Algemeen, Nuus -

Hierdie Week in die Nuus: DisGrace en gesin in SA

Ons almal ken daardie effense moedelose gevoel wat 'n mens kry sodra jy jou neus in die nuus druk.  Met my Hierdie Week in die Nuus poog ek om jou moedeloosheid te verander in 'n (mismoedige) glimlag.

Die media het hierdie week 'n fees gehad met Grace en Robert Mugabe.  Die presidentspaar kry dit maar net nie reg om weens positiewe redes die nuus te haal nie.  President Mugabe het in 'n toespraak aangedui dat die moordenaars van wit kommersiële boere in Zimbabwe nie vervolg sal word nie.  Na sy mening is daar geen rede dat hulle gearresteer moet word nie.  Ek kan nie help om hier aan Animal Farm te dink nie – “All animals are equal, but some animals are more equal than others.”  Hy het verder gesê dat geen geregtelike besluit in die pad sal staan van die manier wat hulle toegepas het om grond te bekom nie.  Die kort weergawe van president Mugabe se toesprake is min of meer dieselfde as die slagspreuk van die taxibestuurders wat hierdie week in Pretoria gestaak het: #EnforcementMustFall.

Intussen haal die lang arm van die Suid-Afrikaanse gereg die res van die Mugabe-gesin van agter af in.  Robert Jnr. en Chatunga is in Junie uit hul woonstel in Sandton gesit nadat daar byna daagliks klagtes teen hulle gelê is as gevolg van hul partytjie-gewoontes.  Moederhen, Grace, moes hulle te hulp snel om weer blyplek in Suid-Afrika te kry.  Sy het daarna haar seuns se gedrag as mischievous” beskryf en gesê dat demone hulle verlei om dwelms te gebruik, te veel te drink en ander “abnormale dinge, ver bo hul ouderdom” te doen.  'n Mens moet haar minstens gedeeltelik gelyk gee – in ag genome wie hul pa is.  Daarmee wil ek nie sê die agbare President is 'n demoon nie – maar ons moet in ag neem dat hierdie seuns se pa moord aanmoedig en goedkeur.  Ek sou moontlik ook 'n biertjie of 20 (daagliks) nodig gehad het.

Die junior Mugabe’s se blyplek-krisis is minstens uitgesorteer.  Hoe weet ons dit?  Wel, Moederhen kon die afgelope week 'n 20-jarige model aanrand in haar seuns se blyplek:  'n hotelkamer wat meer as R42 000 per maand kos.  Gelukkig was minister Razzmetazz gereed met 'n tweet oor die saak en Suid-Afrika is gerus gestel dat mevrou Mugabe haarself oorgegee het aan die polisie en dieselfde dag nog in die landdroshof sou verskyn.  Ongelukkig vir die minister het joernaliste ook Twitter en het ons kort daarna geweet dat Grace nie haarself oorgegee het nie en ook nie by die hof opgedaag het nie.  'n Nag se bespiegeling oor of Grace nog in Suid-Afrika is, het gevolg, toe 'n aansoek vir diplomatieke immuniteit en toe 'n hele rits belangrikes wat elkeen hul mening uitspreek oor of Grace arresteer moet word of nie.  Minister Razz bevestig daarna dat die grensposte beslis nie vir Grace sal laat wegkom nie (sy polisie sal daarvoor sorg), terwyl minister Maite Nkoana-Mashabane verkies om so min as moontlik hieroor te sê.  'n Mens sou dink dat die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking iets te sê sal hê as 'n buurland se presidentsvrou 'n burger aanrand – 'n mens sou egter verkeerd wees om so te dink.  Al wat uit hierdie hoek gehoor is, is dat die departement sal kyk wat hulle kan doen sodat Grace kan terugkeer na Zimbabwe sonder om aangekla te word – ten spyte daarvan dat hulle bevestig het dat sy nie vir diplomatieke immuniteit kwalifiseer nie.

Gelukkig, net soos wat mamma Grace in Junie haar kuikens uit 'n krisis kom help het, het pappa President byna dadelik sy wit perd opgesaal om sy prinses te kom red.  Suid-Afrikaners kan maar net duimvashou dat minister Razz en die Nasionale Vervolgingsgesag dorings, drake en monsters in president Mugabe se pad sal wees.

  •  
  •  
  •  
Deur Estella Boshoff


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close