Algemeen -

Herinneringe aan jou verkoopte tweedehandse motor

Om sentimenteel te wees, is menslik, om geheg te raak aan nie-aardse dinge is onvermydelik, om lief te raak vir 'n motor is gevaarlik, maar die herinneringe wat oor die jare opbou en vermeerder

is onvergeetlik.

 

Die meeste van ons het al iewers in ons lewe 'n tweedehandse, of selfs 'n derde- of vierdehandse motor besit. Wanneer jy terugdink aan haar dan onthou jy eers die slegte tye, lank nadat die tweede huwelik se wittebrood verby is. Jy onthou hoe sy jou sleg behandel het en dan begin jy verstaan hoekom haar eerste huwelik nooit sou kon hou nie.

Die tipe motor wat jou weer met jou Skepper in gesprek laat tree, veral as daar 'n paar brandende liggies begin flikker. Jy praat mooi met haar en dan herinner jy haar aan die goeie tye wat julle saam beleef het. Dit is tye soos dié waar jy deur die ongelukkigheid van jou huidige omstandighede hard moet baklei dat die heimwee van gister nie totaal oorneem nie.

Die bogenoemde situasie is waar ek myself bevind het die afgelope paar maande. My motor het geleidelik haar ongelukkigheid teenoor my begin uitspreek en ek kon hoor dat sy nie meer die motor was wat ek leer ken het nie, sy was siek en het vir hulp gevra. Ek was stomgeslaan en het dadelik 'n plan gemaak om haar te help. Ek het al die nodige aandag aan haar gegee, haar vertroetel, haar rug gewas wanneer ek naweke tyd gehad het. Ons kon so lekker gesels oor die ou dae.

Ons kon gesels oor die eerste keer toe ek haar ontmoet het. Sy was nog redelik jonk, met slegs een skrapie, maar so ook is die lewe met die meeste van ons, skrape is onvermydelik. Ons het ontmoet nog voor ek getroud was en toe ek jou aan my verloofde voorstel was sy ook mal oor jou. Dit was 'n tyd toe ons nog bloedjonk was, ons het saam ons eie drome gedroom. Ons het gedroom oor die lang pad Kaap toe en die reguit paaie in die Karoo. Ons het gedroom oor laat nagte waar ons op jou bors sou lê en na die sterre loer. Jy was deel van die droom om langs die Weskus te ry terwyl die reuk van vars bokkoms in die lug hang en jy was ook daar toe ons dit 'n veilige realiteit kon maak.

Jy was daar deur die hartseer tye, toe my vrou haar Pa moes afstaan aan die dood, enkele weke voor ons troue. As getroue motor was jy daar toe ek my toekomstige skoonouers vroeër nog met 'n uitstappie na Hartbeespoortdam probeer beïndruk het, en toe ons die dag egte vis en tjips geëet het en jy die reuk daarvan moes weerstaan.

Ek onthou al die kamp avonture waar jy só vol gelaai was dat ons jou jammer gekry het en my vrou onseker was of ons jou nie dalk misbruik nie, maar ek het jou hart geken en ek weet dat jy nes ek kook lief is vir avontuur, nuwe paaie en draaie en ook net so opgewonde is om 'n olifant in Pilanesberg te sien, al was ons almal maar altyd skrikkerig. Ons weet jy sou ons probeer beskerm as ons te naby kom, maar ek sou nie daarvan gehou het om jou lewe so in gevaar te stel nie.

Jy was en sal nooit 'n bakkie wees nie, jy is veels te elegant en beterwetend as so 'n alledaagse verskynsel, maar ek weet jy het vele 4×4’s ore aangesit en jou plek in hulle kategorie verwerf. In die aande was jy ook naby die kampvuur en het jy saam met ons geluister na die leeus se gebrul. Die vuur was ons TV en dit was nie nodig vir woorde of vir die klank van jou radio of enjin nie. Ons was gelukkig, alleen in die stilte.

Jy was daar op die dag van ons troue en jy het seker gemaak dat my verloofde veilig by die venue aankom om haarself mooi te maak vir my  op die dag wat sy my vrou sou word. Die volgende dag is ons Kaap toe en jy was sekerlik net so opgewonde soos ons. Jy het nuwe tekkies aangehad en jy kon nie wag om die pad aan te durf soos 'n Comrades-atleet wat reeds maande lank daarvoor geoefen het nie. Jy het Rooi-Els saam met my geniet al was my vrou nie beïndruk met die hitte en ons nie jou lugreëling te veel wou gebruik nie, want om geld op 'n bottel wyn te spandeer was eerder die moeite werd as ekstra geld op brandstof.

Jy het ons ook op ons slegste gesien, wanneer ons kwaad raak in die verkeer en ons onvanpaste woorde gebruik het. Jy het die trane sien loop wanneer ons vassit met mekaar en die lewe ons onderstebo gegooi het. Jy was daar wanneer ek en jy alleen kliphard musiek gespeel het en ons net weer tyd nodig gehad het om in die oomblik te kon leef – net ek en jy.

Jy was daar toe ek en my vrou onderhoude moes oorleef, nuwe dinge moes aanpak, nuwe mense moes ontmoet en ook, toe ons agterkom dat dit nie noodwendig so erg is nie. Jy het met selfvertroue die dinge aangepak en ons het geweet dat ons op jou kon staatmaak.

Verlede jaar het jy skielik begin siek raak. Jy was nie jouself nie en dit was vir my hartseer dat jy, my pragtige motor, so siek kon wees. Ek wou jou vertroos en die werktuigkundige wat jou deur die tyd goed leer ken het, was vol vertroue dat ons jou gesond sal maak. Daarna het dit weer goed gegaan vir 'n ruk. Jy kon weer asem haal en jou gestel was goed, of so het ons gedink. Jy het Desember jou laaste avontuur beleef, waar jy dik modder moes trotseer terwyl ons moes sit en kyk wat die wind en weer aan 'n gazebo doen. Dit was 'n ongelooflike ervaring om saam met jou na voëls te kon soek en hoe jy stil genoeg kon staan om sodat ons 'n mooi foto van hulle kon neem.

'n Week gelede het ons langs 'n besige snelweg met jou gaan staan. Jy was koorsig, en ons kon sien en hoor dat jy op jou einde is. Ons het die ergste verwag. Jy was weer waar jy 'n paar maande gelede was en die uitslae het dié keer nie so belowend geklink nie.

Ons wou jou die vernedering en swaarkry spaar om jouself verder seer te maak. Ons het baie dinkwerk gehad om te doen en moes 'n besluit neem wat beide jou en ons sou affekteer. Dit was 'n swaar besluit om te neem, maar ons moes egter die besluit neem om jou te laat gaan. Ons kon vir jou 'n huis kry waar ons glo, hoop en vertrou dat jy goed versorg sal word. Ons is jammer daaroor en die skuldgevoel pla my vandag nog.

Jy was goed vir ons en ons sal jou altyd onthou. Jy was nog altyd 'n ongewone tweedehandse motor, maar in ons harte is jy splinternuut. Vaarwel, ons liewe Getz!

  •  
  •  
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close