Algemeen -

Het jy geen opsies oor? Speel net die ‘transformasie’-kaart en wen!

Die woord “transformasie” het al tot so ’n mate inslag gevind in die Suid-Afrikaanse politieke leksikon dat dit heilige graal begin word het. Dit moet opsluit in sport, besighede, skole, universiteite, woonbuurte en soveel meer toegepas word om die ANC se droom van ’n Nasionaal Demokratiese Samelewing, wat op die Nasionaal Demokratiese Rewolusie volg, ’n realiteit te maak.

 

In ons politiek korrekte samelewing en tyd vra meeste mense ook nie wat hierdie transformasie behels of hoe dit bereik moet word nie, want dit is uit die staanspoor edel en reg want die ANC sê so. Dit moet nie met voorkeure en kwalifikasies oor die handhawing van standaarde, regverdigheid en bewerings oor groter skade voortspruitend uit transformasie, getemper word nie. Die doel heilig mos absoluut die middele. Diegene wat dit durf uitdaag, is outomaties anti-swart, anti-armes, verlang terug na wit bevoorregting, hulle is onprogressief en wil apartheid herinstel. Om teen transformasie te wees, is om teen die volk (waaraan die ANC homself gelyk ag) te wees en dis summiere hoogverraad. Om teen transformasie te wees, is om ongeregtigheid te steun. Punt. Geen verdere debat daaroor word geduld nie.

 

Die woord “transformasie” (voorafgegaan deur “radikale”) het drie keer in die ANC se 8 Januarie-verklaring vanjaar voorgekom en dit is duidelik dat die ANC dit vanjaar met oorgawe in alle sfere wil afdwing. Hiervan getuig onder meer stappe soos die nuwe Swart Ekonomiese Bemagtigingsooreenkoms by Vodacom. “The ANC must concentrate on radical economic transformation and ensure that the people become more prosperous. We must grow the economy, create jobs and return the land to our people!” roep die verklaring, wat deur die ANC se nasionale uitvoerende komitee uitgereik word, uit. En: “We must focus on radical economic transformation. The economy must be in the hands of the majority of the people.” Dis net jammer dat dit ook al meermale in vorige 8 Januarie-verklarings voorgekom het en die ANC nou steeds oor toekomstige transformasie praat, eerder as die vrugte wat dit al afgewerp het te bespreek. Duidelik het transformasie nie regtig gewerk nie.

 

Transformasiekaart = Rassiskaart

 

Die transformasiekaart het omtrent dieselfde status as die rassekaart (of eerder die rassis-kaart) verkry. Wanneer jy ook al onbevoeg is of nie jou sin kry nie, speel dan kwistig die rassis-kaart en kry sommer dadelik jou sin! Dis die wonderkuur van ons tyd. Dis presies wat ons onbekwame president en regering so lustig doen. Pres. Jacob Zuma het juis volgens BusinessLive by die ANC se onlangse lekgotla jeens die tesourie uitgevaar oor dit in die pad van transformasie staan. Pravin Gordhan, minister van finansies, en sy instelling wil glo nie finansiering bewillig vir sekere projekte (wat natuurlik nie genoem word nie) nie. Sy ministers kla glo knaend hulle het nie genoeg geld vir hul mandate nie.

 

Dis geen geheim dat hy en Gordhan, wat tans ’n kritieke bolwerk teen staatskaping by staatsbeheerde ondernemings en die plundering van die staatskas speel, nie om dieselfde vuur sit nie. Zuma soek waarskynlik nou ’n goeie rede om Gordhan vanjaar voor die ANC se Nasionale Konferensie in Desember met iemand anders te vervang. En watter beter rede as juis sy oënskynlike teenstand teen transformasie!

 

Gordhan voel nou hoe voel witmense (en toenemend mense van alle rasse, as Facebook-uitlatings ’n redelike aanduiding is) wat met die transformasiekaart geslaan word as hulle oor kwotas in sport kla. Of oor SEB wat die huidige bevoordeeldes net ryker maak ten koste van belastingbetalers en die armes? Jy is net ‘n rassis wat hunker na jou bevoorregte era! Of as hulle kla oor munisipaliteite en regeringsdepartemente wat feitlik leeg gesteel word onder die dekmantel van transformasie – en juis ware transformasie in die proses kelder. Hoe durf jy vra dat meriete by munisipaliteite en ander dele van die staat moet geld, jou rassis? Toe dr. Frans Cronje, hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, daardie heilige maatreël van transformasie, naamlik regstellende aksie, die skuld vir swart babas se sterftes weens besoedelde water (wat deur onbevoegde amptenare by die munisipaliteit veroorsaak is) gegee het, is hy terstond as ’n rassis wat gekant is teen transformasie uitgekryt. Vergeet maar daarvan dat swartmense weens hierdie soort transformasie gesterf en gely het.

 

Transformasie soek en straf vyande

 

Dit is duidelik dat transformasie so breed gedefinieer is dat enige kritiek jeens die ANC ook as’t ware as kritiek teen transformasie vertolk kan word. En in die ANC se idee van transformasie is daar altyd ’n sondebok en vyand: teenrewolusionêres, die media, wittes, Afrikaners, die Weste, die imperialiste en selfs bruines. Transformasie is in hierdie konteks by uitstek ’n antagonistiese begrip wat bestaande rykdom en bates deur staatsdwang wil wegneem van diegene wat daarvoor gewerk het en dit wettiglik besit en die hele ekonomie en algemene welstand van die land daarmee in die gedrang bring. Transformasie is nie ’n groeistrategie om meer welvaart en besit te skep nie, maar een wat wil straf en herverdeel en diegene met politieke mag oor en oor wil verryk.

 

Soos die ANC dit verstaan, is die opoffering van standaarde by die altaar van transformasie ’n edele strewe – ongeag hoeveel skade dit aanrig. Dis eenvoudig: Meer transformasie, meer vooruitgang! Dis net jammer dat transformasie se rekord dit nie weerspieël nie. Transformasie is onbillik, despoties en les bes, uiters ondoeltreffend om die verklaarde doelwit, naamlik om meer mense suksesvol en ryk te maak, te bereik. Transformasie is ‘n klug wat juis besig om als wat werk in Suid-Afrika na rommelstatus te transformeer.

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close