Algemeen, Nuus, Politiek -

Hierdie week in die nuus: Babelse verwarring

In die lig van die tempo waarteen politieke skuiwe soms in Suid-Afrika plaasvind, moet ek hierdie blog begin met 'n vrywaring: ten tyde van die skryf hiervan was president Zuma nog nie voormalige president Zuma nie. Of dit steeds so sal wees wanneer die blog gepubliseer word, kan ek ongelukkig nie waarborg nie.

Om die waarheid te sê, niemand kan nie. Ek het selfs ANN7 se nuus gekyk (ek het gedink as iemand weet hoe dinge met die president gesteld is, sal dit seker ANN7 wees) en net mooi niks te wete te kom nie. Die verslaggewer was darem gebalanseerd en het al twee kante van die verhaal vertel. Die een kant is dat Zuma eintlik al by die deur uit is maar dat Ramaphosa darem nou nie sy kantoorinhoud in bokse van die balkon sal begin afgooi terwyl Zuma staan en smeek vir nog 'n kans en beloftes maak om te verander nie. Die anderkant is dat alles dooddollies is en dat die skielike koukusvergadering net gereël was om mekaar gou te groet. In Ace Magashule se (vry vertaalde) woorde: “Dit was net om hallo te sê, hoe gaan dit met jou? Werk hard en kom ons verenig en bring vertroue vir die samelewing oor die algemeen sowel as vir die ANC.”

Dit voel vir my hoogs onwaarskynlik dat dit die rede vir die vergadering was. Maar ons sal nie weet nie, want joernaliste weet nie en ons kan in die meeste gevalle maar net dit weet wat joernaliste aan ons vertel – wat nie noodwendig alles is wat hulle weet nie. Dink net as daar 'n meer direkte manier as deur joernaliste was om met die burgers van jou land te kommunikeer, as daar iets was wat jou toelaat om inligting die hele wêreld in te stuur, heeltemal sonder die hulp van mediahuise. Dink net aan – Twitter!

Ek weet daar is mense wat wens hul president wil ophou twiet (ek dink hier aan 'n baie spesifieke groep mense), maar ek wil vir hulle sê dat selfs die woord “covfefe” vanaf 'n presidensiële Twitter-rekening beter is as niks. Minstens weet jy dan nog wie die president is. Ek kan dit egter met 'n meer plaaslike voorbeeld illustreer: Ons eie minister Razzmatazz, Fikile Mbalula, raak skitterende juweeltjies (wat slegs terugstaan vir uitrustings) kwyt op Twitter. Hy het byvoorbeeld onlangs sy Twitternaam vanaf “Minister of Police” verander na “Min of Police: Mr Fearf***ol” (hy gebruik natuurlik nie sterretjies nie). 'n Ander juweeltjie wat hy die afgelope Maandagoggend geplaas het (en ek tik dit netso oor) is: “GOOD MORNING South Africa My sincerest condolences to those who are bhabhalased.” Dit is nie baie ministerieel nie. Miskien irriteer sy twiets jou; miskien vermaak dit jou; miskien wens jy hy wou minder twiet en meer werk – maar die feit bly staan: Ons gaan weet as sy posbeskrywing verander. Ons het immers dadelik geweet toe hy aangestel is as minister van polisie.

Intussen – tot ons 'n president het wat ons op hoogte hou van sy beplande of onbeplande loopbaanskuiwe – is ons oorgelewer aan gerugte, spekulasie en opsetlike onduidelike stellings wat deur politici gemaak word.

  •  
  •  
  •  
  •  
Estella Boshoff Deur Estella Boshoff


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close