Algemeen, Nuus -

Hierdie Week in die Nuus: Dudu Myeni

Ons almal ken daardie effense moedelose gevoel wat mens kry sodra jy jou neus in die nuus druk. Met my Hierdie Week in die Nuus poog ek om jou moedeloosheid te verander in 'n (mismoedige) glimlag.

 

Ons arm(e) nasionale lugredery kom maar net nie uit die finansiële moeilikheid nie. Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het 'n onstuimige paar jaar agter die rug waar hulle sewe waarnemende of permanente aanstellings in die posisie van hoofuitvoerende beampte tussen 2011 en 2015 aangestel het. Die eerste permanente aanstelling in die posisie was in Augustus gemaak. Een posisie was egter 'n gegewe, ongeag hoe erg die turbulensie binne die maatskappy was – Dudu Myeni as voorsitster van SAL. Myeni het in 2009 by die raad aangesluit en staan sedert 2012 aan die hoof daarvan.

 

Dudu Myeni, 'n voormalige onderwyseres, doen baie dinge anders as die res van ons. Met anders bedoel ek natuurlik oneties, oneerlik en onderduims. Ons eerste leidraad tot haar oneerlikheid was toe sy in die Algemene Jaarverslag van SAL 'n Baccalaureus-graad in Administrasie as deel van haar kwalifikasies gelys het. Sy het later verduidelik dat sy nie eintlik die kwalifikasie het nie, maar dat sy besig is om aan dit te werk. Kan jy indink wat die gevolge sal wees indien dieselfde standaard gebruik word om loodse aan te stel? “Good morning, ladies and gentlemen and welcome aboard this SAA flight to Beijing. I am John Doe and although SAA believes that I completed my training hours, I am working towards it. Please sit back and enjoy the flight.” Stel jouself voor. Selfs as ons al die ander leidrade gemis het, het Andile Mngxitama dit bevestig die keer toe hy haar geluk gewens het dat sy SAL gered het van wit korrupsie. Hy het verder ook uitgebrei dat dit net die DA (in sy woorde die ‘house niggers’) en die ‘vilifying media’ is, wat nie sal erken hoe fantasties sy is nie.

Getrou aan Dudu se oorspronklike beroep, leer sy ons darem 'n paar lesse – volgens haar lewenswyse die regte lesse. Haal julle notaboeke uit,  skryf die datum links bo en laat die klas begin.

  1. Hoe om vriende te kies:

Kies vriende wat jou vermoëns oorskat, wat nooit iets leliks van jou glo nie, wat jou kant sal kies, selfs onder slegte omstandighede. Kies president Jacob Zuma. Hy sal jou aanstel in 'n posisie waarvoor jy nie geskik is nie, weier om te glo dat jy droogmaak in daardie posisie en wanneer dit nie meer ontken kan word dat dit sleg gaan nie, steeds 'n ander sondebok kry om te blameer vir die probleme.

  1. Wanneer om verantwoordelikheid te neem:

Die sleutelwoord hier is ‘nóóit’. Maak die maatskappy 'n verlies? Dan blameer jy buitelanders. In die vorige sessie wat SAL met die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge gehad het, het Dudu bykans alles wat fout is op kontrakte blameer wat onder die vorige regering gesluit is en ook op besluite wat deur 'n Amerikaanse hoofuitvoerende beampte van SAL, wat in 2001 bedank het, geneem is. Sy het versuim om te noem dat SAL in die 2015/16 finansiële jaar R6,7 miljoen aan boetes moes betaal omdat passasiers toegelaat is om te vlieg sonder die nodige visumdokumentasie. Teen Julie vanjaar het SAL 'n verlies van R12 miljoen per dag gely. (Skryf neer, lesers, selfs dán soek mens nie die fout by jouself nie.)

  1. Hoe hanteer mens konflik:

Glad nie. Jy maak seker dat bogenoemde vriende wat jy gekies het jou maatskappy na 'n ander ministerie skuif. Sukkel jy om saam met Lynne Brown te werk? Sorg dan dat die ministerie wat oor jou toesig hou verander van Openbare Werke na die Tesourie. Sukkel jy om saam met die minister van finansies te werk? Moenie vrees nie, jou vriend het die mag om hom te skors.

  1. Hoe om die nuus te haal:

Sorg dat jou kontrak onwettig hernu word.

Een ding kan ons wel vir Dudu gee – sy is, soos 'n goeie kaptein, selfs terwyl die vliegtuig val, nie besig om haar valskerm voor te berei om uit te spring nie. Dit sal gaaf wees as die parlement haar nou asseblief afgooi – dooiegewig is nie goed vir 'n vliegtuig wat val nie.

  •  
  •  
  •  
Deur Estella Boshoff


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close