Tyd vir 'n nuwe brief.

Geagte president Zuma,

 My oom se liggaam is gister in sy huis op sy plaas naby Alma, buite Warmbad, gevind. Sy hande was agter sy rug vasgebind. Sy liggaam was al so ver ontbind dat ons nog nie presies weet hoe hy vermoor is nie. Dit blyk dat hy nog gelewe het toe die moordenaars die huis verlaat het. Hy het dus vasgebind en alleen gesit en sterf.

 My oom is nou deel van statistiek. Hy het selfs 'n nommer, 1 647. Dit is volgens 'n lys van TLU-SA die aantal boere, waarvan hulle 'n rekord het, wat vermoor is. Die syfer is waarskynlik hoër.

Luister Radio Pretoria onderhoud. Lees Beeld hoofartikel.   

Wat my ontstel, is dat hy bloot 'n syfer in statistiek is. Hy is nou nommer 1 647, die syfer voor 1 648. Daar gaan nie skokgolwe deur die land oor nog 'n boer wat vermoor is nie. Hy word getel – dis al.

 Daar is iets in wese fout in 'n demokrasie as wrede moorde normaal begin raak.

 Ek het persoonlik aan u briewe oorhandig van tienduisende Suid-Afrikaners wat hulle kommer oor misdaad uitgespreek het. Die moorde gaan egter voort. Hierdie keer is dit my oom wat vermoor is, volgende keer is dit 'n ander Suid-Afrikaner se oom, broer, ma of suster.

Ek vra my steeds af hoe hoog misdaad werklik op die regering se agenda is. Is u werklik woedend oor die wrede moorde? Beleef u die pyn wat ons familie wat agterbly, beleef?

 Die regering se agenda word weergegee in u staatsrede. Ek doen 'n dringende beroep op u om wel in u staatsrede erkenning te gee aan die hartseer en pyn van families wat sonder hulle geliefdes na u gaan luister.

 Ek doen 'n beroep op u om die regering se erns oor misdaad aan ons oor te dra. Ek doen 'n beroep op u om die erns in aksie oor te sit.

Geweldsmisdaad is iets waarteen alle Suid-Afrikaners saam kan mobiliseer. Ons verwag egter van die president om die leiding teen die soort misdaad te neem.

Meneer Zuma, ek gaan met verwagting na u luister. Ons wil weet waar geweldsmisdaad op u agenda is. Daar is derduisende Suid-Afrikaners met seer wat wil hoor.

Met dank

Dr. Dirk Hermann

Adjunk- uitvoerende hoof: Solidariteit

Lees ook: ANC reageer skerp ná aanval op plaas.

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Dirk Hermann


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close