Algemeen, Nuus, Politiek -

Hierdie week in die Nuus: Jacob en trawante

Ek het al dikwels gewens ek kon net vir een week iemand anders wees. Die gras lyk maar altyd groener aan die ander kant van die draad. Maar hierdie week was ek so bly ek is net gewone ou ek. Om te wens ek was iemand anders was 'n té groot kans om te vat! Mens kon immers oudpresident Zuma of sy seun, Duduzani, gewees het. Of erger nog – een van die Gupta-broers. Zuma moes immers weet hy gaan een of ander tyd nie meer die president van Suid-Afrika wees nie, maar ek dink nie die Guptas het voorsien dat hul ryk rondom hulle gaan inplof nie.

Oudpresident Zuma het miskien sy werk verloor, maar darem op heelwat minder skouspelagtige manier as wat die Gupta-broers tans hul houvas op Suid-Afrika verloor. Cyril, of sal ek eerder sê president Cyril, het darem saam met hom 'n koppie koffie gedrink en hom daarop voorberei. Alhoewel dit beslis nie 'n vriendskaplike gesprek sou wees nie – en ek twyfel of die een president koeksisters vir die ander sou aanbied – was dit ongetwyfeld beter as die Valke-verrassing wat die Gupta-broers in Saxonwold gekry het. Tegnies het hulle dit natuurlik nie ontvang nie aangesien hulle nie daar was nie. Die een het skynbaar gevlug en die ander was nie daar nie. Van die derde broer, Tony, word weinig vermeld. Ajay en Atul word albei tans deur die Valke gesoek, terwyl sommige lede van hul netwerk reeds vandeesweek in 'n Bloemfonteinse landdroshof verskyn het.

Dit is meer as wat ons van onse Jacob kan sê. Inteendeel, volgens Jesse Duarte is onse Jacob 'n “principled” lid van die ANC. As dit waar is, huil ek in my hande oor die ANC en sy beginsels. Ek hoop dat dieselfde mens wat tot Zuma kon deurdring om hom te laat bedank, 'n afspraak met Duarte sal maak en aan haar verduidelik dat blinde lojaliteit en korrupte staatspresidente nie 'n goeie kombinasie is nie. Ek moet egter byvoeg dat haar blinde lojaliteit miskien 'n beter opsie is as Fikile Mbalula en Malusi Gigaba se manteldraaiery. As mens nou op hul beurt na daardie twee ministers kyk, wil dit ampertjies voorkom asof hulle nie daar is ter wille van Suid-Afrikaners nie, maar eerder ter wille van hul eie begeerte na mooi klere, duur motors en aandag.

Om egter na die Guptas terug te keer, is Ajay Gupta skynbaar aan ’t vlug, omring deur 'n handjievol gewapende lyfwagte. Ek wonder egter in alle erns waarnatoe hy kan vlug met dié dat Zuma die presidentswoning moes ontruim.Ajay moet miskien maar 'n suurstoftenk aanskaf en vir 'n rukkie op die bodem van Nkandla se brandpoel gaan wegkruip. Ek skat dit sal weer 'n rukkie vir die mevroue Zuma neem om iemand daar te onthaal, so ek glo hy sal veilig wees daar. Sy ander opsie is om in dieselfde kas as Zuma se geraamtes te gaan wegkruip. Teen die tempo wat Zuma se geraamtes ondersoek word, sal Ajay eendag self as 'n geraamte daar gevind word.

Een ding kan mens minstens van die Guptas sê – hulle het die deel in Spreuke verstaan waarin daar verduidelik word dat nog 'n bietjie slaap en nog 'n bietjie sluimer mens in die moeilikheid laat beland. Daarom was al wat die Valke in die Gupta-kasteel kon vind 'n warm bed. Ek dink egter hulle gaan sukkel om die armoede waarna die vers net daarna verwys en wat mens soos 'n rower in die nag oorval, vry te spring.

 

  • 43
  •  
  •  
  •  
Estella Boshoff Deur Estella Boshoff


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close