhangende van hoe groot die fout is, word dit ook nie sommer oor die hoof gesien nie – veral nie as 'n paar mense daardeur verontrief word en jou maatskappy daaronder ly nie. Daar steek heelwat waarheid in die feit dat almal foute maak en niemand perfek is nie. Selfs al werk ’n mens so noukeurig en deeglik as moontlik, kan jy nie noodwendig verhoed om foute te maak nie, maar jy het wel beheer oor die manier waarop jy jou foute hanteer.

Dawn Rosenberg McKay, 'n beroepsraadgewer, gee in haar artikel What to do when you make a mistake at work 'n aantal wenke oor hoe om jou foute effektief te hanteer.

  1. Erken jou fout

 

Sodra jy besef jy het 'n fout gemaak, moenie daaroor stilbly nie. Dit is baie belangrik om so gou moontlik jou fout met jou bestuurder te bespreek, veral as die fout negatiewe gevolge vir 'n groot aantal van jou kollegas inhou.

 

  1. Kom met 'n oplossing vorendag

 

Om jouself te help en die nagevolge bietjie ligter te maak, maak seker dat jy met 'n oplossing na jou bestuurder gaan. Vertel vir hom of haar hoe jy dink die probleem opgelos kan word en wees breedvoerig wanneer jy jou oplossing aan hom of haar voorhou.  Dui byvoorbeeld aan hoeveel jou plan gaan kos en hoe lank dit gaan neem om dit te implementeer.

 

  1. Neem verantwoordelikheid vir jou fout

 

Al het jy 'n fout gemaak, kan dit 'n geleentheid vir bestuur wees om nuwe karaktereienskappe, soos 'n sin vir verantwoordelikheid, in jou raak te sien.  Moenie ander kollegas die skuld vir jou fout gee nie. Neem verantwoordelikheid vir jou dade en erken as jy drooggemaak het.

 

  1. Neem tyd om dinge reg te stel

 

Om jouself te help, moenie onnodig tyd spandeer om jouself oor jou fout te kasty nie. Gebruik eerder jou tyd om op die oplossing te fokus. Hou egter in gedagte dat jy jou fout in jou eie tyd gaan moet herstel sodat jou huidige werk nie agter raak nie. Jy kan ongelukkig ook nie ekstra betaling verwag as jy na ure moet werk om jou fout reg te stel nie.

  •  
  •  
  •  
Wilmarie Brits Deur Wilmarie Brits


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close