Uncategorized @af -

Helpende Hand se hulpverlening aan kinders

Fanie Buys

 

Helpende Hand ondersteun duisende kinders by sowat 500 Afrikaanse skole regdeur die land.

  • Meer as 5 000 kleuters kry daagliks voeding deur die Kosblikkieprojek.
  • Byna 5 000 graadeens ontvang elke jaar 'n skooltassie met skryfbehoeftes.
  • Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) bied loopbaangerigte opleiding aan onderwysers wat duisende kinders se lewens raak.
  • Die SOS lei jaarliks meer as 2 000 Afrikaanse onderwysers op tydens middagseminare, kongresse en werksessies.
  • Bykans 3 000 Afrikaanse onderwysers is aktiewe lede van die SOS se verenigings.
  • Helpende Hand se Studiefondssentrum het die afgelope paar jaar reeds 6 000 jongmense met rentevrye studielenings gehelp. In 2017 is R40 miljoen aan byna 1 500 studente uitbetaal.

 

Gevallestudie: Helpende Hand se werk in die Klerksdorp-gebied:

 

Drie van Helpende Hand se twintig takke in Noordwes is in die Klerksdorp-, Orkney-, Stilfontein-, Hartbeesfontein-gebied. Onder leiding van Fanie Buys, die streeksorganiseerder, word talle projekte geloods om armoede te voorkom, te verlig en te verbreek. Enkele voorbeelde hiervan is:

  • Sestig behoeftige kleuters by agt laerskole is vanjaar verras met 'n propvol skooltassie om hul graad 1-jaar mee aan te pak.
  • Dogters by 'n aantal laer- en hoërskole word diskreet bygestaan met persoonlike toiletware.
  • In Klerksdorp is 'n skenkingskantoor wat 'n voltydse werk aan een persoon verskaf terwyl talle mense deur hierdie projek gehelp word met klere en lewensmiddele.
  • Die Klerksdorp-tak bedien meer as 'n dosyn hulpbehoewende bejaardes op semi-voltydse basis deur die Tuisgenoot-projek, waar Bets Muller hulle help versorg. Die bejaardes word gehelp met die aankoop van noodsaaklike kruideniersware, vervoer na doktersafsprake en Bets dien ook as steunpilaar wat kom kuier en in nood altyd net 'n telfoonoproep ver is.
  • In Orkney help Petro Kotze en haar span om hoop te skep in die Orkney/Vaal- informele nedersetting. Petro versorg die inwoners geestelik as pastoor, help met noodsaaklike lewensmiddele en bedryf 'n voltydse gratis kleuterskool op die perseel waar meer as 20 kleuters versorg word. Die tak organiseer ook 'n weeklikse groentepak aan bejaardes wat woonagtig is in sub-ekonomiese munisipale woonstelle.
  • Die Klerksdorp-tak help verskeie belowende studente met studiefondse. Van hulle is toppresteerders by goeie skole wat andersins nie sou kon studeer nie.
  • In Hartbeesfontein word die Hartbeeshuis vir intellektuele gestremdes deur die Klerksdorp-tak met die hulp van Hannetjie Meintjies bedien. Sy koördineer onder andere bystand aan die inwoners, kuier gereeld daar en hou kwartaalliks namens die tak 'n verjaardagpartytjie vir die gestremdes wat verjaar het. Vir sommige van die inwoners wat nie kontak met hulle gesinne het nie, is dit die enigste omgee.
  • Vanaf Vierfontein, 'n verlate Eskom-kragstasie se woongebied waar die skool twee jaar gelede gesluit het, word skoolleerders befonds om busgeld na Viljoenskroon te kan bekostig. Enkele kinders se koshuislosies word betaal. Helpende Hand het ook 'n klimraam en biblioteekboeke aan kleuters in die afgeleë Vierfontein geskenk.
  • Die Stilfontein-tak het vir 'n jong bruid 'n trourok gehuur en die bruid bederf deur haar naels en grimering te laat doen.
  • In Klerksdorp is 'n laerskooldogtertjie met 'n seldsame siekte wat veroorsaak dat sy haar hare verloor, gehelp deur die regte pruik vir haar te koop en haar touwys te maak in die gebruik daarvan. Haar selfvertroue blom sedertdien.
  • 'n Gesin wat hul karige besittings in 'n huisbrand verloor het, is deur die Stilfontein-tak gehelp om 'n yskas en sitkamermeubels te bekom. 'n Dogter van die plaaslike hoërskool is bygestaan nadat sy nie die bybetaling om 'n netbaltoer mee te maak, kon bekostig nie.

 

Fanie Buys

Streeksorganiseerder: Noordwes en Noord-Kaap

Solidariteit Helpende Hand

Tel: 082 645 0887

Faks: 086 580 6244

 

e-pos: fanieb@helpendehand.co.za

 

 

  • 46
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close