Algemeen -

Het niemand meer standaarde nie?

Moody’s het Suid-Afrika nie weer afgegradeer nie! Kan julle glo? Hulle het hul vooruitskatting van negatief na stabiel verander! Skiet die sjampanjeproppe!

Dit is min of meer die reaksie van baie kommentators nadat die kredietgradeerder verlede week sy besluit bekend gemaak het. En dit is 'n simpel reaksie wat van vals positiwiteit getuig. Wat die toekoms betref, is daar beslis baie om oor positief te wees, maar wat Moody’s se besluit betref, is daar eerder veel meer om te betreur as om te vier.

Net so het die Suid-Afrikaanse ekonomie nou nog nie herstel tot die reeds patetiese vlakke van voor die pandemie nie. Maar elke keer as ekonomiese groeisyfers uitgereik word, juig party ekonome en ander kommentators. Ons groei! Groei wat kleiner is as die vorige jaar se inkrimping kan egter nie groei genoem word nie. Dit is herstel. En ook nie eers nie, want tot die herstel groter as die inkrimping is, is dit eintlik niks om van te praat nie.

Dit is deesdae hoe dit maar oral gaan. Ons weet sommer vooraf dat die personeel by party winkels onwillig gaan wees om jou te help en dat dit 'n gesukkel sal wees. En as iemand vriendelik en behulpsaam is, is ons bly daaroor. Eintlik behoort alle kelners en winkelpersoneel vriendelik en behulpsaam te wees. Dis eintlik maar die minimum standaard. Ons is deesdae bly oor minder as die minimum, en daar is geen goeie rede daarvoor nie.

Maar 'n mens kan seker nie veel meer verwag van 'n land waar dit moontlik is om matriek deur te kom met 'n gemiddeld van net oor die 30% nie. Dieselfde geld vir 'n wêreld waar mense “dapper” is as hulle foto’s sonder filters en grimering op sosiale media sit. Hoe is 'n mens dapper as jy lyk soos wat jy lyk? Deur die standaarde te verlaag, raak dit al makliker om tevrede te wees met swak uitkomste. Dit is selfs al moontlik vir politieke partye om veldtogte te voer met die boodskap dat munisipaliteite onder hul beheer hul werk sal doen. Niks besonders nie, net hulle werk. Ons behoort daarop aan te dring dat alle munisipaliteite hul werk doen, en 'n party wat beloof om net dit te doen, behoort niks besonders te wees nie.

Suid-Afrika het die vermoë om binne 'n dekade een van die groot rolspelers in die wêreldekonomie te word. Al wat nodig is, is vir elkeen van ons om weer sinvolle standaarde vir onsself en ons medemens te hê en daarop aan te dring.

 

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close