Algemeen, Nuus, Politiek -

Hierdie week in die nuus: Arrogansie oral!

Ons almal ken daardie effense moedelose gevoel wat mens kry sodra jy jou neus in die nuus druk.  Met my Hierdie Week in die Nuus poog ek om jou moedeloosheid te verander in 'n (mismoedige) glimlag.

Iets wat na my mening heeltemal te min aandag in die nuus vandeesweek ontvang het, is Supra Muhamapelo se bloulig-skandes in Botswana. Noordwes se premier het met sy bloulig-brigade die president van Botswana van die pad af gedwing – en dit in Botswana. Boonop het hy agterna gesê dat dit eerder 'n derde mag is wat besig is om hierdie stories te versprei as wat dit werklik 'n fout aan sy kant was. Trouens, hy ontken dat so 'n voorval enigsins plaas-gevind het. As 'n mens sou dink dat soveel arrogansie die beste onderwerp vir my weeklikse tirade is om oor te skryf, sou jy reg wees – tensy iemand anders natuurlik selfs méér arrogant kon wees in dieselfde week.

Die Valke het bevestig dat hulle iemand ondersoek, terwyl die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) bevestig het dat dit Jacques Pauw is. Wat veral interessant is in hierdie verband, is dat Zuma gisteroggend gesê het dat Suid-Afrika groter probleme het as 'n boek. Werklik, Meneer die President? Wie of wat het u uiteindelik na die werklikheid toe teruggeruk?

Zuma is natuurlik uit verskeie oorde aangeval oor die openbarings wat in Pauw se boek gemaak word. Mmusi Maimane het hom verlede week in die parlementreeds gevra of hy sy belange sal openbaar, waarop die president geantwoord het dat hy nie daar is om vrae oor boeke te beantwoord nie. Hierdie week het Jacques Julius, ook 'n DA-LP, die president voor stok probeer kry oor die inligting wat in hierdie boek vervat is. Die president is ook uitgedaag om sy belastingopgawes bekend te maak. Dit herinner 'n mens 'n bietjie aan die groot belastingopgawestryd wat steeds teen president Trump woed, met een verskil – as Trump moontlik belasting ontduik het, was dit voordat hy president geword het. Ons president doen dit sommer so terwyl hy die ampsdraer is.

Dit voel soos 'n klap in my gesig.

Dit is egter nie waar die arrogansie stop nie. Erger belaglikhede word darem nog buite Suid-Afrika se grense aangetref. Hierdie week het president Mugabe van Zimbabwe 'n kabinetskommeling so na sy buurpresident se hart uitgevoer. Hy het sy regterhand, Emmerson Mnagagwa, afgedank. Dit lyk al meer asof hy die weg baan vir sy vrou, Grace, om hom op te volg. Ek probeer nou dink in watter ander land daar ook 'n president is wat die weg probeer baan vir sy vrou …

Maar van selfs groter belang is dat 'n lughawe uiteindelik na president Mugabe vernoem is. Tydens 'n seremonie, wat ongeveer $200 000 gekos het, is die herbenaming van die Harare Internasionale Lughawe na die Robert Gabriel Mugabe Internasionale Lughawe gevier. Die hele herbenamingsprojek het ongeveer $500 000 gekos. Ek is seker dit is sommer kleingeld in 'n land wat in hongersnood gedompel is.

Tydens hierdie seremonie het die Zimbabwiese minister van vervoer sy president bedank vir sy “sterling work” in die lugvaartbedryf. As ek na die stand van sake by Air Zimbabwe kyk, wonder ek waarvan hy praat. Die Harare Stadsraad se bestuurder vir openbare betrekkinge het gesê hy hoop hierdie herbenaming van die lughawe beleggers na die land toe sal lok. Nou wonder ek sommer wie presies hy meen in hierdie lughawe sal belê? Dit is nie asof dit minder onsuksesvol gaan wees nie; dit gaan net onsuksesvol onder 'n ander naam wees, of dink hy miskien die pawiljoen wat vir BBBP’s (ja, dit is wat jy dink, liewe leser: Baie, Baie Belangrike Persone) gebou gaan word, gaan die beleggers trek?

Die gevolgtrekking waartoe ek die week kom, is dat wanneer dit sleg gaan in Suid-Afrika en hier nie iets is om oor te glimlag nie, ons gerus maar na ons buurlande se kant toe kan kyk. Dit is so vermaaklik soos 'n sirkus.

  •  
  •  
  •  
Deur Estella Boshoff


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close