Algemeen, Nuus, Politiek -

Hierdie Week in die Nuus: Die Verlede Verdwyn Nie

Ons almal ken daardie effense moedelose gevoel wat mens kry sodra jy jou neus in die nuus druk.  Met my Hierdie Week in die Nuus poog ek om jou moedeloosheid te verander in 'n (mismoedige) glimlag.

Katherine Porter, 'n Amerikaanse joernalis en kortverhaalskrywer, het op 'n keer gesê dat die verlede nooit daar is waar jy gedink het jy dit gelos het nie.  As die agbare besluitnemers by die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco) hierdie aanhaling geken het, hoop ek dat dit hul gevoel op Erfenisdag sou opsom.  Selfs tussen die Braaidag-vure en biere deur was dit moeilik om die nuus te mis dat ons hoë kommissaris in die Verenigde Koninkryk (VK), Obed Mlaba, teruggeroep is Suid-Afrika toe. Nie omdat hierdie mens (dis nou ék, en miskien jy ook) so verbaas was nie, maar meer omdat ek (en jy ook moontlik) steeds nie seker is hoe Dirco in die eerste plek besluit het Mlaba is geskik nie.

Kyk, dit is nie dat ek nie in tweede kanse glo nie – dit voel net vir my dat mens nie beloon moet word wanneer jy droogmaak nie. Dit mag wees omdat my ouers my so groot gemaak het, maar in my verwysingsraamwerk kry kinders wat jok minstens raas, soms pakslae, maar ieder geval nooit 'n roomys nie. Daarom sou ek dink dat iemand wat uitgevang is vir tenderbedrog van R3 miljard nie bevorder word van burgemeester van eThekwini na hoë kommissaris in die VK nie.

In 2010 het die ouditeur-generaal reeds in 'n bestuursverslag gesê dat familie van Mlaba en nog 'n senior stadsamptenaar drie tenders van eThekwini ontvang het. Dié tenders het opgetel na R88,31 miljoen en volgens mediaberigte is twee uit die drie tenders aan sy dogter toegeken. Dit is nou vir jou 'n pappa wat sy dogter bederf. Kort daarna is hy daarvan beskuldig dat hy onregmatig 'n tendertoekenning van R3 miljard beïnvloed het.

Om balans te herstel, sal ek wel vir Mlaba sê dat hy en sy gesin besondere kreatiwiteit aan die dag lê in hul geldstelery.  In 2008 het eThekwini drie maatskappye op die kortlys gehad vir 'n projek om die gemors by 'n stortingsterrein in energie om te sit.  Die gunsteling maatskappy was Environmental Waste Solutions (wat besigheid doen as EWS).  Kort voor die besluit gemaak is, het Mlaba se dogters en nog 'n persoon (ene meneer Boshoff, kan jy glo?) 'n maatskappy geregistreer met die naam Our Environmental Waste Solutions (wat ook besigheid doen as EWS).  Volgens 'n mediaberig het Boshoff homself voorgedoen as direkteur van EWS en vermeld dat die vorige direkteur, waarmee eThekwini tot dusver gewerk het, afgedank is. Op die manier het Our EWS die tender gekaap. Hulle is egter betyds uitgevang en die stad het geen verlies gely nie. As gevolg hiervan het eThekwini later beweer dat hulle ook nie vir Mlaba verder sal vervolg nie.

Kort na sy termyn as burgemeester verstryk het, is hy aangestel as die hoë kommissaris in die VK. Daar het hy die briefhoof van die Ambassade gebruik om beleggers vir persoonlike besigheidsaktiwiteite te nader. Hy het dit blykbaar ook reggekry aangesien hy nie sekuriteitsklaring kon kry nie omdat hy groot bedrae geld in sy bankrekening nie kon verduidelik nie. Mens sou dink dat iemand met soveel vernuftigheid, verduidelikings gereed sou hê – hierdie tipe oneerlikheid is immers nie iets wat jou onkant vang nie. Dit is nie soos om per ongeluk 'n glas te laat val nie, dit is meer soos om klippe op te tel en die huis se vensters te begin uitgooi.

Dit is belangrik om in gedagte te hou dat 'n verlede nie iets is wat 'n mens iewers los nie – veral nie as mens dieselfde skelmstreke herhaal nie. Dit sal goed wees as Dirco besef dat 'n jakkals miskien verander van haar, maar nie van snaar.

  •  
  •  
  •  
  •  
Estella Boshoff Deur Estella Boshoff


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close