'n Rek kan maar net sover strek voor dit breek.

 Ek hou met groot belangstelling die politieke partye se veldtogte vir die komende plaaslike verkiesings dop. Wat my die meeste interesseer is die veldtog van Helen Zille en die DA. 'n Fyn en goedgeoliede veldtog. Die DA het twee vaste magbasisse, die bruin en die wit stem. Hul verkiesingsrek is daaraan vasgemaak.

 

Die party het doelbewus besluit om sy verkiesingsrek nou ook na die swart stem te strek. Daar is egter 'n punt waar die rek so ver van die vaste basis gerek word, dat dit breek. Daar is byna 'n oordrewe poging om die swart stem te trek.

Ek het al bietjie insig gekry in die DA se hoogs gesofistikeerde verkiesingstelsel. Hulle weet wat hul steun per wyk is. Hierdie gesofistikeerde stelsel wys waarskynlik vir hulle dat so veel as 90% van wit mense wat gaan stem, vir die DA gaan stem. Hulle beskou dit as 'n veilige stem. Ek beleef dat die DA die wit stem as 'n vanselfsprekende stem ag. Die oomblik wanneer jy iets as vanselfsprekend aanvaar, is die oomblik wanneer jy iets kan verloor.

Die DA strek sy rek verder en verder weg van sy wit kieserskorps. Zille besoek slegs die swart townships tydens die verkiesingsveldtog, sy bly doodstil oor die Malema-saak, hulle verwyder 'n Verwoerd-beeld, praat niks oor die Renate Barnard regstellendeaksie-saak nie, voer veldtogte oor toilette en bring hulde aan die struggle helde.

Haar kleredrag, praat- en dansstyl is vir die swart kiesers ontwerp. Ek sien al hoe minder van die liberale tradisie en al meer retoriek. Ek sien ‘n party wat, in ‘n poging om meer en meer ANC steun te kry, meer en meer soos die ANC word.

Ek hoor die gebrom rondom my. Die volk raak onrustig oor die rek wat strek. Die DA se dilemma is, om die swart stem te trek sal die rek gestrek moet word, maar die hegpunt aan die wit lojale kiesers hou die rek terug. Hulle is nou baie naby aan die punt waar die rek gaan breek.

Die vraag is bloot of hulle die rek aan die nuwe onsekere swart kieserskorps gaan vasmaak sodat ás die rek breek, dit aan 'n nuwe hegpunt gaan wees, of gaan hulle hul lojale wit kieserskorps toelaat om te keer dat die rek nie verder gaan strek nie? Indien die rek voor verkiesingsdag breek, gaan dit tot 'n wit wegblystem lei. Alhoewel ek hier en daar swak plekke op die rek opmerk, lyk dit tog of die rek tot verkiesingsdag gaan hou. Hoe die DA egter die balanseertoertjie daarna gaan speel, gaan besonder interessant wees.

Die DA reken daarop dat die rek nie gaan breek nie omdat daar nie vir kiesers ‘n alternatief teen die ANC is nie.

Hulle hoef dus nie vir die wit kiesers te posisioneer nie, want hulle het nêrens om heen te gaan nie. Hulle aanvaar die wit kiesers dus as vanselfsprekend.

My advies aan die DA is dus, onthou dat sodra mens iets as vanselfsprekend aanvaar is jy baie naby daaraan om dit te verloor.

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Dirk Hermann


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close